Koop ’n kaartjie vir Rozell

Geld nodig vir dringende operasie
Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Gerhard Supra maak 'n draai in Namibië om onder meer te help om geld vir 'n vyfjarige vegtertjie van die Suide in te samel.
Henriette Lamprecht
’n Meisie van Aranos wat dringend verskeie operasies moet kry om soos ander van haar ouderdom te kan rondhardloop, sal uiteindelik einde Augustus deur ’n professor uit Suid-Afrika gehelp kan word.

Vandat die vyfjarige Rozell van Zyl op die ouderdom van sewe maande in die sorg van Leonora en haar man Yeoman se pleegsorg geplaas is, is daar geen teken meer van die babameisie wat in ’n stadium weens verwaarlosing en honger slegs ’n week gegee is om te oorleef nie.

Leonora vertel hul “engelkind” kan net sekere woorde praat, loop omtrent so 15 meter op ’n slag op haar eie en beweeg dan verder op haar boudjies. Sy dra ook nog doek omdat sy nie kan sê of verduidelik as sy toilet toe wil gaan nie.

Volgens haar ma moet sy breinterapie kry sodat sy kan leer om te praat en “sodat ons kan sien wat sy alles verstaan”.

Rozell moet einde Augustus, begin September haar operasies kry, maar volgens Leonora is hulle nog nie heeltemal seker wat dit alles sal behels nie.

“Prof. du Toit kom eers begin Augustus Windhoek toe om haar te ondersoek en na die X-strale te kyk.”

Na afloop van die operasie sal Rozell fisioterapie en nasorg nodig hê en om dié koste te dek, het ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar ingestem om ’n Namibiese toer te onderneem om geld in te samel. ’n Hospitaalplan sal die verwante koste dek.

Gerhard Supra wie se genres wissel van country tot rock, maak in Augustus sy Namibiese buiging en tree van Aranos, Mariental, Gobabis en Windhoek tot op Langstrand op.

Sy toerprogram lyk soos volg:

12 Augustus: Aranos – BV Saal;

13 Augustus: Mariental – Gholfklub;

17 Augustus: Gobabis – Die Dam;

19 Augustus: Windhoek - Haven Zoological Park;

20 Augustus: Langstrand - Erik's Cove.

Kaartjies kos N$150 vir volwassenes, N$75 vir hoërskool- en N$50 vir laerskoolleerlinge. Vir dié wat vroeg spring, is beperkte kaartjies tot 15 Julie teen N$120 vir volwassenes beskikbaar. Kaartjies is by Webtickets en by Pick a Pay-winkels landswyd beskikbaar of kontak Leonora by 081 845 8701.

“Ons het soveel borge om te bedank wat ons met die toer gaan help. Ons kort nog ’n borg of twee vir brandstof. Ons is ook in die proses om vir ’n bussie te onderhandel, sodat ons almal met een voertuig kan ry om die brandstofkoste so laag as moontlik te hou.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!