Leerlingdokters by ‘breekpunt’

Toelaag verminder tot N$2 200 per maand
Die feit dat hulle in weerwil van dreigemente van hul mediese beamptes aan 'n protesoptog teen emosionele en sielkundige mishandeling deelgeneem het, wys hoe keelvol leerlingdokters is.
Rita Kakelo
Eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila en die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het tot Maandag om te reageer op die ultimatum van leerlingdokters wat “breekpunt” bereik het.

Sou Kuugongelwa-Amadhila en die gesondheidsministerie nie hul griewe aanspreek nie, gaan dié leerlingdokters hul regte kragtens die arbeidswet afdwing deur hul werksure tot agt uur per dag en 40 uur per week te beperk. Hulle gaan ook nie na-ure werk nie.

Die griewe sluit in ongesonde en onhigiëniese werksomstandighede, onbetaalde oortyd, drastiese salarisverlagings, asook onvoldoende beleidsrigtings wat arbeidswette oortree.

Die groep gegriefde leerlingdokters het Dinsdag ná afloop van ’n vreedsame optog ’n klagskrif aan die kantoor van die eerste minister oorhandig. Dis nie die eerste keer dat die leerlingdokters teen die ministerie opgetree het nie. In Desember 2021 het meer as 70 ontevrede leerlingdokters ’n dispuut by die kantoor van die arbeidskommissaris aanhangig gemaak.

In November verlede jaar het die arbeidskommissaris, Kyllikki Sihlahla, ’n arbitrasie in hul guns beslis. Sihlahla het toegegee dat professionele mediese leerlingdokters as werknemers beskou word.

In die klagskrif wat deur dr. Linford Rhodes namens die groep aan die adjunk- uitvoerende direkteur in die kantoor van die eerste minister, Romanus Kawana, oorhandig is, staan dat die gesondheidsministerie se verweer is dat leerlingdokters nie op oortydbetaling geregtig is nie.

Die rede hiervoor is dat hulle nie as werknemers van die regering geklassifiseer word nie.

“Ná die uitspraak het die ministerie toegegee en gekies om nie die besluit uit te daag nie omdat dit bevestig dat professionele mediese leerlingdokters op oortydvergoeding geregtig is,” het Rhodes gesê.

Kawana het tydens die oorhandiging van die klagskrif gesê hy is bloot die boodskapper en het die versekering gegee dat dit aan die betrokke partye oorhandig sal word.

“Ons het die klagskrif ontvang. In hierdie stadium kan ons net bevestig dat dit aan die nodige partye oorhandig sal word en dat ons so gou as moontlik daarop sal reageer,” het hy gesê.

Volgens die bepalings van die Raad vir Gesondheidsberoepe in Namibië (HPCNA) moet die internskap vir mediese studente ‘n minimum van twee tot drie jaar duur, met verlenings wat beskikbaar is, sou die opleiding nie binne drie jaar voltooi word nie.

Rhodes sê leerlingdokters se maandelikse toelaag het drasties van N$28 165.34 tot N$2 244 gedaal, sonder dat enige nuwe kontrakte onderteken is.

“Derdejaarstudente moet egter steeds dieselfde ure werk en dieselfde pligte verrig,” het hy gesê.

Die leerlingdokters dring ook aan op die erkenning van HPCNA-standaarde tydens professionele opleiding en om onbetaalde oortyd te voorkom. Hulle vra ook vir die implementering van duidelike, regverdige beleidsrigtings wat in pas is met die arbeidswet, personeelreëls vir staatsdienswerkers (PSSR) en HPCNA-riglyne wat regverdige vergoeding vir almal verseker.

Klem word gelê op die belangrikheid daarvan om die kritieke rol wat leerlingdokters speel in die verskaffings van gesondheidsorg te erken. ’n Beroep word gedoen vir die voorsiening van die nodige hulpbronne en voorwaardes om hul werk te kan doen.

Vir derdejaarstudente dring die groep aan op deursigtige prosesse vir regverdige toelaes, asook duidelikheid oor beleidsrigtings wat hulle raak.

Laastens doen hulle voorspraak vir toegang tot mediese fondse en die versekering dat leerlingdokters se behoefte vir privaatheid en vertroulikheid veral in hoërisiko-gesondheidsorgomgewings gerespekteer word.

’n Ma wat by die groep aangesluit het ter ondersteuning van haar twee kinders wat leerlingdokters is, sê die mishandeling en stres wat haar kinders ervaar deur mediese beamptes by die Katutura- en Windhoek Sentrale Hospitaal, het ’n beduidende impak op hul gesinsdinamika.

Uit vrees dat haar of haar kinders se identiteit hul vermoë sal beïnvloed om hul leerlingskap te voltooi, het sy verkies om anoniem te bly.

“Ek het albei my kinders se fooie sonder studentehulp van die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) gefinansier,” het sy gesê.

“My kinders bestee min tyd by die huis en wanneer hulle dit doen, is hulle selfs te moeg om te eet. As gevolg hiervan het hulle gewig verloor. My dogter moes ’n breek van ses maande neem en het eers vanjaar weer aangegaan.

“Hierdie mense teister ons kinders wat regtig hard werk, terwyl ons as ouers so baie geld en hulpbronne in hulle belê. Dit moet verander.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!