Rosh Pinah se inwoners en mynwerkers word moontlik aan loodpartikels blootgestel. Foto argief
Rosh Pinah se inwoners en mynwerkers word moontlik aan loodpartikels blootgestel. Foto argief

Loodkrisis broei op Rosh Pinah

Mynwerkers in ’n moeilike posisie
Daar is bewerings dat mediese toetsuitslae toegesmeer word nadat hoë loodvlakke in verskeie mynwerkers se bloed gevind is.
Iréne-Mari van der Walt
Nuusredaksie - Honderde werkers by die Rosh Pinah Zinc Corporation staar ernstige gesondheidsgevolge van loodblootstelling in die gesig. Dit ten spyte van mynbase wat gesê het verskeie maatreëls is in plek om te help om “die situasie reg te stel”.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) kan blootstelling aan loodpartikels verskeie liggaamstelsels beïnvloed en is dit veral skadelik vir jong kinders en vroue wat op ’n ouderdom is waar hulle in staat is om geboorte te skenk.

Werkernemers het die kwessie onder die bestuur se aandag gebring, maar hulle is glo verlede maand meegedeel dat slegs werknemers met gesinne wat naby die myn woon, oorweeg sal word om verder weg verskuif te word om die loodblootstelling te bestuur.

Daar is ook bewerings dat mediese toetsuitslae toegesmeer word nadat hoë loodvlakke in verskeie mynwerkers se bloed gevind is.

Verskeie mynwerkers wat met ons susterkoerant Namibian Sun gepraat het, het gesê hulle is in ’n moeilike posisie.

“Ek is getoets en daar is gevind dat die loodvlakke in my bloed te hoog is, so ek moet nou besluit of ek my gesondheid eerste moet plaas en uit my werk moet bedank, en of ek moet aanhou werk om ’n inkomste te verdien,” het een van die mynwerkers gesê.

’n Ander werker wat al meer as ’n dekade lank by die myn werk, het gesê: “Ons het vrede gemaak met die situasie, ons het gesinne om te voed.”

Die maatskappy se visepresident van bedrywighede, Sharon Kaviua, het gesê hulle neem die kwessie baie ernstig op en het vinnig en beslis gereageer om diegene wat geraak word, te ondersteun.

“Ons werk nou saam met die ministerie van myne en energie, die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste en die Rosh Pinah-gemeenskap om hierdie kwessies op te los, en is daartoe verbind om die situasie reg te stel om te verseker dat die myn in lyn met internasionale beste praktyke funksioneer.

“Ons het mediese ondersteuning, insluitend voorskrifmedisyne, verskaf aan alle individue wat geraak is, en verskuif alle gesinne in gebiede wat geraak word deur loodblootstelling na nuut opgeknapte huise,” het sy gesê.

NIE BETROKKE

Tom Alweendo, die minister van myne en energie, sê die regering het geen hand in die beweerde toesmeerdery van gevaarlike loodvlakke in Rosh Pinah-inwoners se bloed nie.

Só het die minister verlede week in die parlement gesê in reaksie op vrae wat deur Henny Seibeb van die Landless People's Movement (LPM) gestel is.

“Alle mynaktiwiteite is geneig daartoe om gesondheids- en veiligheidsgevare in te hou – nie net vir die werknemers nie, maar ook vir die gemeenskap waar mynbedrywighede plaasvind.

“Ek wil dus sê dat die regering geensins kwessies wat verband hou met gesondheid en veiligheid in die mynbousektor sal toesmeer of daartoe bydra nie,” het hy gesê.

Seibeb het gesê daar is bewyse dat kinders in die dorp hoë loodvlakke in hul bloed gehad het, wat met die sinkmynboubedrywighede verbind kan word.

Hy het verder gesê daar is bewerings dat die myn die potensiële loodblootstelling toegesmeer het wat gevind is in ongeveer 20% van die kinders wie se bloed getoets is.

“Laat ek nou meer inligting soos volg deel: In Februarie 2020 het Rosh Pinah Zinc Corporation grondmonsters geneem vir ’n studie om die lood- en arseenkonsentrasies in die residensiële grond te bepaal om hoë loodvlakke in inwoners se bloed en potensiële loodblootstelling by kinders in die betrokke gebiede te bepaal.

Die verslag van die loodvlakke in die bloed van diegene wat getoets is, is op alle vlakke van die mynbedrywighede gedeel. Die toetsing gaan voort en monitering vind maandeliks plaas,” het Alweendo gesê.

BEWUSTHEID

Nadat inwoners van Rosh Pinah vir dringende optrede gevra het, het die myn ’n bewusmakingsveldtog oor loodblootstelling by die plaaslike skole van stapel gestuur en pamflette in die gemeenskap versprei.

Alweendo het, terwyl hy vrae beantwoord het, gesê nadat die blootstelling onder die ministerie se aandag gebring is, het hulle ’n “vergadering met die maatskappy belê, en die vergadering is ook deur amptenare van die gesondheids- en arbeidsministerie bygewoon om die kwessie te bespreek”.

“Die maatskappy het tydens daardie vergadering bevestig dat die verslag wel bestaan. Gegewe dat die gesondheidsministerie die owerheid oor gesondheidsake is, is tot die gevolgtrekking gekom dat die verslag aan die ministerie voorgelê word.

Ek is ingelig dat die gesondheidsministerie en die maatskappy tans aandag gee aan die aanbevelings in die verslag om die situasie te bestuur,” het hy gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer