FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Malaria-entstof beskerm meer as miljoen kinders

Verminder aansienlik dodelike, ernstige siekte
Die entstof kan jaarliks die lewens van 'n bykomende 40 000 tot 80 000 kinders in Afrika red, sou dit wyd oor die vasteland versprei word.
Henriette Lamprecht
Meer as ’n miljoen kinders in drie Afrikalande het reeds een of meer dosisse van die wêreld se eerste entstof teen malaria ontvang.

Ghana, Kenia en Malawi is deel van ’n loodsprojek wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) gekoördineer word. Die Malawiese regering het in April 2019 die projek van stapel gestuur wat gewys het die RTS,S/AS01-entstof is veilig en verminder aansienlik dodelike en ernstige malaria. Die WHO het in Oktober verlede jaar die uitgebreide gebruik van RTS,S onder kinders goedgekeur in gebiede met ’n matige tot hoë oordrag van malaria.

Die WHO beraam die entstof kan jaarliks die lewens van ’n bykomende 40 000 tot 80 000 kinders in Afrika red, sou dit wyd oor die vasteland versprei word.

Tot dusver is meer as US$155 miljoen van die Gavi Entstof Alliansie beloof om die bekendstelling, aankoop en aflewering van die entstof in geoormerkte lande in Afrika suid van die Sahara te verseker.

Volgens die WHO sal die aanvraag vir die entstof die voorsiening daarvan in die nabye en mediumtermyn oorskry.

Die huidige kapasiteit vir die produksie van die enstof staan op ’n maksimum van 15 miljoen dosisse per jaar, terwyl die aanvraag na beraming 80 miljoen dosisse jaarliks sal oorskry.

As riglyne waar die aanvanklike dosisse van die entstof versprei word, koördineer die WHO die ontwikkeling van ’n raamwerk vir die toekenning van beperkte malaria-entstowwe. Die doel is om eers aandag aan gebiede met die hoogste las van die siekte aandag te skenk totdat die verskaffing in die aanvraag kan voorsien.

Die RTS,S-entstof is die gevolg van 30 jaar van navorsing en ontwikkeling deur GSK en met ondersteuning van ’n netwerk van navorsingsentrums in Afrika.

“As ’n malaria-navorser in my vroeë loopbaan, het ek gedroom oor die dag wanneer ons ’n doeltreffende entstof teen dié verwoestende siekte sou hê,” sê die WHO se direkteur-generaal, dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus.

Die entstof is nie net ’n wetenskaplike deurbraak nie, maar is lewensreddend vir families op die vasteland. Dit demonstreer die mag van wetenskap en innovering vir gesondheid. Daar is egter steeds ’n dringende behoefte om meer en beter hulpmiddels te ontwikkel om lewens te red en die vooruitgang tot ’n malariavrye wêreld te dryf,” het hy gesê.

RTS,S is ’n eerste-generasie entstof wat in die toekoms ondersteun kan word deur ander entstowwe met ’n soortgelyke of hoër doeltreffendheid.

Vooruitgang word tans ook in die ontwikkeling van R21/Matrix-M gemaak en ander kandidate vir malaria-entstowwe wat tans in vroeë kliniese ontwikkeling is. BioNTech, die vervaardiger van die Pfizer-BioNTech-entstof teen Covid-19, wil nou ’n entstof teen malaria ontwikkel deur van mRNA-tegnologie gebruik te maak.

’n Aantal nuwe hulpmiddels en tegnologieë is ook aan die WHO vir evaluering voorgelê wat ten doel het om die siekte te beheer.

Met betrekking tot medikasie het die Australiese Terapeutiese Goedere Administrasie onlangs enkeldosis Tafenokien-tablette goedgekeur vir die voorkoming van P.vivax-malaria by kinders. Dit is ook goedgekeur vir gebruik in volwassenes deur die Amerikaanse Federale Middeladministrasie, sowel as medisyneregulerende liggame in ander lande, soos Brasilië, Peru en Thailand. Die huidige standaard van sorg vereis ’n kursus van sewe of 14 dae.

Struikelblokke in die stryd teen malaria sluit in muskiete wat ’n weerstand teen insekdoders het, sowel as ’n indringende malariadraer wat floreer in stedelike en landelike gebiede.

’n WHO-verslag wat verlede jaar vrygestel is, het gewys globale vooruitgang om die aantal malariagevalle en -sterftes te verminder, het die afgelope paar jaar verlangsaam of tot stilstand gekom in veral lande wat die ergste deur die siekte geraak word. Finansiering vir malariaverwante navorsing en ontwikkeling het in 2020 sowat US$619 miljoen beloop. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!