INCREASE: The Ministry of Health and Social Services has reported an increase in Malaria cases and death this year compared to last year. File photo
INCREASE: The Ministry of Health and Social Services has reported an increase in Malaria cases and death this year compared to last year. File photo

Malariagevalle skiet die hoogte in

Minister spreek kommer uit
Nikanor Nangolo
Sedert die begin van die jaar is 630 mense vir malaria by hospitale in Namibië behandel, terwyl 15 aan malaria dood is.

Dis in skerp teenstelling met 287 hospitaalopnames en ses sterftes wat verlede jaar gedurende dieselfde tydperk aangemeld is.

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, Kalumbi Shangula, het gesê statistieke dui daarop dat daar van Januarie tot Maart vanjaar ’n totaal van 6 147 malariagevalle oraloor die land aangemeld is.

“Die aantal gevalle in die hospitaal en sterftes wat tot dusver aangemeld is, het meer as verdubbel, vergeleke met wat in dieselfde tydperk verlede jaar aangemeld is,” het Shangula vroeër dié week by die herdenking van Wêreldgesondheidsdag op Rundu gesê.

“Dis ’n bron van kommer vir my en ons moet meer doen om hierdie situasie te takel en die aantal gevalle en sterftes in ons land te verminder,” het hy bygevoeg. In Namibië is malaria endemies in 10 van die land se 14 streke.

Shangula het beklemtoon dat doeltreffende instrumente en ingrypings ontwikkel is om malaria hok te slaan.

“Dit sluit in medisyne om malaria te verhoed, muskietnette wat behandel is, binnenshuise bespuiting en die opskerping van pogings om mense se gedrag te verander om eienaarskap van hierdie ingrypings op gemeenskapsvlak aan te moedig deur die Zero Malaria Begins with Me-veldtog wat tot 2027 sal duur.”

Die minister het gemeenskapslede aangemoedig om onmiddellik hul naaste gesondheidsfasiliteit te besoek wanneer hulle siek voel of enige malaria-simptome ervaar. Simptome sluit in koors, hoofpyn, spier- of gewrigspyn, kouekoors, naarheid, braking en moegheid.

“Laat ons elkeen ons deel doen om malariasterftes in ons gemeenskappe te voorkom. Ons kan malaria verhoed deur ons huise binne te spuit. Ons kan malaria oorwin deur die korrekte gebruik van persoonlike beskermende toerusting en om langmouhemde en langbroeke te dra.

“Ons moet die gras rondom ons huise verwyder en elke aand onder muskietnette slaap. Saam kan ons malariagevalle onder ons gemeenskappe verminder,” het die minister beklemtoon.

Shangula het verduidelik dat hoewel gesondheidsbewustheid al vir baie jare bevorder word, ly baie mense steeds aan voorkombare siektes en word ander met kwale getref waarvan hulle nie eers bewus is nie.

“Dis grootliks te wyte aan ’n gebrek aan inligting en gesondheidsonderrig. Ons moet hierdie werklikheid verander en meer bewustheid onder gemeenskappe skep om gesondheidsbedreigings te oorkom.

“Die Wêreldgesondheidsdag beoog om globale, nasionale en gemeenskapspogings te mobiliseer om gesondheidsbewustheid te verbeter, gedrag te verander en die omvang van bewusmakingspogings te verhoog.”

Die minister het erken dat die regering en ander instellings meer moet doen om die nodige dienste te lewer, “wat ons mense nodig het, waar hulle ook al is, sonder om finansieel swaar te kry”.

Hy het gesê dit is haalbaar en uitvoerbaar deur die doeltreffende toewysing en gebruik van beskikbare hulpbronne en die betrokkenheid van gemeenskappe en geaffekteerde individue.

“Dit beteken dat elkeen van ons ons gesondheid ernstig moet opneem, want goeie gesondheid moet in ons huise en in ons gemeenskappe begin,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer