FOTO TER ILLUSTRASIE VERSKAF
FOTO TER ILLUSTRASIE VERSKAF

Mediese premies, dienste (weer) duurder

Geweldige finansiële impak
Die vraag is vir hoe lank die private gesondheidsbedryf die kostebesparende strategie deur die fondse kan absorbeer, totdat die bedryf onvolhoubaar word.
Henriette Lamprecht
Sou die vereniging vir mediese fondse in Namibië (Namaf) vir die tweede agtereenvolgende jaar besluit om weer nie die standaardtariewe vir volgende jaar te verhoog nie, is sowat 66% van private gesondheidspraktisyns in Namibië van plan om egter steeds hul tariewe te verhoog.

Namaf het in Desember 2023 aangekondig standaardtariewe sal tot ten minste tot die einde van die eerste kwartaal in 2024 – en moontlik langer – onveranderd bly. Die gevolg was dat lede van private mediese fondse skielik aansienlike bybetalings uit hul eie sak vir van hospitale tot narkotiseurs moes betaal.

Die besluit wat volgens die Namibiese Private Praktisynsforum (NPPF) sonder enige konsultasie met mediesefondslede of diensverskaffers geneem is, is in wese ‘n verlaging van lede se voordele, omdat fondse nie lede vir mediese inflasie sal vergoed nie. Toe het private mediese fondse lede se bydraes met goedkeuring van Toesighoudende Owerheid vir Finansiële Instellings in Namibië (Namfisa) met gemiddeld 10% verhoog, nadat sommige fondse vir tot 15% gevra het.

Verskeie mediese fondse het reeds aan hul lede gesê hul maandelikse bydraes vir aanstaande jaar styg met tussen 3% en 5%.



NAMAF SE VERWEER

Namaf se verweer was dat kostetendense en die gevolglike impak op die finansiële volhoubaarheid van fondse met die verhoging van die tariewe onverantwoordelik sou wees sonder die oorweging van verskeie ingrypings of strategieë. Ook is dié strategieë kompleks om te ontwikkel en te implementeer en is ’n geleidelike benadering nodig. ‘n Besluit is gevolglik geneem dat tariewe vir vanjaar onveranderd sou bly totdat die bestuurstrategieë geïmplementeer is om die volhoubaarheid van ’n bedryf te verseker wat van diensverskaffing tot finansiering insluit.

Volgens ‘n onlangse NPPF-opname onder private gesondheidspraktisyns wat van dokters tot mediese spesialiste en oogkundiges insluit, is die forum ingelig standaardtariewe vir aanstaande jaar sal vir verskillende dissiplines tussen 4,6% en 4,9% verhoog word. Die NPPF sê volgens hul opname vra 7% van die respondente aansienlik hoër as die standaardtariewe, 27% effens meer, terwyl 60% die standaardtariewe vir hul dienste vra. Volgens 62% van die respondente was die finansiële impak van Namaf se besluit om 2024 se standaardtariewe nie te verhoog nie, geweldig.

Die NPPF sê dit is daarom noodsaaklik om die uitwerking van die afwaartse druk op praktisyns te bestudeer omdat die sleutelvraag is “vir hoe lank kan die private gesondheidsbedryf die kostebesparende strategie deur die fondse absorbeer, totdat die bedryf onvolhoubaar word?

“Namibië is die tuiste van ‘n wêreldklas private gesondheidsbedryf. Dit het dekades van belegging, ontwikkeling en kapasiteitsbou geneem om hierdie punt te bereik. Die oomblik wat dit vernietig is, sal dit weer dekades neem om private gesondheidsorg op sy huidige vlak te bring,” aldus die NPPF.

Die meerderheid respondente (77%) was dit ook eens dat Namfisa se gebrek aan optrede ‘n “uiters negatiewe impak op die doeltreffende regulering van mediese fondse het en lede en diensverskaffers sonder enige verweer teen die optrede van fondse laat”.

Met verwysing na die ICD-10-koderingstelsel wat private praktisyns nou gedwing word om te gebruik of hul eise word nie verwerk nie, was die meerderheid dit eens dat die stelsel nie doeltreffend bedrog en misbruik sal hokslaan nie.

Die Raad vir Gesondheidsberoepe in Namibië (HPCNA) het onlangs ook ‘n verhoging in sy tariewe, ingesluit jaarlikse regstrasiefooie, aangekondig. Volgens die nuwe fooie moet diensverskaffers wat nie Namibiese burgers is nie, beduidend meer as Namibiese burgers opdok, selfs in gevalle waar die praktisyns reeds vir jare in die land praktiseer. Volgens die NPPF-opname is byna 60% van respondente bereid om finansieel by te dra tot ‘n regsaksie wat die ongelykheid in die fooie uitdaag.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 21° | 32° Eenhana: 21° | 26° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 21° | 31° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 19° | 25° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 18° | 30° Gobabis: 20° | 29° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 24° | 40° Oranjemund: 17° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 25° Lubumbashi: 16° | 32° Mbabane: 18° | 29° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 18° | 30° Cape Town: 18° | 23° Durban: 21° | 26° Johannesburg: 16° | 18° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 35° Harare: 20° | 32° #REF! #REF!