MEDICATION CRISIS: Health Minister Kalumbi Shangula has assured the public that his ministry is working tirelessly to address the ongoing medication crisis. Photo contributed
MEDICATION CRISIS: Health Minister Kalumbi Shangula has assured the public that his ministry is working tirelessly to address the ongoing medication crisis. Photo contributed

Medisynetekort: ‘Ons rus nie dag of nag’

Onderhewig aan regulatoriese owerhede
Die gesondheidsminister sê om medisyne te koop is nie so eenvoudig soos om by 'n winkel in te stap en items op te tel nie.
Nikanor Nangolo
Terwyl pasiënte van hospitale en klinieke landswyd – veral in die noordelike streke – voortdurend hul ontevredenheid uitspreek oor die gebrek aan medikasie, het Kalumbi Shangula, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, die publiek verseker dat sy ministerie onvermoeid werk om die kwessie te takel.

“Ons rus nie dag of nag nie. Ons werk onverpoosd daaraan om die situasie op te los. Om medisyne te koop is egter nie so eenvoudig soos om by ’n winkel in te stap en items op te tel nie.

“Ons is onderhewig aan regulatoriese owerhede in die lande waar ons die medisyne koop en uitvoer. Alles word streng gereguleer,” het Shangula gesê.

Die gebrek aan medikasie is al maande lank ’n groot bekommernis, met groeiende frustrasie onder pasiënte en gesondheidswerkers.

Vroeër dié week het inwoners van Eenghalashe in die Omusatistreek gesien hoe ’n mobiele kliniek vir primêre gesondheid medisyne by ’n landelike sentrum uitdeel.

Bejaarde inwoners is egter gefrustreerd gelaat nadat hulle ure in rye gestaan het, net om meegedeel te word dat daar geen medikasie vir hoë bloeddruk beskikbaar is nie.

Talle van die bejaardes moes lang afstande aflê, net om op eie koste na apteke en gesondheidsgeriewe nog verder weg verwys te word.

RUNDU

’n Ondersoek vroeër deur Network Media Hub (NMH) het aan die lig gebring dat dokters se moraal by die staatshospitaal op Rundu en veral by die ongevalle-afdeling uiters laag is weens die gereelde tekort aan noodsaaklike medikasie.

Een dokter het gesê hy voel hulpeloos en asof hy sy pasiënte faal en dat hulle dikwels sonder enige ander opsies gelaat word.

Volgens hom moet pasiënte gevolglik dikwels sonder voldoende behandeling huis te gestuur word en dokters wonder hoekom hulle enigsins vir werk opdaag as die nodige medikasie nie beskikbaar is nie.

In dié geval het die superintendent van die hospitaal, Jean Kabangu, gesê die tekorte is buite hul beheer omdat die aankoop van medisyne sentraal deur die Sentrale Mediese Store (CMS) behartig word.

“Die hospitaal se rol is bloot om die medikasie te ontvang en te bestuur.”

OSHAKATI

Nog ’n ondersoek by die staatshospitaal op Oshakati het getoon dokters en verpleegsters het pasiënte met geestesongesteldhede verdoof om te verhoed dat personeel aangerand word.

Dié hospitaal ervaar glo reeds maande ’n reusetekort aan psigotropiese medikasie. Pasiënte wat antidepressante en antipsigotiese medikasie moet ontvang, word meestal weggewys omdat die hospitaal reeds vir meer as ’n jaar ’n tekort aan dié medikasie het.

Luidens ’n dokter by die hospitaal word personeel gevolglik soms blootgestel aan die gewelddadige gedrag van sommige pasiënte wat personeel slaan, byt en skop en ook ander pasiënte en of hulself beseer.

Die gesondheidsminister se verweer oor die voortgesette tekorte was dat die tender vir die aankoop van noodsaaklike medikasie steeds nie uitgevoer kan word nie weens ’n regsgeding.

Shangula het ook verwys na uitdagings weens die wet op openbare verkryging wat vereis dat regeringsentiteite medisyne deur die Sentrale Verkrygingsraad moet aankoop.

Volgens hom ondersoek die ministerie nou alternatiewe maatreëls binne die wetlike raamwerk om die medisynetekort te takel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!