FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Meer as N$1 miljard vir Covid-19

Oorbesteding van N$366 miljoen
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het 'n skoon oudit van die ouditeur-generaal ontvang, hoewel verskeie rooi vlae uitgelig word.
Henriette Lamprecht
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se totale begroting vir die 2020-’21-finansiële jaar is met N$366,5 miljoen oorskry.

Die ministerie het midde die Covid-19-pandemie meer as N$1,494 miljard alleen op die aankoop van Covid-19-entstowwe en verwante uitgawes (N$583 miljoen) bestee, sowel as N$911,7 miljoen aan die bestuur en beheer van die siekte.

Hoewel die ministerie ’n skoon oudit van die ouditeur-generaal ontvang het, word gemaan sy finansiële posisie moet op ’n voortgesette basis gemonitor en geëvalueer word om beter finansiële beheer te verseker en betyds gepaste stappe te doen om ongemagtigde uitgawes te vermy.

Een van die kwessies wat uitgesonder word en reeds in vorige ouditverslae uitgewys is en dadels van gekom het, is die ministerie se voertuigvloot.

Die meesterlys dui aan daar is 1 647 voertuie, terwyl 1 888 getel is, wat ’n verskil van 241 los.

Die “onakkurate” inligting op die voertuigvloot word reeds die afgelope vyf jaar in ouditverslae uitgewys.

Die ouditverslag wys die ministerie het 28 voertuie ter waarde van N$2,1 miljoen afgeskryf. Ook is 73 ongelukke met ministeriële voertuie aangeteken waarvan die herstelkoste N$1,6 miljoen beloop het, terwyl 39 voertuie teen ’n koste van N$1,5 miljoen herstel moes word.

Voorraadopnames is nie by 14 uit die 66 voorraadpunte gedoen nie, omdat voertuie vir Covid-19-gebruik toegeken is, personeel verantwoordelik hiervoor Covid-19 opgedoen het en kantore weens gevalle in die ministerie gesluit was.

Volgens die verslag het die ministerie 24 dubbelbetalings aan verskaffers gemaak wat meer as N$155 000 beloop. Die rede vir dié betalings is verskeie verskafferskodes wat aan individuele verskaffers toegeken is.’n Werknemer van die ministerie wat op 13 Augustus 2020 bedank het, was volgens die oudit egter steeds aktief op die geïntegreerde finansiële bestuurstelsel en het ná die bedanking steeds 76 transaksies ter waarde van N$1,5 miljoen verwerk.

Die grootste oorbesteding in die ministerie was vir die aanstelling van bykomende personeel, met N$117,8 miljoen wat bestee is om in die lig van die Covid-19-pandemie meer gesondheidswerkers by die verwysingshospitale aan te stel. Dié situasie is verder versleg deur die skerp toename in infeksies onder gesondheidswerkers tydens die tweede golf van die pandemie.

Vir maatskaplike dienste in streke, is N$265,3 miljoen oorbestee vir die aanstelling van bykomende personeel. Oorbesteding was ook aan die orde van die dag vir gesondheidsdienste (N$9,4 miljoen), verbrandingsgeriewe (N$1,2 miljoen), retensie (N$1 miljoen), verblyf (N$488 000) en “verskeidenheid” wat N$3,7 miljoen beloop het.

Met verwysing na onderbesteding in die betrokke finansiële jaar, word na die registrasie van medisyne verwys, met projeksies vir inkomste hieruit wat nie akkuraat bepaal kan word nie. Dit aangesien die aantal produkte wat geregistreer moet word, nie akkuraat beraam kan word nie. Die onderbesteding hier was N$387 000.

Die onttrekking van die bourekenaar betrokke by die opgradering van die Etegameno Rehabilitasie- en Hulpbronnesentrum het veroorsaak dat die ontwikkelingsbegroting vir die ontwikkeling van maatskaplike dienste, ’n onderbesteding van meer as N$1 miljoen (5,94%) getoon het. Die projek kon as gevolg hiervan nie voortgaan nie. Ook vir beleidsbeplanning en ontwikkeling van menslike hulpbronne is N$5,4 onderbestee omdat beide kontrakteurs vir die opgradering en konstruksie van kantore op Oshana sowel as die opleidingssentrum op Rundu in die pad gesteek is. Die konstruksie van ’n sentrum vir geestesgesondheid op Nankandu is ook weens ’n gronddispuut laat vaar.

Drie skadevergoedingseise teen die ministerie wat uitbetaal is, het die ministerie N$723 708 uit die sak gejaag.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!