Die CPBN se voorsitter, Amon Ngavetene. FOTO ARGIEF
Die CPBN se voorsitter, Amon Ngavetene. FOTO ARGIEF

Meisie (5) wen tender van N$1,3 miljard

Zimbabwiese pa die mede-eienaar
Namibië se openbare verkrygingsproses is weer in die spervuur nadat 'n maatskappy, wat volgens dokumentasie aan 'n minderjarige behoort, 'n tender losgeslaan het.
Elvira Hattingh
Jemima Beukes – Die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) se besluit om ’n kontrak van N$1,3 miljard toe te ken aan ’n maatskappy – waarin ’n vyfjarige meisie die meerderheidsbesit het – om farmaseutiese produkte aan die regering te verskaf, het ander tenderaars dronkgeslaan.

Die feit dat die maatskappy – Cospharm Investments (Edms) Bpk – aanvanklik uit die wedloop geskakel is en appèl aangeteken om daarna die tender te wen, het die saak in nog meer omstredenheid gedompel.

Cospharm het die bod – wat 26 tenderaars gelok het – gewen om farmaseutiese produkte aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste te verskaf en te lewer.

Twaalf maatskappye is van die begin af uitgeskakel aangesien hulle nie aan sekere tendervereistes voldoen het nie.

HEROORWEEG

Cospharm is een van die tenderaars wat nie oorweeg is nie, volgens ’n CPBN-kennisgewing van 26 April 2023.

Die maatskappy is aanvanklik gediskwalifiseer omdat hy glo die tenderprys op die dokumentasie gewysig het, sonder om langs die verandering te parafeer.

Cospharm behoort aan die Zimbabwiese sakeman Cosmos Mukaratirwa (49%) en sy kind, ’n Namibiese burger, wat 51% besit, volgens die maatskappy se rekords.

Cospharm het die raad glo versoek om sy besluit te heroorweeg, wat eindelik daartoe gelei het dat die kontrak van N$1,3 miljoen aan die maatskappy toegeken is. Dié wending word nou deur ander tenderaars uitgedaag.

Mukaratirwa was ook sowat drie jaar gelede in die kollig nadat hy na bewering ongeregistreerde medisyne ter waarde van N$657 800 aan die ministerie van gesondheid verkoop het. Hy is toe op ’n waarskuwing vrygelaat.

RAAD DRA KENNIS

Amon Ngavetene, die voorsitter van die CPBN, het gesê die raad is ten volle bewus daarvan dat die meerderheidsaandeelhouer van die maatskappy ’n minderjarige Namibiër is.

“Ja, 51% se aandele moet aan ’n Namibiër behoort. In hierdie geval het die vyfjarige geen mag om ’n kontrak aan te gaan nie. Ons het daaroor beraadslaag, en wat dan sou gebeur, is dat die minderheidsaandeelhouer, wat die pa is, het voogdyskap en word dan met ’n volmag uitgereik. Ek weet nie of hy hier of in Suid-Afrika bly nie, maar hoe dit ookal sy, dit was ’n oop internasionale bod,” het hy gesê.

Op die vraag of daar maatreëls in plek is om seker te maak buitelanders gebruik nie Namibiërs as ’n front om openbare kontrakte te kry wat vir Namibiërs gereserveer word nie, het Ngavetene gesê die las op die CPBN sal te groot wees en dat hulle hul beperkings het.

Hy het ook gesê die tender is aan Cospharm toegeken aangesien sy pryse aansienlik laer as die res van die tenderaars was. Hy het wel gesukkel om te antwoord of die aanvanklike pryse dieselfde was as dié in die gewysigde dokument

Hy het aanvanklik gesê Cospharm het die gewysigde dokumente teruggebring, net om daarna te sê dié dokument was deel van die eerste voorlegging wat gediskwalifiseer is op grond van die foute daarin.

HERSIENING

Die toekenning van die tender het intussen op die tafel van die ministerie van finansies se hersieningspaneel beland – wat verlede week vergader het oor die pad vorentoe – nadat ErongoMed Health Distributors en Africure Pharmaceutical Namibia die toekenning uitgedaag het deur ’n hersieningsaansoek teen die Verkrygingsraad in te dien.

Die paneel bestaan uit Tulimeyo Kaapanda (voorsitter), Browny Mutrifa, Hellen Amupolo en Gilbert Habimana. Kaapanda het Ngavetene in ’n brief gedateer 18 Augustus van dié verwikkeling in kennis gestel.

Ngavetene het verlede week aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê hy het verlede Maandag se verrigtinge bygewoon en dat die raad by sy besluit staan om die kontrak aan Cospharm toe te ken.

Die meerderheid van die paneel is glo ten gunste daarvan om die tenderproses opnuut te begin – ’n stap wat onmin onder sommige suksesvolle bieërs kan veroorsaak, wat voel dat daar aan die proses gepeuter word om Cospharm te akkommodeer.

“Ons is ingelig dat sommige maatskappye wat nie suksesvol was nie, die proses saboteer en daarop aandring dat die tender oorgedoen word. Dit is onregverdig teenoor bieërs wat uit hul pad gegaan het om seker te maak dat hul tenders reg is,” het ’n anonieme tenderaar gesê.

Kaapanda het gesê die saak is nog nie afgehandel nie.

“Ons het nog nie ’n besluit geneem nie, so ek sal jou niks kan vertel nie. Eintlik is ek nie gemagtig om met die media te praat nie,” het sy gesê.

GESONDHEIDSKRISIS

Die gesondheidsminister, dr. Kalumbi Shangula, het gesê hy is nie bewus van die dispuut nie.

“Die beoordeling van tenders vind by die CPBN plaas. Dit is jammer dat kommersiële belange die openbare gesondheidsbelange oorheers. As ’n tender vir farmaseutiese of kliniese items nie gefinaliseer word nie, het dit ernstige gevolge vir die gesondheid en lewens van die publiek,” het Shangula gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!