'n Kaartjie vir Luke

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Hy is ’n baie rustige seuntjie en geniet dit om tussen familie en vriende te wees.

Die negejarige Luke Halligan-Jolly wat totaal van ander mense afhanklik is, kommunikeer deur sy ogies te knip vir “ja” en sy kop vir “nee” te skud en sal sommer vinnig laat weet as hy nie tevrede is nie, vertel ma Cezanne.

Luke is in ’n rolstoel en kan nie self sit of rol nie. Hy is op ’n spesiale dieet vir sy epilepsie, met Cezanne wat sy kos voorberei en in porsies vries, omdat hy ook verskeie kosallergieë het. Hy kan mondeliks eet, maar word gevoer en al sy vloeistowwe gaan deur ’n voedingspyp in sy maag.

Cezanne wie se man Mark, “my beste vriend, eggenoot, skouer om op te huil en enigste persoon wat werklik verstaan het waardeur ons is met Luke”, is in April 2019 aan veelvuldige myeloom oorlede.

Sy en haar twee seuns het ’n jaar gelede terug Windhoek toe getrek om nader aan familie te wees en het nou met ’n spesiale gelukstrekking begin om haar seun se mediese onkoste te dek nadat hy met longontsteking in die Lady Pohamba Private Hospitaal se intensiewesorgeenheid (ICU) behandel is.

Volgens Cezanne was Luke die laaste maand “aan en af” siekerig en het sy hom by die dokter gehad en ook by die huis gedokter. Hy het egter met asemnood begin sukkel en danksy ’n suurstofmasjien wat sy by vriende kon leen, het dit aanvanklik stukke beter gegaan. Luke is egter na ’n terugslag in die Lady Pohamba Private Hospitaal opgeneem, maar is ná twee dae ontslaan. Sy toestand het egter weer vererger en Cezanne het besef sy sal hom nie weer soontoe kan vat nie, omdat die vorige besoeke reeds haar fondse uitgeput het.

Luke is per ambulans na die Katutura-staatshospitaal geneem en in die noodeenheid op nege liter suurstof geplaas wat steeds nie genoeg was nie. Volgens ’n dokter was daar net een bed in die intensiewesorgeenheid oor, maar sy kan dit ongelukkig nie vir Luke gee nie, omdat “we are keeping the bed for one of our own”.

“Ek was verpletter en geskok. Sy het alles in haar vermoë gedoen om ons te help, maar ek kon sien haar hande is ook afgekap.”

Sou Luke na ’n gewone saal oorgeplaas word, was die diagnose dat hy nie sou oorleef nie.

“As ’n ouer voel jy so magteloos om jou kind te sien versmoor, met elke asemhaling sien jy die vrees in sy gesiggie.”

Onderweg per ambulans na Lady Pohamba moes die suster met haar hand suurstof in Luke se longe pomp om hom aan die lewe te hou.

Hy is weer in die ICU by Lady Pohamba opgeneem waar hy goed op behandeling gereageer het en na die kindersaal oorgeplaas is om koste te spaar. Sy suurstofvlakke het egter weer bitter laag gedaal en hy moes terug ICU toe.

“Ek het amper weer my kind verloor. Ek moes vir die tweede keer bevestig dat ek nie my kind op ’n ventilator gaan laat plaas of dat hulle hom moet resussiteer nie. Dit is ’n bitter moeilike besluit om as ’n enkelouer te maak, want jy weet nooit of jy die regte ding doen nie.”

Luke was in Maart in die Kaap vir ’n groot heupoperasie wat ongelukkig onsuksesvol was, omdat die skroewe op sy linkerheup tans baie vlak onder sy vel sit en baie pyn veroorsaak.

Die hoop is dat daar genoeg geld beskikbaar sal wees uit die gelukstrekking om die skroewe te laat uithaal en ook beendigtheidspuite te doen omdat sy beentjies baie bros is.

Die kaartjies vir die gelukstrekking kos N$100 elk, met die wenners wat op 9 Desember aangewys sal word. Pryse wissel van ’n jagtog ter waarde van N$10 000, ’n fotosessie vir die familie, leerprodukte, inkopiebewyse, vleis asook ’n nag vir twee mense by Midgard.

“Ek wil net baie dankie sê vir almal wat al vir Luke skenkings gegee en kaartjies gekoop het. Ek is dankbaar hoe Namibiërs bymekaar staan!”

Vir meer inligting oor die kaartjies kan Cezanne by 081 793 7533 of [email protected] gekontak word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!