FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

N$540 miljoen teen Covid-19 ingespan

Laboratoriums, lykshuise opgegradeer
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se kapasiteit vir psigo-maatskaplike steun is tot die uiterste beproef.
Henriette Lamprecht
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het die afgelope finansiële jaar byna N$540 miljoen aan Namibië se reaksie op die Covid-19-pandemie bestee.

Dit sluit die koördinering van die inentingsprogram, die bou van kapasiteit vir laboratoriums, versterking van menslike hulpbronne, uitbreiding van infrastruktuur, die voorsiening van mediese suurstof, sowel as die diens en opgradering van lykshuise in.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het in die Nasionale Vergadering erken sy ministerie se kapasiteit om psigo-maatskaplike steun te bied, is die afgelope jaar tot die uiterste beproef weens die impak van die pandemie op Namibiërs.

Shangula het tydens die bespreking van die ministerie se porsie van die nasionale begroting gesê volgens hom is psigo-maatskaplike steun wel aan geraakte persone en bedroefde families verskaf.

Hy sê ’n bestaande eenheid in die ministerie gaan nou geïdentifiseer word waarin alle Covid-19-verwante aktiwiteite ook opgeneem sal word.

Hy het ook verwys na voorafvervaardigde geriewe met die kapasiteit van 12 beddens elk wat by die hospitale op Karasburg, Okahao, Okahandja, Otjiwarongo en Andara opgerig is om Covid-pasiënte te help.

Die ministerie se hap van die nasionale begroting beloop N$8,3 miljard. Hiervan is N$200 miljoen vir die ontwikkelingsbegroting.

Volgens die minister is heelwat mediese toerusting aangekoop om die voorsiening van gesondheidsdienste in die openbare sektor te versterk. Dit sluit die voorsiening van medium en hoë tegnologiese toerusting aan verskeie geriewe in.

Shangula het erken struikelblokke word ervaar in die voorsiening van medikasie en kliniese voorrade, maar sê die ministerie werk onverpoos saam met rolspelers vir ’n “robuuste en doeltreffende voorsiening van hierdie lewensreddende kommoditeite”.

ONKOLOGIE, MIV, MALARIA

In ’n poging om bestralingsdiente in die onkologiedepartement te versterk, is ’n CT-stimulator, ’n aanmeld-en-verifieer-stelsel sowel as ’n spesiale Cobalt 60-bed aangekoop. Die onkologie-afdeling het ook nou ’n dosis kalibreerder wat gebruik word om bestralingsaktiwiteit te monitor en dosisse vir kankerpasiënte voor te berei.

Met verwysing na die ministerie se vinger op die pols van gevalle van onder meer MIV/vigs en malaria, sê Shangula groot vooruitgang is gemaak ter bereiking van die sogenaamde 95-95-95 doelwit. Dit verwys na 95% van mense met MIV wat bewus is van hul status, met 95% van laasgenoemde op behandeling terwyl 95% van dié op behandeling, ’n onderdrukte virale lading het. Tans staan Namibië op 94-97-93.

Fokus is ook versterk op die uitbreiding van dienste vir anti-retrovirale terapie asook die moeder-tot-kind-oordrag van MIV.

Namibië het volgens Shangula doeltreffende anti-malaria-medikasie, diagnostiese toetse en ook vierde generasie insekdoders teen muskiete. Die behandelingskoers vir mense met TB staan tans op 82% en 100% vir mense met melaats.

N$10 miljoen is bestee op die voorsiening van ondersteunende toestelle soos kunsledemate en rolstoele, terwyl tegniese ortopediese dienssentrums in Zambezi, Omusati, Otjozondjupa, Erongo, ||Kharas geopen is.

OPLEIDING

Die ministerie het 306 studente in Suid-Afrika, Zambië, Rusland, Kuba en Indië met van onderrig, boeke, studiepermitte, verblyf en vervoer ondersteun wat in van medisyne tot aptekerswese studeer. Volgens Shangula het 17 studente hul studies voltooi, terwyl 76 personeellede verskeie studieprogramme voltooi het.

Met verwysing na internskappe het 251 gegradueerdes hul verpligte internskappe voltooi, wat 188 dokters, 28 tandartse, 33 aptekers en twee kliniese sielkundiges insluit.

Projekte soos die kraamsaal by die Onandjokwe-hospitaal, die neonatale saal op Swakopmund, sowel as die klinieke op Onanghulo, Onamafila en Okondjatu gaan voort, maar word volgens Shangula deur die tegniese en finansiële vaardighede van die kontrakteurs belemmer.

Ander projekte vir die huidige boekjaar sluit in die opknap van die ongevalle en pediatriese sale by die Katutura-hospitaal, sowel as die voltooiing van die konstruksie van klinieke op van Onamafila, Okondjatu en Malengalenga, tot Lyinyati, Muzii en Epupa.

Bouwerk sluit ook in ’n gesondheidsentrum op Aussenkehr en verblyfsgeriewe vir personeel by die grensposte op Ariamsvlei en Noordoewer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!