FOTO UNSPLASH
FOTO UNSPLASH

Nader aan basisprys vir medisyne

Tweede grootste drywer van mediese koste
Die sentrale mediese stoor bestee ten minste N$1,2 miljard jaarliks aan medisyne.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Medisyne dryf die tweede grootste gedeelte van die koste van gesondheidsorg in Namibië met sowat N$3 miljard jaarliks.

Dit vir ’n bevolking van 2,6 miljoen waarvan 42,2% onder die ouderdom van 18 jaar is. Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se sentrale mediese stoor bestee ten minste N$1,2 miljard aan medisyne vir 80% van inwoners, uitsluitend mediese dienste.

Geregistreerde private mediese fondse onder die vlerk van die Vereniging van Mediese Fondse in Namibië (Namaf) bestee jaarliks ten minste N$800 miljoen op medisyne vir 8% van die land se inwoners. Vir die staat se mediese fonds (Psemas) is die bedrag ten minste N$1 miljard vir 12% van die bevolking. Tendense in die finansieringsbedryf vir private gesondheidsorg wys ook medisyne is die tweede hoogste kostedrywer ná private hospitale.

In ’n poging om die hoë koste te takel en die volhoubaarheid van dié finansieringsbedryf te verseker, is aansienlike vordering nou gemaak vir die implementering van die Namibiese produk- en verwante pryse vir medisyne, chirurgiese asook verbruikersgoedere.

Laasgenoemde sal Namaf in staat stel om ’n standaardtarief vir medisyne in te stel.

Volgens Namaf se bestuurder vir korporatiewe kommunikasie en belangegroepverhoudings, Uatavi Mbai, sal die ontwikkeling van die regering se prysbeleid vir farmaseutiese produkte wat onderweg is, die pogings van die vereniging ondersteun om die plaaslike standaardprys te implementeer vir alle medisyne en farmaseutiese produkte wat in die mark beskikbaar is. Die standaardtariewe sal uiteindelik die regering se pogings ondersteun om die farmaseutiese prysbeleid in te stel. ’n Konsultasieproses met rolspelers sal volgens Mbai nou begin waarin die plaaslike standaardtarief vir farmaseutiese, medisinale, chirurgiese en mediese toerusting asook gesondheidsprodukte (Nappi) bespreek sal word.

Volgens Mbai is Namaf opdrag gegee om strategieë en ingrypings te ontwikkel om die risiko van die volhoubaarheid van die bedryf te takel. In dieselfde asem moes mediese fondse wat onder Namaf val, ingrypings wat spesifiek op die fonds van toepassing is, bedink.

Die Namibiese standaard- of basisprys vir medisyne is die prys waarteen ’n kleinhandelaar (apteek, hospitaal ens.) die medisyne van die groothandelaar koop en wat bestaan uit die vervaardigers se prys sowel as die groothandelmarge.

Die implementering van die Namibiese Nappi-standaardtarief behels ’n lys van medisyne wat geregistreer is by die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) en beskikbaar is in die land, sowel as ’n deursigtige proses waartydens die landingskoste van medisyne in Namibië vasgestel en onderhou kan word.

Mbai verduidelik produkte uit Suid-Afrika kry openbare domein Nappi-kodes wat gebaseer is op die prys waarteen goedere in dié land by groothandelaars gekoop word (SEP). Vir alle produkte wat nie hul oorsprong in die buurland het nie, skep handelaars in Namibië ’n gebruiksproses en fopkodes.

“Die SEP (Single Exit Price) is die basisprys in Suid-Afrika en bestaan uit ’n koste waarteen goedere by ’n fabriek aangekoop word en met ’n logistieke tariefkomponent (belasting op toegevoegde waarde) vir medikasie wat verskaf is aan alle aankopers buiten die staat. Die SEP-meganisme is die maksimum prys wat vir medisyne gevra kan word.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!