Namibië vra uitstel vir sertifikaat

Stelsel hopelik teen Woensdag gereed
'n Lugredery sê die Namibiese inentingskaart word sonder enige probleme vir reis na Suid-Afrika gebruik.
Henriette Lamprecht
Ten volle ingeënte Namibiërs wat na Suid-Afrika reis, sal ’n negatiewe PCR- of kitstoetsuitslag vir Covid-19 by die grens moet wys, tot tyd en wyl ’n digitale sertifikaat aan hulle uitgereik kan word.

Die verwagting is dat dié betrokke stelsel teen Woensdag operasioneel sal wees.

Die buurland aanvaar sedert gister net digitale inentingsertifikate met ’n QR-kode en nie die inentingskaart wat Namibië tans gebruik nie.

Namibië se hoof van sy Covid-19-taakspan, me. Petronella Masabane, het gister bevestig Panabios (die stelsel wat gebruik word) moet ’n fout in die stelsel regmaak en behoort volgens hulle op die laatste Woensdag herstel te wees.

“Ek is nou net deur ’n toetslopie met ons span. In die tussentyd kan reisigers ’n negatiewe PCR-toetsuitslag of kitstoets by die grens toon soos ons nog altyd gedoen het,” het sy gesê.

Die ministerie werk aan die finale tegniese detail vir die elektroniese oplaai van inentingsbesonderhede op die Panabios-stelsel. Tans laat die proses die oplaai van inligting toe, maar die paspoortnommer en verifiëringskode van die ministerie wys nog nie op die stelsel nie. Die hoop is dat dit teen Woensdag gereed sal wees, met ’n verklaring wat dan uitgereik sal word.

Namibië het intussen ook ’n brief aan die Suid-Afrikaanse ambassade gerig waarin ’n versoek vir uitstel of vrystelling vir Namibiërs gevra word van die digitale sertifikaat, totdat die proses suksesvol voltooi is.

“Ons is bewus van die situasie en werk sedert die kennisgewings uitgereik is aan moontlike oplossings,” het Masabane gesê.

Suid-Afrika se nuwe Covid-19-regulasies wat in die Staatskoerant verskyn het, bepaal dat ten volle ingeënte mense bloot hul sertifikaat vir binnekoms hoef te wys en nie meer ’n negatiewe PCR-toets van nie ouer as 72 uur.

Volgens ’n woordvoerder van Airlink word die sertifikaat of die kaart vir reis na Suid-Afrika sonder enige probleme gebruik sedert die Suid-Afrikaanse regulasies gewysig is.

“Daar is nog nie QR-kodes nie, so daar is geen rede om daaroor bekommerd te wees nie,” het hy gesê.

Die ministerie se uitvoerende direkteur, mnr. Ben Nangombe, het reeds in Oktober verlede jaar ’n amptelike brief aan die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking, se uitvoerende direkteur, mnr. Penda Naanda, oor die aanvaarding van ’n digitale inentingsertifikaat gerig.

Nangombe se versoek was dat ’n kennisgewing aan alle ambassades uitgestuur word dat Namibië nog nie ’n digitale inentingsertifikaat gebruik nie. Nangombe wou ook weet watter lande aanvaar nie die land se inentingskaart nie.

Hy het verwys na twee gevalle waar die ministerie moes ingryp toe Namibiese burgers gestrand was in ander lande, nadat hulle hul papiergebaseerde inentingskaarte getoon het. Die rede was omdat dié lande dit nie aanvaar nie.

“Hoewel die ministerie in die proses is om rolspelers te betrek en ’n manier vir ’n digitale inentingsertifikaat te ondersoek, is dit ’n proses,” het Nangombe toe gesê.

Die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), me. Gitta Paetzold, het teen druktyd gesê sy het gister “nog niks van ons owerhede” gehoor nie.

Paetzold het vroeër gesê die enigste opsie vir ten volle ingeënte Namibiërs is dan om noodgedwonge ’n negatiewe PCR-toetsuitslag te wys. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!