Namibië ‘waaksaam’ teen aappokke

Gevalle nog nooit plaaslik aangemeld
Namibiërs het geen rede om paniekerig te raak met die uitbreking van die siekte wat tans wêreldwyd voorkom nie.
Henriette Lamprecht
Geen geval van aappokke is nog ooit in Namibië aangeteken nie, maar die land is egter altyd waaksaam vir enige siekte wat die land mag raak.

’n Wydverspreide uitbreking van aappokke heers tans wêreldwyd, veral in Europa, waar dit nie endemies is nie. Meer as 300 nuwe gevalle is in Mei in 19 lande aangemeld, insluitend Brittanje, Amerika, Australië, België, Kanada, Denemarke, Frankryk, Duitsland en Spanje.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, sê hoewel verskeie gevalle tans in onder meer Europa en Amerika aangeteken is, het Namibiërs geen rede om paniekerig te raak nie.

“Aappokke is welbekend – van die agent wat dit veroorsaak, tot voorkoming, simptome en behandeling,” het Shangula gesê.

Volgens die minister is die duidelikste simptome vergrote limfkliere en rowe.

Sou ’n persoon vermoed hy het aappokke of was moontlik in kontak met iemand wat die siekte onder lede het, sê Shangula moet die ministerie se tolvrye noodnommer 0800100100 geskakel word.

In buurland Suid-Afrika het die uitvoerende direkteur van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), prof. Adrian Puren, gesê die siekte sal waarskynlik sy weg na die land vind, maar hy dink nie die virus wat dit veroorsaak sal epidemies in Suid-Afrika raak nie.

Die land ontvang net soos Namibië baie internasionale reisigers, maar Puren beklemtoon dit kan deur middel van kontaknasporing en om mense wat besmet is, te isoleer en te monitor, hok geslaan word.

Puren het ook beklemtoon dit is nie ’n hoogs aansteeklike virus soos SARS-Cov-2 wat Covid-19 veroorsaak nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) het vroeër die week gesê dit is nog te vroeg om te sê of die onlangse uitbreking van die siekte tot ’n globale pandemie kan lei. Die organisasie erken daar is steeds min besonderhede bekend oor die styging in gevalle in nie-endemiese lande, maar het beklemtoon die risiko vir die publiek bly laag.

Wetenskaplikes is op die oomblik besig met navorsing in ’n poging om te bepaal wat die skielike, ongewone toename in gevalle veroorsaak, gegewe dat die meeste daarvan nie aan reispatrone verbind word nie.

Een kom voor in die Kongo en sentrale deel van Afrika en is meer dodelik. Die ander een is minder dodelik en is afkomstig van Wes-Afrika. Lande waar aappokke endemies is, sluit in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), Nigerië, Kameroen, Ghana, Liberië, Sierra Leone, Suid-Sudan en Ivoorkus.

Aappokke is ’n raar maar oor die algemeen matige virale infeksie wat griepverwante simptome insluitend ’n uitslag, koors, kopseer, lyfseer, swelling en rugpyn kan veroorsaak.

Dit word tipies deur letsels, liggaamsvloeistowwe of materiaal oorgedra wat in kontak was met ’n geïnfekteerde persoon of dier. Geen entstof teen aappokke is kommersieel beskikbaar nie, maar die entstof teen pokke, wat teen 1980 uitgewis is, is 85% doeltreffend daarteen.

Dr. Rosamund Lewis, van die WHO se program vir noodgevalle, het beklemtoon dat geen behoefte vir massa-inentings teen die siekte bestaan nie en daar ook geen rede vir reisbeperkings is nie.

Soos in die geval van Covid-19 word die sosiale media gebruik om verskeie samesweringsteorieë oor die siekte die wêreld in te stuur.

Geen bewyse bestaan egter dat die siekte in ’n laboratorium gekweek is of dat die uitbreking, soos samesweerders met Covid-19 beweer, doelbewus deur Bill Gates of Anthony Fauci, beplan is nie.

Aappokke word ook nie met Covid-19-entstowwe en veral AstraZeneca verbind nie. Aappokke word veroorsaak deur ’n totaal verskillende tipe virus as die een wat in die entstof gevind word. Nog ’n bewering is dat Covid-19-entstowwe die immuunstelsel onderdruk en mense daarom meer vatbaar vir infeksies is. Die teendeel is egter dat entstowwe die immuunstelsel stimuleer en nie uitput nie en dit sodoende meer doeltreffend maak om ’n sekere infeksie te teiken. – Bykomende bronne: Netwerk24/Reuters/BBC

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!