Omicron-subvariante dryf nuwe infeksies

Meer aansteeklik
Die BA.2 het eienskappe wat die verworwe immuniteit omseil, wat die rede vir die skerp styging in infeksies veral die afgelope week kan wees.
Henriette Lamprecht
Die huidige styging in die aantal nuwe Covid-19-gevalle in Namibië word gedryf deur die Omicron-subvariante BA-2 en BA.4, terwyl BA.5 ook in die land in omloop is.

Die subvariante kan meer aansteeklik wees, maar veroorsaak nie ernstige siekte nie.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het egter gewaarsku die BA.2 het eienskappe wat die verworwe immuniteit omseil, wat die rede vir die skerp styging in infeksies veral die afgelope week kan wees.

Teen Saterdag het die positiwiteitskoers op 21,4% gestaan, terwyl dit met die aanvang van die derde golf dieselfde tyd verlede jaar 11,9% was.

Shangula het tydens die amptelike verlenging van die Covid-19-regulasies tot 15 Junie gesê die aantal aktiewe gevalle het van 296 tydens die vorige aankondiging tot 1 034 gestyg.

Agt sterftes is in dieselfde tydperk aangeteken, terwyl die aantal pasiënte wat gehospitaliseer is, met ’n gemiddeld van 17 per dag gestyg het, teenoor die 12 in die voorafgaande 26 dae. Pasiënte in die intensiewesorgeenheid (ICU) het van nul tot die huidige nege gestyg.

Verlede jaar dié tyd het die land se positiwiteitskoers op 11,9% gestaan, wat die aanvang van die derde golf was. Nuwe gevalle is oorwegend in Windhoek, Rehoboth, Okahandja en Otjiwarongo aangeteken en word hoofsaaklik aan tros-uitbrekings in verskeie primêre en sekondêre skole en koshuise toegeskryf.

Shangula het gemaan die winter is hier en dit is gewoonlik die tyd wanneer mense geneig is om naby mekaar te versamel, wat ’n gunstige omgewing vir die verspreiding van die virus skep. Kouer temperature raak ook inwoners se immuunstelsels negatief wat hulle meer vatbaar vir Covid-19 en ander lugweginfeksies maak.

“Dit is hoekom ek Namibiërs vra om nie hul waaksaamheid te verslap nie, veral noudat ons die opwaartse styging in gevalle sien,” het hy gesê.

Volgens die minister het 481 071 mense teen 11 Mei ’n eerste dosis entstof ontvang. Dit is 27% van dié wat vir inentings in aanmerking kom. Sowat 23% is ten volle ingeënt.

Shangula sê as deel van die ministerie se gehaltebeheerprosesse vir inentingsprogramme, monitor en bestuur ’n spesiale komitee alle newe-effekte en nadelige uitwerkings wat verband hou met die toediening van entstowwe wat dié teen Covid-19 insluit.

’n Totaal van 74 personeellede uit 14 streke is intussen opgelei om weer opleiding in dié verband op bedryfsvlak te doen. Evalueringsvergaderings vind ook maandeliks plaas.

Shangula het beklemtoon Namibië het voldoende dosisse entstof om die nasionale inentingsveldtog te ondersteun.

Hy het verwys na die voltooiing van ’n isolasiesentrum met 98 beddens wat by die Katutura-hospitaal voltooi is en wat ook ’n ICU en dialise-eenheid insluit.

Danksy die Walliese regering is twee 4 ton-suurstoftenks aan die distrikshospitale op Gobabis en Grootfontein geskenk. Twee suurstof-genererende stelsels is ook onderskeidelik aan die distrikhospitaal op Katima Mulilo en die gesondheidsentrum op

Nkurenkuru geskenk.

Hoewel die wet nie meer die dra van maskers vereis nie, sê Shangula dit is een van die kritieke ingrypings in die voorkoming van oordrag van infeksie.

“Ek beveel sterk aan dat mense voortgaan om maskers in openbare plekke en by alle openbare byeenkomste insluitend werksplekke, besighede, in vliegtuie, skole en openbare en private instellings te dra.”

President Hage Geingob het op sy beurt gemaan die land is in ’n “kritieke stadium” in sy stryd teen die virus.

“Die winter is op ons. ’n Tyd wat ons geneig is om meer binnenshuis byeen te kom om warm te bly. Dis ’n tyd wat verhoogde persoonlike dissipline en sin van voorsorg vereis om die hoë oordrag van die virus te vermy,” het Geingob gesê.

Hy het ook verwys na ’n “traak-my-nieagtige houding” oor die dra van maskers in openbare ruimtes en groot binnenshuise byeenkomste wat hom bekommer.

“Om dit duidelik te maak, die publiek moet gesonde persoonlike oordeel aan die dag lê en daarom maskers in alle openbare ruimtes dra.”

Hy het ook gesê as eerste linie van verdediging in die stryd teen Covid-19, moet eienaars van besighede aandring op die regte dra van maskers as ’n voorwaarde om tot die perseel toegelaat te word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!