Ons het middelman nodig, sê Shangula

Minister woedend oor kansellasie van tender
Die minister van gesondheid het aangevoer waarom tussenpersone noodsaaklike rolspelers in die ministerie se verkrygingsproses is.
Yandi Du Plessis
Nuusredaksie - Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, Kalumbi Shangula, het vandeesweek gesinspeel die ministerie sal voortgaan om middelmanne in sy grootmaatverkrygingsprosesse te gebruik omdat vervaardigers onder die huidige omstandighede “nie na die ministerie sal luister nie”.

Ter verdediging van die gebruik van tussenpersone, het hy Woensdag in die Nasionale Vergadering ook gesê die ministerie benodig kundiges in sy verkrygingsprosesse.

Miljoene dollars wat aan die ministerie toegeken word, beland in dié tussenpersone se sakke, en die ministerie is al dikwels aangemoedig om sy benodighede direk vanaf vervaardigers te verkry om die maksimun uit sy begroting te kry.

In 2021 het die ministerie ’n tender gekanselleer om Covid-19-entstowwe te bekom nadat die publiek die besluit verwerp het om middelmanne in te span in plaas daarvan om geld optimaal te gebruik om soveel dosisse as moontlik te verkry. Uiteindelik het die ministerie entstowwe direk sonder die gebruik van derde partye ingebring, ’n presedent wat volgens baie die norm in die openbare sektor moet word.

LEWENSVATBAARHEID

“Ons het versoeke gehoor dat die ministerie direk vanaf vervaardigers moet koop. Ons moet eers die uitvoerbaarheid daarvan binne die wet verstaan,” het Shangula gesê.

“Die wet laat die ministerie toe om goedere en dienste ter waarde van tot N$25 miljoen of US$54 000 aan te koop. Geen vervaardiger sal na jou luister wanneer ander aankope ter waarde van miljoene Amerikaanse dollars doen nie.”

Hy het bygevoeg die verkryging van mediese kommoditeite is kompleks en verg ’n begrip van die praktiese aspekte van dié voorsieningsketting – in teenstelling met onbewese teoretiese verwagtinge.

“Dit sal ’n wen-wen-uitkoms wees as kundiges in die voorsieningsketting van mediese produkte geraadpleeg word en hul raad ernstig opgeneem word,” het die minister gesê.

Vanjaar is berig dat ’n tender van N$141 miljoen vir die voorsiening van mediese voorraad aan ’n maatskappy met politieke bande en net een werknemer toegeken is. Vrae is geopper oor hoe hierdie maatskappy, met sy duidelike gebrek aan kapasiteit, verkrygingswerk moontlik meer doeltreffend as die ministerie kan doen.

DUUR PROSES

Shangula het Woensdag die geleentheid gebruik om die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) oor die kole te haal – wat volgens hom die ministerie tot duur noodverkrygingsprosesse gedwing het weens voortdurende vertragings om tenders wat aan die raad voorgelê is, toe te ken.

Hy het gesê ’n meerderheidsaandeel van sy ministerie se begroting word bewillig vir die verkryging van kliniese voorraad, mediese toerusting, farmaseutiese produkte en kapitaalprojekte. En, omdat baie van hierdie aankope die ministerie se interne bestedingsdrempel van N$25 miljoen oorskry, word die grootste deel daarvan aan die CPBN oorhandig om te hanteer.

“Die meeste van die tenders, van spyseniering en kliniese voorraad tot die verskaffing van farmaseutiese produkte, vergaar stof by die CPBN sonder dat die afhandeling daarvan in sig is,” het hy gesê.

“Die ministerie moes noodgedwonge betrokke raak by baie duur noodverkrygingspogings – wat ons pogings om waarde vir geld te verseker, ondermyn.”

Die CPBN moet nie toegelaat word om evaluerings “soos hulle wil” uit te stel nie – ’n proses wat soms ses maande in plaas van 14 dae neem, het Shangula gesê.

“Net soos enige ander openbare entiteit moet die CPBN nie toegelaat word om voort te gaan met die beoordeling van tenders buite die geldigheidstydperk van 180 dae nie.”

LIGTER LAS

Die CPBN het in Februarie tenders vir die verskaffing van mediese voorraad ter waarde van N$2,8 miljard gekanselleer as gevolg van die openbare herrie wat die toekenning van dié kontrakte ontlok het.

Shangula was woedend hieroor en het Woensdag gesê: “Die CPBN moet breedvoerig met openbare entiteite konsulteer voordat hy enige verkrygingsproses kanselleer, soos in die geval van die verskaffing van kliniese items.

“Die redes wat die CPBN vir die kansellasie aangevoer het, kan waar wees vir sommige items, maar daar kan ’n aantal items wees wat geen probleme gehad het nie en toegeken kon gewees het om die las te verminder om nie alle items op kontrak te hê nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!