FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Personeel 'diagnoseer, behandel verkeerd'

Herhaalde klagtes van bloeding, buikpyn
Die ma glo haar dogter se dood is direk verbind met die "onregmatige, verkeerdelike en nalatige optrede" van die mediese personeel wat haar aanvanklik verkeerd gediagnoseer en behandel het.
Henriette Lamprecht
’n Ma eis byna twee miljoen van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, nadat haar dogter voor haar afsterwe verkeerd gediagnoseer en behandel is.

Renate Ndjahera se dogter, Vazembouwa Kavetutjo, is op 18 Junie 2019 na die Wanaheda-kliniek in Windhoek geneem, nadat sy van swaar bloeding en maagpyn gekla het. Sy is na die Katutura-hospitaal verwys waar sy deur mediese personeel ondersoek en bevind is sy is vier tot vyf maande swanger.

Op 18 Junie is Kavetutjo in die Windhoek Sentrale Hospitaal opgeneem en drie dae later is ’n diagnose van ’n septiese aborsie gemaak. Sy het ’n noodoperasie ondergaan om die swangerskapweefsel uit haar baarmoeder te verwyder.

Volgens Ndjahera is haar dogter vier dae later ontslaan, hoewel haar toestand nie verbeter het nie. Sy moes twee weke later weer by die hospitaal aanmeld vir ’n geboortebeperkinginplanting in haar arm. Die inplanting is gedoen en Kavetutjo het volgens haar ma voortgegaan om vir maande daarna steeds te bloei. Sy het ook geweldige pyn ervaar en was “in en uit die hospitaal”.

Op 8 November het sy by die staatshospitaal op Omaruru om hulp aangeklop met vaginale bloeding, rugpyn en laer buikpyn.

Op 25 en 28 November was sy weer by die hospitaal met dieselfde klagtes en is sy na die Katutura-staatshospitaal oorgeplaas. Sy is hier dadelik na die teater geneem vir ’n blindedermoperasie, sowel as die verwydering van die ou hematoom van die afgelope vyf maande.

Laasgenoemde is ’n poel van meestal gestolde bloed wat in ’n orgaan, weefsel of ruimte in die liggaam vorm. Dit word gewoonlik veroorsaak deur ’n stukkende bloedvat wat beskadig is deur chirurgie of ’n besering.

’n Week daarna is sy ontslaan, maar volgens Ndjahera is sy op 6 Desember weer opgeneem. Sy sou weer meer as twee weke in die hospitaal moes bly en op 23 Desember het laboratoriumtoetse van die hematoom gewys sy het endometriële stromale sarkoom, waarin gewasse begin ontwikkel in die ondersteunende verbindingsweefsel (stroma) van die voering van die baarmoeder.

Kavetutjo-hulle is na die onkologiedepartement verwys, maar haar chemoterapie kon nie begin nie. Sy is weer na die Katutura-hospitaal vir verdere toetse verwys en op 11 Januarie 2020 is Kavetutjo dood aan nierversaking as ’n gevolg van die endometriële stromale sarkoom.

Ndjahera sê haar dogter se dood is direk verbind met die “onregmatige, verkeerdelike en nalatige optrede” van die mediese personeel by die Windhoek Sentrale Hospitaal wat haar aanvanklik verkeerd gediagnoseer en behandel het.

“Die vertraging in die behandeling van die hematoom wat gelei het tot ’n klomp mediese probleme en komplikasies, ingesluit die sarkoom en nierversaking, het tot haar dood gelei,” lui hofstukke.

Ndjahera sê alle redelike stappe moes deur personeel geneem gewees het om haar doeltreffend te behandel nadat sy met ’n septiese aborsie gediagnoseer was. Dieselfde geld om enige komplikasies te voorkom wat met die beëindigde swangerskap verband hou.

Haar dogter se lyding het haar gepynig omdat sy as primêre versorger moes sien hoe haar gesondheid agteruitgegaan en uiteindelik vanweë haar mediese toestand gesterf het, sê Ndjahera.

Sy dagvaar die ministerie vir skadevergoeding van N$1,9 miljoen vir onder meer emosionele skok en trauma en toekomstige sielkundige berading.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!