Psemas
Psemas

Psemas moet eers 'hervorm'

Methealth bly steeds administrateur
'n Nuwe verkrygingsproses vir die mediese fonds in sy huidige formaat maak die doelwitte van 'n hervormingsproses sinneloos.
Henriette Lamprecht
Die ministerie van finansies het Methealth as administrateur van die staat se mediese fonds, Psemas, ná ‘n oop, mededingende bodproses aangestel.

Die minister, mnr. Iipumbu Shiimi, het in die parlement gereageer op mnr. Nico Smit van die Popular Democratic Movement se “insinuasie” oor die beweerde verhouding tussen die regerende party, Swapo, en Methealth.

Laasgenoemde is sedert April 2010 verantwoordelik vir die administrasie van Psemas wat aanvanklik met ‘n vyfjaarkontrak begin het en later met 18 maande verleng is.

Die tenderproses vir ‘n nuwe administrateur het uiteindelik in 2020 afgeskop, maar is maande later weer gekanselleer ten spyte van verskeie bieërs wat hand opgesteek en tenderdokumente ingedien het nadat van die vereistes aangepas is.

Volgens Shiimi sal ‘n nuwe verkrygingsproses vir ‘n nuwe Psemas-administrateur in sy huidige formaat, die doelwitte van ‘n hervormingsproses van die fonds in die wiele ry. Die hervormingsproses sloer ook etlike jare, met verskeie konsultante wat al voorstelle voorgelê het om die onvolhoubaarheid van Psemas te takel.

Shiimi sê die fokus is tans “om Psemas eers te herstel” voordat enige ander proses, insluitend die soeke na ‘n nuwe administrateur, onderneem kan word.

Die minister het weer eens erken Psemas is onvolhoubaar en moet totaal hervorm word. Die kantoor van die eerste minister het in dié verband ‘n konsortium konsultante aangestel om onder meer die verskillende opsies wat vir die regering beskikbaar is oor die fonds se volhoubaarheid, te ontleed.

Klem moes veral gelê word op ‘n ondersoek van die geskiktheid van oop en geslote mediesefonds-opsies, insluitend ‘n opsie vir Psemas-lede om by private mediese fondse aan te sluit.

Ondersoek moes ook ingestel word oor die demografie van lede, die bepaling van voordele, bydraes en tariewe, uitgawepatrone, sowel as voorstelle vir volhoubare alternatiewe modelle. Voorstelle moes vervolgens ook gegee word vir alternatiewe operasionele doeltreffendheid, asook die mees geskikte bestuur en administrasie van Psemas.

Volgens Shiimi het die konsortium sy voorlopige verslag ingedien en word dit tans op alle relevante struktuurvlakke van die regering bespreek.

Hy het verduidelik die soektog na ‘n nuwe administrateur vir Psemas het reeds in 2009 begin met ‘n bodproses wat uitgevoer is deur middel van ‘n “mededingende proses in pas met die voormalige Tenderraadwet van 1996”.

Na afloop van die proses is die kontrak aan Methealth vir ‘n tydperk van vyf jaar toegeken. Die aanvangsdatum was 1 April 2010.

Vyf jaar later is dié kontrak vir ‘n tydperk van 18 maande verleng. Die rede volgens die minister was omdat die openbare verkrygingswet toe pas die lig gesien het.

Tydens die begindae van die wet, sê Shiimi moes gestandardiseerde tenderdokumente, kontrakte en ander soortgelyke dokumente nog ontwikkel word om openbare entiteite in staat te stel om die verkrygingsproses onder die nuwe bestel te onderneem.

“Die toekenning van enige kontrakverlengings deur die Sentrale Verkrygingsraad (CPBN) kon dus toe geregverdig word,” het hy verduidelik.

Die ministerie van finansies het in Maart 2020 die verkrygingsraad versoek om met die aanstellingsproses vir ‘n administrateur vir Psemas te begin.

Die tenderproses is in Junie dieselfde jaar geadverteer en volgens Shiimi het die CPBN verskeie versoeke vir duidelikheid oor van die vereistes ontvang. Dit sluit onder meer die gebruik van die woord “administrateur” in die tenderdokument in, omdat dit volgens sekere bieërs Methealth bevoordeel.

“In teendeel word die term algemeen gebruik in verwysing na enige diensverskaffer wat ‘n administratiewe funksie namens mediese fondse vervul,” het Shiimi gesê.

Die ministerie het ook versoeke van voornemende bieërs ontvang om sekere vereistes en spesifikasies in pas met die werklike mark te wys. Dit is volgens Shiimi gedoen.

Die CPBN het in Desember 2020 egter die tender gekanselleer in ooreenstemming met die verkrygingswet aangesien daar nie genoeg belangstelling was nie. ‘n Besluit is geneem om dit weer te adverteer.

Shiimi het beklemtoon sy ministerie het nie opdrag gegee vir ‘n ondersoek of by een betrokke geraak oor die verkrygingsproses nie. – henriette @republikein.com.na

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!