EMPTY PROMISES: Health minister, Kalumbi Shangula and Kavango West Governor, Sirkka Ausiku at the fence of the Nkurenkuru District Hospital.
EMPTY PROMISES: Health minister, Kalumbi Shangula and Kavango West Governor, Sirkka Ausiku at the fence of the Nkurenkuru District Hospital.

Regering se hospitaalbeloftes leeg

Windhoek-distrikshospitaal ’n 'verkiesingsfoefie'
Ten spyte van beloftes van hospitale vir van Ondangwa tot Otjiwarongo, het daar nog dadels van gekom.
Kenya Kambowe
Met die konstruksie van ’n nuwe distrikshospitaal in Windhoek wat tans voorkeur geniet, bly soortgelyke projekte wat reeds sowat tien jaar gelede in Kavango-Wes, Otjozondjupa en Oshana beplan is, steeds net drome.

Dit terwyl byna N$10 miljoen van belastingbetalers se geld reeds aan dit bestee is.

Skaars ’n maand voor die algemene en presidensiële verkiesings in 2014, het die voormalige staatspresident, Hifikepunye Pohamba, op Nkurenkuru in Kavango-Wes ’n baksteen gelê wat volgens hom die sooispitseremonie gesimboliseer het vir ’n moderne verwysingshospitaal. Die hospitaal sou die gesondheidskwessies in die Kavangostreke takel waar toegang tot gesondheidsorg uiters beperk is.

Tot op hede is al wat van die projek gerealiseer het ’n groot stuk grond wat teen ’n koste van meer as N$6 miljoen omhein is. Daar is die afgelope paar jaar ook verskeie kere berig oor die vandalisering van die heining. Miljoene Namibiese dollar is ook bestee aan omgewingsimpakstudies vir die projek.

Ses jaar gelede is berig ’n staatshospitaal sou op Otjiwarongo teen ’n koste van sowat N$720 miljoen gebou word. Ook dit het net ’n droom gebly. Hiervoor is ’n stuk grond van 20 hektaar in 2014 toegeken met konstruksie wat in drie fases aangepak sou word.

GOEWERNEUR

Otjozondjupa se goewerneur, James Uerikua, is drie weke gelede deur die nasionale uitsaaier (NBC) aangehaal waar hy gevra het dat ’n verwysingshospitaal in sy streek gebou moet word.

Ook in Oshana het die regering ’n moderne verwysingshospitaal beloof, maar tot vandag het daar nog dadels van gekom.

’n Moderne hospitaal met 1 000 beddens is vir Ondangwa beplan, maar soos al die bogenoemde projekte moet dit nog realiseer. Vir dié hospitaal is erf 2372 wat 19 hektaar beslaan aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste vir die konstruksie van die hospitaal toegeken.

Die gesondheidsminister, dr. Kalumbi Shangula, het by navraag oor die Ondangwa-distrikshospitaal gesê die huidige fokus is op die konstruksie van die nuwe distrikshospitaal in Windhoek.

“Hoekom vra jy oor die een in Ondangwa en nie die een in Windhoek nie? Ons is nou besig met die een in Windhoek. Ons kan net een op ’n slag bou. Vandag gaan ons die sooispitseremonie vir die een in Windhoek doen,” het Shangula gesê.

SOOISPITSEREMONIE

Die seremonie in die informele nedersetting Havana in die hoofstad vir die nuwe distrikshospitaal is met gemengde gevoelens ontvang. Sommige voel dit is deel van Swapo se politieke veldtog om stemme te werf vir later vanjaar se nasionale en presidensiële verkiesings. Volgens hulle is dieselfde hospitaal net voor die verkiesings in 2019 beloof.

“Is dit dieselfde distrikshospitaal wat belowe is gebou sou word tydens die 2019-verkiesings? Die leuenaars moet ophou dink almal is dom,” het die leier van die Namibia Economic Freedom Fighters (NEFF), Micheal Amushelelo, op Facebook gesê.

Mathew Mvula het geskryf “wanneer dit tyd is om te smeek vir stemme, maak hulle almal simpel beloftes”.

“Wat het met die Otjiwarongo-hospitaal gebeur, ons kon almal vandag werk gehad het? Wie moet hiervoor blameer word, ons wil asseblief antwoorde hê. Swak ontwikkeling in ons streek,” het Oukule Koop gesê.

Volgens die politieke kommentator Ndumba Kamwanyah is diegene wat die regering se huidige beloftes op grond van vorige leë beloftes kritiseer, nie verkeerd nie.

Kamwanyah sê vir die regering om dié tipe reaksie te vermy, moet hulle die beloftes uitvoer wat gemaak is.

“Vir my, hoewel die tydsberekening verdag is, kom dit neer op implementering. Ons het ’n probleem in hierdie land. Ons het goeie beleidsrigtings en inisiatiewe, maar wanneer dit by die werklike implementering daarvan kom, vat dit jare voor dit gebeur.

“Ek weet nie of dit ’n kwessie van kundigheid of vaardighede of leierskap is nie, ek weet nie. Hulle moet dus nie mense blameer wat sê dit is net nog ’n slenter of manier van Swapo om stemme te werf nie.

“Dit is ongelukkig dat weens die feit dat projekte nie geïmplementeer word nie, dat mense belangrike inisiatiewe bevraagteken soos een wat werklik nodig is en verwelkom moet word.

“Dit is ’n belangrike ontwikkelingsinisiatief en sal die lewe van so baie mense in Windhoek positief raak. Omdat projekte nie geïmplementeer word nie, word goed deur inwoners bevraagteken.

“Dit is nie waar ons wil wees nie. Die regering kan vermy dat mense so voel as hulle hul beloftes nakom,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!