‘Social babies’ lank in staatshospitaal gelos

Beskikbare skuilings vol
Daar is 'n toenemende behoefte vir die plasing van mishandelde, verwaarloosde en verwerpte kinders in Namibië.
Henriette Lamprecht
*Nando is ’n mooi seuntjie, maar dit is duidelik omgee en liefde was nie deel van sy kort lewetjie nie. Nando byt die ander kinders in die saal in die Katutura-staatshospitaal waar ’n maatskaplike werker hom gelos het, huil die aande om en skree vir sy “Mamma”.

*Palesa word in die respiratoriese saal gehou en is ook ’n “social baby”, babas wat deur maatskaplike werkers van die staat in die hospitaal geplaas word totdat ’n veilige tuiste of geskikte pleegsorg vir hulle gevind kan word. Palesa se ontwikkeling is agter en sy is glo reeds ’n jaar in die hospitaal.

’n Tweeling se lêer bevat glo geen inligting oor waar hulle vandaan kom en wat die planne vir die toekoms vir die twee babas is wat reeds vir maande in die hospitaal is nie.

Volgens ’n ingeligte bron wat ook foto’s van die babas aan Republikein gestuur het, is van die ander “social babies” reeds vir nege maande in die babasaal. Van die foto’s sluit die vuil klere in wat die babas glo vier dae en langer dra.

“Hul beddens is vol kos en vuil. Jy kan amper nie naby die babas wees nie, want hulle stink so van die urine,” sê die bron.

Volgens die bron “hoort” die babas nie in die hospitaal nie, “want hulle kry nie treatment nie, maar die social workers los hulle net hier. Hulle het liefde nodig en iemand wat omgee, maar niemand doen nie.”

Personeel verander ook glo elke maand wat volgens die bron maak dat “hierdie babas nie een persoon in hul lewens het wat altyd daar is vir hulle nie”.

Die bron beweer ook dat ’n “vrou met ’n babahuis” sou gesê het sy “moes ’n dokter dwing om ’n baba te ontslaan want hy was besig om dood te gaan as gevolg van wanvoeding”.

Die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, Ben Nangombe, het by navraag erken die ministerie is bewus van die babas wat by die Katutura-staatshospitaal opgeneem word.

Tans is daar agt kinders tussen die ouderdomme van twee maande en twee jaar wat in die staatshospitaal vir hul beskerming geplaas is. Drie is in onderskeidelik Mei en September verlede jaar hier geplaas en vyf in Februarie vanjaar.

Volgens Nangombe word hulle hier geplaas weens hangende hofbevele ingevolge die wet vir kindersorg- en beskerming (CCPA). Tydens hul opname word die betrokke babas in pediatriese sale uitgeplaas en word die staatshospitaal volgens die wet as ’n tydelike plek van veiligheid beskou.

Volgens hom is daar ’n toenemende behoefte vir die plasing van mishandelde, verwaarloosde en verwerpte kinders in Namibië.

“Die wet vir kindersorg- en beskerming bepaal enige persoon wat professionele of amptelike pligte uitvoer, asook enige ander persoon mag vermoedelike verwaarlosing en mishandeling by enige maatskaplike werker in diens van die staat of ’n lid van die polisie aanmeld.

“Die staat het maatskaplike werkers in diens, sowel as die polisie wat verantwoordelik is vir onmiddellike optrede sou daar ’n redelike vermoede bestaan dat ’n misdaad gepleeg is of gepleeg gaan word. Die kinders wat daarom opgeneem word vir beskermende dienste, word deur die maatskaplike werkers of lede van die polisie na die Katutura-staatshospitaal gebring,” het Nangombe verduidelik.

Nangombe sê wanneer ’n verslag deur ’n maatskaplike werker of lid van die Namibiese polisie vrygestel word dat ’n kind vermoedelik verwaarloos of mishandel word, moet die betrokke kind vir mediese aandag en waarneming na die hospitaal gebring word.

Sou die betrokke kind of dan baba enige tekens van verwaarlosing of mishandeling toon, word hy of sy hangende die ondersoek deur die maatskaplike werker in die hospitaal opgeneem.

Volgens Nangombe soek die maatskaplike werker die volgende 48 uur vir tydelike skuilings of plasing by pleegouers of dan toesig vir die betrokke minderjarige.

“Wanneer kinders in die sale geplaas word, is dit ná lang oorweging van faktore en gevolge en die beste belang van die kind.”

Volgens Nangombe word dié betrokke kinders in aparte kamers weg van siek kinders geplaas en kom hulle “skaars in aanraking met die ander siek kinders”.

Hy het ook gesê die plasing van die kinders in die hospitaal is net ’n tydelike maatreël totdat die ondersoeke deur die maatskaplike werkers van die ministerie voltooi is.

Nangombe erken die stygende aanvraag en behoefte aan beskermingsdienste vir kinders wat vermoedelik verwaarloos of mishandel word of hulle in ’n gevaarlike situasie bevind, het ’n reuselas op die ministerie in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn geplaas “omdat die beskikbare skuilings altyd vol is of omdat die soektog na ’n geskikte huis vir pleegsorg tot lang prosedures lei”.

Die meeste van die babas wat tans noodgedwonge ’n tuiste in die Katutura-hospitaal moes vind, het wettige voogde en ouers.

Sommige word egter uit die sorg van hul ouers en voogde verwyder omdat maatskaplike werkers sien die kind moet beskerm word en is kwesbaar vir mishandeling. * Skuilname

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!