Sorgeenheid wil ’n verskil maak

Palliatiewe sorg vir kankerpasiënte in pyplyn
Die Kankervereniging van Namibië hoop om die nood vir palliatiewe sorg vir kankerpasiënte te verlig.
Irene Van Der Walt
“Daar is veral ’n reusebehoefte onder die finansieel kwesbare mense in ons land. Hierdie is nie gemik om kritiek te lewer teenoor die ministerie se tekortkominge nie. Ons was al talle kere in die veld en ons het pasiënte onder bome in ondraaglike pyn sien sterf, daarom is dit kritiek vir ons mense.”

Só het mnr. Rolf Hansen, uitvoerende hoof van die Kankervereniging van Namibië (CAN), gesê oor die palliatiewe sorgeenheid wat dié organisasie beoog om op te rig.

’n Belegging ter waarde van N$10 miljoen sal die eenheid – wat in onkologiese palliatiewe sorg sal spesialiseer – ’n werklikheid maak.

“Die verskil tussen gewone palliatiewe sorg en onkologiese palliatiewe sorg is dat onkologiese palliatiewe sorg meer fokus op pynbeheer en die gehalte van ’n pasiënt se lewe,” sê Hansen.

Die palliatiewe sorgeenheid sal volgens hom van die nuutste tegnologie gebruik maak om pasiënte se pyn te bestuur.

’n Spuitbeheertoestel (syringe driver) word gebruik wat medikasie teen ’n konstante spoed toedien. Tans ontvang pasiënte hul pynmedikasie in dosisse, wat daartoe kan lei dat pasiënte kort voor hul volgende medikasie weer in ondraaglike pyn is.

Die eenheid sal 25 pasiënte kan akkommodeer, waarvan vyf beddens vir akute gevalle geoormerk is. Tien personeellede sal in skofte van 24 uur per dag, sewe dae per week werk.

Fisioterapeutiese en maatskaplike ondersteuning asook alternatiewe vorms van terapie, soos musiekterapie sal by die sentrum aangebied word, volgens Hansen.

Kenners uit Suid-Afrika sal ook genader word om die CAN-span in die palliatiewe sorg van kankerpasiënte op te lei.

Hansen glo hierdie opleiding is uiters belangrik om dié span in staat te stel om die gemeenskap op te lei om hul geliefdes self te versorg.

“Pasiënte het nie altyd ’n verpleër nodig nie. Ons kan hulle geliefdes leer hoe om vir hulle te sorg," sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer