Stigma oor kanker leef steeds voort

Irene Van Der Walt
Die Kankervereniging van Namibië (CAN) het Maandag op Longkankerdag ’n nasionale week vir kankerbewusmaking van stapel gestuur.

Mnr. Kushi Tjiriange, die registrateur van die nasionale kankerregister, het tydens die geleentheid gesê Namibië het in die twee jaar voor die Covid-19-pandemie ’n afname in die aanmelding van kankergevalle waargeneem.

Hy sê ’n hoër kankersyfer is eintlik ’n goeie teken aangesien dit aandui dat mense wat vermoed dat hul kanker het, dit aanmeld en die nodige behandeling kry.

Mnr. Rolf Hansen, uitvoerende hoof van die Kankervereniging (CAN), het onlangs gesê stigmas teen kanker leef steeds voort. Volgens Tjiriange weier talle mense wat vermoedelik kanker het om vir behandeling te gaan of hul diagnose te bevestig, weens die stigma dat kanker ’n soort betowering is.

“Baie mense glo kanker is ’n vloek en soek dus toordokters of tradisionele genesers se hulp eerder as mediese behandeling,” het dr. Laina Iiyambo, ’n kliniese en bestralingspesialis van die Dr AB May Kankersorgeenheid en die Namibiese Onkologiesentrum, gesê.

Borskanker was tussen 2015 en 2019 steeds die mees algemene kanker in Namibië met gemiddeld net minder as dubbel die voorkomssyfer van servikale kanker.

Meer gevalle van prostaatkanker is in 2015, 2017 en 2018 aangemeld as servikale kanker, maar steeds is hierdie tipe kanker derde op die register.

Tjiriange het gesê die statistiek vir 2020 en 2021 is nog nie beskikbaar is nie, maar dat dié tydperk se statistiek belangrik sal wees om die narratiewe rondom kanker beter te kan bepaal.

“As daardie jare se syfers te laag is, kan ons bepaal of die afname in ons syfers van 2018 en 2019 ’n tendens is wat voortleef en of daar ander faktore is wat tydens daardie twee jaar ons syfers beïnvloed het,” het hy gesê.

Die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, het gesê dit is belangrik om die stigma oor kanker uit te wis.

“oKankera is die woord waarmee ons grootgeword het. Iemand sou dit sê en almal sou bang wees. Vir ons was dit ’n doodstraf, maar dit is nie noodwendig ’n doodstraf nie,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!