Toeka se medisyne vir vandag se gebruik

40% van farmaseutiese produkte het ’n natuurlike basis
Die WHO het verlede maand die eerste wêreldberaad vir tradisionele medisyne gehou, met deelnemers wat hulself daartoe verbind het om die potensiaal van bewysgebaseerde tradisionele, aanvullende en geïntegreerde medisyne (TCIM) te ontwikkel.
Henriette Lamprecht
Vir eeue reeds is tradisionele- en aanvullende medisyne ’n integrale bron van gesondheidsorg in huishoudings en gemeenskappe, met die vraag na kruiemedisyne en natuurlike produkte wat voortdurend styg. Dit was en is oor die jare heen aan die voorpunt van medisyne en wetenskap, met sowat 40% van farmaseutiese produkte wat vandag ’n natuurlike produkbasis het. Baanbrekersmedikasie soos aspirien en behandelings vir kinderkanker het onder meer uit tradisionele medisyne ontstaan.

Namibië, een van 170 lidlande van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO), rapporteer aan die organisasie oor die land se gebruik van tradisionele medisyne en het die WHO versoek om bewyse en data beskikbaar te stel om plaaslike beleidsrigtings, standaarde en regulasies te ontwikkel vir veilige, kostedoeltreffende en gelyke toegang tot die gebruik van tradisionele medisyne in die land.

Die WHO het verlede maand die eerste wêreldberaad vir tradisionele medisyne gehou, met deelnemers wat hulself daartoe verbind het om die potensiaal van bewysgebaseerde tradisionele, aanvullende en geïntegreerde medisyne (TCIM) te ontwikkel. Dit in ’n poging om vooruitgang tot universele gesondheidsdekking, asook die bereiking van die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte teen 2030 tot voordeel van die welstand van die planeet en sy mense, te verwesenlik.

Deelnemers aan die beraad wat in Gandhinagar in die Gujarat-deelstaat van Indië gehou is, het gesondheidsministers, wetenskaplikes, praktisyns in tradisionele medisyne, gesondheidsorgwerkers asook lede van die burgerlike samelewing vanuit 88 lande ingesluit. Inheemse groepe uit verskillende lande waaronder Bolivië, Brasilië, Kanada en Guatemala vir wie TCIM ’n fundamentele rol in gesondheidsorg sowel as hul onderskeie kulture en lewensbestaan speel, het ook die beraad bygewoon. Tans het sowat 100 lidlande TCIM-verwante nasionale beleidsrigtings en strategieë in plek. In baie lande vorm TCIM-behandelings deel van die noodsaaklike medisynelyste en gesondheidsdienspakkette en word deur nasionale mediesefondsskemas gedek. ’n Groot meerderheid soek die ingryping van TCIM vir die behandeling, voorkoming en bestuur van nie-oordraagbare siektes, palliatiewe sorg en rehabilitasie.

Dr. Bruce Aylward, die WHO se assistent-direkteur-generaal vir universele gesondheidsdekking, het egter gemaan ’n groter bewysebasis is nodig om lande in staat te stel om die gepaste regulasies en beleidsrigtings te ontwikkel. Die beraad het ook die belangrike rol beklemtoon wat kunsmatige intelligensie kan speel om meer komplekse beskikbare data oor tradisionele medisyne te ontgin en ook praktyke te identifiseer wat belofte vir verdere wetenskaplike ontwikkeling inhou. Met etiese- en billike veiligheidheidsmaatreëls kan dié bewyse uiteindelik lei tot beleidsrigtings wat die veilige en doeltreffende gebruik van tradisionele medisyne in gesondheidstelsels versnel. Die senior strategiese raadgewer en leier van die WHO se globale sentrum vir tradisionele medisyne, dr. Shyama Kuruvilla, het op haar beurt beklemtoon ’n lang pad lê nog voor in die gebruik van wetenskap om die volle potensiaal van TCIM verder te verstaan en te ontwikkel om mense se gesondheid en welstand in harmonie met dié van die planeet te verbeter.

Die WHO se sentrum in Jamnagar is met finansiering van US$250 miljoen in Indië opgerig en die organisasie het in 2019 sommige tradisionele medisynes ingesluit in sy internasionale klassifikasie van siektes – ’n invloedryke katalogus wat dokters dikwels gebruik om mediese toestande te diagnoseer.

Met miljarde mense wêreldwyd wat reeds tradisionele medisyne gebruik, sê Kuruvilla die WHO moet fokus op maniere om dit in konvensionele gesondheidsorg te integreer en op wetenskaplike gebiede met ander saamwerk om ’n duideliker begrip van die gebruik daarvan te kry. Hoewel die meeste navorsers wat tradisionele medisyne bestudeer hieroor saamstem, is sommige skepties of die beraad ’n sinvolle bydrae gaan lewer.

Tans beskou die WHO tradisionele- en aanvullende medisyne as dié wat dissiplines soos Ayurveda, joga, homeopatie en ondersteunende terapieë insluit. Die WHO sluit net ingrypings of stelsels in sy riglyne in wat streng wetenskapgebaseerd is en wat bevestig is deur middel van sistemiese evaluerings en beheerde proefnemings.

Kuruvilla beklemtoon daar moet wêreldwye standaarde vir die multimiljarddollar-industrieë in natuurlike skoonheidsmiddels en kruiemedisyne wees. Vir holistiese ingrypings soos joga moet navorsers wetenskaplike metodes ontwikkel wat kultuur en konteks in ag neem, sê sy.

Lisa Susan Wieland, die direkteur van Cochrane se aanvullende medisyne-afdeling aan die Unversiteit van Maryland se skool vir geneeskunde, het op haar beurt gesê die kwaliteit en kwantiteit van navorsing vir tradisionele medisyne moet verbeter voordat omvattende verklarings oor die veiligheid en doeltreffendheid daarvan gemaak word.

“Baie het oor die afgelope 15 jaar verander. Waar daar voorheen onvoldoende navorsing van goeie gehalte was om te bepaal wat werk en wat nie, sien ons nou meer en beter navorsing oor sommige tradisionele medisynes,” het sy gesê.

Sommige wetenskaplikes het kommer uitgespreek dat die beraad kan lei tot die onkritiese bevordering van tradisionele medisyne. Die paneel van kenners wat die beraad gereël het, het ook ’n mening in die Journal of Ayurveda and Integrative Medicine gepubliseer waarin hulle die benadering van Westerse medisyne teenoor tradisionele medisyne bespreek het, met laasgenoemde wat fokus op die verband tussen die brein, liggaam en gees.

“Dit beteken glad nie om sagkens met wetenskap om te gaan nie,” sê sy. “Dit beteken in werklikheid om krities oor tradisionele medisyne en die wetenskap te dink om te vra: ‘Het ons die regte metodes om meer komplekse verskynsels op die regte manier te verstaan?’” – Bronne: WHO/Sciencedaily

[email protected]

BLOKKIE:

*Tradisionele medisyne is die somtotaal van die kennis, vaardighede en praktyke gebaseer op die teorieë, geloofsrigtings en ervarings inheems aan verskillende kulture en wat gebruik word in die instandhouding van gesondheidsorg, sowel as in die voorkoming, diagnose, verbetering of behandeling van fisieke- en geestesgesondheid.

*Aanvullende/alternatiewe medisyne verwys na ’n breë stel gesondheidsorgpraktyke wat nie deel vorm van die betrokke land se eie tradisionele- of konvensionele medisyne nie en ook nie ten volle in die dominante gesondheidsorgstelsel geïntegreer is nie.

*Kruiemedisyne sluit in kruie, kruiemateriale en mengsels wat aktiewe bestanddele van plante of ander plantmateriale of kombinasies daarvan insluit.

Kommentaar

Republikein 2025-04-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer