FOTO CLINITOUCH
FOTO CLINITOUCH

Toep wil hospitaaleise verminder

Werklik ‘ouma-bestand’
Die gesondheidstoep is maklik toeganklik en vereis 'n slimfoon en toegang tot die internet.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – ’n ‘Ouma-bestande’ toepassing wat gebore is uit ’n behoefte om die gesondheid van lede met chroniese siektes te verbeter en sodoende hul opname weens die siektes in hospitale te verminder, is eersdaags ook in Namibië beskikbaar.

Die mediesefondsbedryf het tydens die 2022-’23-voordelejaar ’n verlies van N$500 miljoen aangeteken, met die finansieringsbedryf wat weens verskeie redes – wat ’n kommerwekkende neiging van hoë hospitaaleise insluit – finansieel swaar trek.

Die toepassing, Clinitouch, word reeds vir byna ’n dekade suksesvol in die Britse nasionale gesondheidstelsel (NHS) gebruik en het sedertdien na ontwikkelende lande versprei.

Clinico Health, die administrateur van die mediese fonds Heritage Health, is die gesertifiseerde vennoot vir Clinitouch Global in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC). Die toepassing is gratis vir alle Heritage Health-lede beskikbaar, en teen ’n tarief vir nielede, ander mediese fondse en kliniese praktyke.

Die uitvoerende hoof van die Clinico Health Group, dr. Elton Black, sê die Covid-19-pandemie het die maatskappy die waarde van en behoefte vir virtuele dienste geleer en “ons die vertroue gegee om Clinitouch uit te rol”.

“Die mediesefondsbedryf trek voordeel daaruit omdat die gebruik van die toep tot minder en korter hospitaalopnames sal lei,” het Black gesê.

Die toep sal ook dienskoste met betrekking tot chroniese medikasie en konsultasies volgens hom verminder, terwyl dit ook die nakoming van die neem van alle medikasie, pille en inspuitings monitor. Laasgenoemde lei op sy beurt tot die gebruik van laer dosisse en ’n kleiner behoefte om ’n dokter persoonlik te besoek.

In ’n neutedop bemagtig Clinitouch mense met chroniese siektes om ’n gesonder leefstyl te handhaaf wat tot minder hospitaalbesoeke lei omdat hul siektetoestande doeltreffend bestuur word.

Die moniteringsdiens word via ’n slimfoon, tablet of skootrekenaar aan die pasiënt gebied wat lesings soos onder meer bloedglukose of bloeddruk op die betrokke toestel invoer.

Die toepassing kan gratis van die Apple- en Android Play Store afgelaai word en is maklik toeganklik met ’n slimtoestel en die beskikbaarheid van internet.

“Deelname vereis net die vermoë om slimtoestelle te gebruik. Die toepassing is doelbewus ontwerp om baie maklik te wees om te gebruik. Die gemiddelde gebruiker in Brittanje se nasionale gesondheidstelsel is 77 jaar. Dit is daarom by wyse van spreke werklik ‘ouma-bestand’!”

Bykomend tot die invoer van hul inligting, voltooi pasiënte op vasgestelde tye ook ’n kort opname.

Die toepassing ontleed die inligting en verskaf dit aan ’n gesondheidsdiensverskaffer wat dan die gepaste stappe doen.

“Clinitouch hou tred met gebruikers se inligting sodat vroeë tekens van agteruitgang in gebruikers se gesondheid gouer opgespoor kan word en wat pasiënte in staat stel om bykomende ondersteuning en ingryping te soek,” sê Black.

Interne toetse en verstellings van die Clinico-platform word tans gedoen, terwyl die regstreekse diens van die toep met ’n paar vrywillige lede van Heritage Health ook in November afgeskop het. Die regstreekse toetsfase strek oor ’n tydperk van twee weke, met die finale produk vir massa-ontplooiing wat teen einde vandeesmaand gereed sal wees.

Hoewel die toep gratis vir alle lede van Heritage Health sal wees, is dit volgens Black ook vir nielede teen ’n “baie bekostigbare prys” beskikbaar.

Die toep se platform ondersteun 25 chroniese toestande, insluitend MIV, maar gaan plaaslik eers fokus op tipe 2-diabetes en hoë bloeddruk.

Black sê die toep bied die moontlikheid van ’n uitgebreide praktyk wat dokters help om nie net meer pasiënte nie, maar ook diegene te help wat regtig prioriteitsorg benodig. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!