TransNamib betaal nie mediese fonds
Afgetredenes se subsidie vanaf 2024 opgeskort
Renaissance Health Medical Aid Fund het huidige werknemers en lede van die fonds laat weet hul lidmaatskap word weens wanbetaling vanaf Maandag 24 Julie opgeskort.
Henriette Lamprecht – Afgetrede werknemers van TransNamib en hul afhanklikes se maandelikse subsidie van N$75 vir bydraes tot ’n mediese fonds, gaan gestaak word omdat die maatskappy “eenvoudig nie die geld het” om dit te betaal nie.
Die besluit raak 387 pensioenarisse, met TransNamib wat maandeliks meer as N$2 miljoen gaan spaar.
Enkele dae nadat ’n kennisgewing deur die maatskappy se waarnemende uitvoerende hoof, Webster Gonzo, hieroor aan betrokkenes uitgereik is dat dit van ingang 1 Januarie 2024 sal geld, het Renaissance Health Medical Aid Fund (RMA) huidige werknemers en lede van die fonds laat weet dat hul lidmaatskap vanaf Maandag 24 Julie opgeskort is. Die rede soos vervat in ’n brief van Gabriel Tjombe, voorsitter van RMA se raad van trustees, is omdat TransNamib reeds vir etlike maande nie lede se maandelikse premies betaal het nie.
Tjombe verwys na ’n klousule van die fonds wat bepaal die wanbetaling van bydraes vir meer as 90 dae kan lei tot die opskorting en uiteindelike beëindiging van lidmaatskap.
Roland Struwig, bemarkingsbestuurder van die Prosperity Groep van Maatskappye, het by navraag gesê RMA verkies om in die huidige stadium nie ’n openbare verklaring oor die kwessie uit te reik nie.
“Ons heg waarde aan ons verhouding met TransNamib en het vertroue in die voortgesette gesprekke met die maatskappy om die situasie op te los. Ons bly verbind daartoe om die gesondheid en welstand van al ons lede te verseker en werk onverpoos na ’n oplossing,” lui die verklaring.
TransNamib het by monde van sy bestuurder vir kommunikasie, Abigail Raubenheimer, gesê die maatskappy was “totaal deursigtig” met aandeelhouers, werknemers en die publiek oor sy “uitdagende finansiële situasie”.
“Vir ’n maatskappy wat uitsluitlik afhanklik is van spoorbeweging, het die afname in spoorbedrywighede weens uitdagings in kapasiteit ’n nadelige invloed op TransNamib se kontantvloei gehad,” het Raubenheimer verduidelik.
In ’n poging om die oorlewing van die maatskappy te waarborg, moet die maatskappy daarom drasties sy uitgawes sny.
Met verwysing na die betrokke pensioenarisse waarvan sommige ouer as 80 jaar oud is en wat nou skielik ’n ander heenkome moet soek, het Raubenheimer gesê hulle kan steeds aanbly as lid van hul betrokke mediese fondse, maar teen eie koste. Voormalige en huidige werknemers het ’n keuse tussen Namibia Health Plan (NHP) en RMA.
“Hul lidmaatskap sal net opgehef word as hulle so verkies. Die maatskappy kanselleer nie dié afgetrede werknemers se mediese fonds nie. TransNamib is net nie meer in ’n finansiële posisie om ’n bydrae tot die koste van hul mediese fonds te maak nie.” Pensioenbetalings word nie deur die besluit geraak nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie