Triljoene sigaretfilters besoedel Moeder Aarde

Henriette Lamprecht
Jaarliks kos die tabakbedryf die wêreld meer as agt miljoen menselewens, 600 miljoen bome, 200 000 hektaar grond, 22 miljard ton water en 84 miljoen ton CO2. ’n Verslag oor die omvang van die impak van tabak op mense se gesondheid en die omgewing, sê die meerderheid tabak word in lae- en middelinkomstelande gekweek. Dit is juis hier waar water en landbougrond dikwels broodnodig is om voedsel vir die streek te produseer. Instede hiervan word dit gebruik om tabak te plant, met meer en meer grond wat ontbos word.

Met Wêreld Anti-tabakdag wat Dinsdag (31 Mei) wêreldwyd gevier is, het die WHO ’n verslag vrygestel wat fokus op tabak wat besig is om die wêreld te vergiftig. Die verslag maan die bedryf se koolstofspoor van produksie, verwerking en die vervoer van tabak is gelykstaande aan een vyfde van die CO2 wat jaarliks deur die kommersiële lugvaartbedryf geproduseer word. Dit is ’n verdere bydrae tot globale verhitting.

Die WHO se direkteur vir bevordering van gesondheid, dr. Ruediger Krech, het gemaan tabakprodukte is die rommel wat die meeste op die planeet gestrooi word. Volgens hom bevat dit meer as 7 000 toksiese chemikalieë, met sowat 4,5 triljoen sigaretfilters wat die wêreld se oseane, riviere, sypaadjies, parke, grond en strande jaarliks besoedel.

Volgens die verslag dra produkte soos sigarette, rooklose tabak en e-sigarette ook by tot die opbou van plastiekbesoedeling. Sigaretfilters bevat mikroplastiek en is die tweede hoogste vorm van plastiekbesoedeling wêreldwyd.

Dit maan ten spyte van die tabakbedryf se bemarking daar is geen bewyse dat filters enige bewese gesondheidsvoordele inhou nie. Die verslag beklemtoon die koste om die rommel van tabakprodukte op te tel, is vir die belastingbetaler eerder as die bedryf wat in die eerste plek die probleem geskep het. Dit verwys na China en Indië waar dit jaarliks dié lande onderskeidelik sowat US$2,6 miljard en 766 miljoen US$ kos. Vir Brasilië en Duitsland beloop die koste meer as US$200 miljoen.

Lande soos Frankryk en Spanje en stede soos San Francisco en Kalifornië in Amerika het suksesvol wetgewing geïmplementeer wat die tabakbedryf verantwoordelik maak vir die besoedeling wat dit veroorsaak.

Die WHO het ’n beroep op lande en stede gedoen om dié voorbeeld te volg en ook tabakboere te ondersteun om na volhoubare gewasse oor te skakel, sterk tabakbelasting te implementeer wat ook omgewingsbelasting insluit en ook ondersteuningsdienste te bied aan mense wat wil ophou rook. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!