Tuiste vir swanger vroue ’n wit olifant

Kenya Kambowe
’n Ultramoderne tuiste vir swanger vroue op Outapi wat oor ’n tydperk van 11 jaar gebou is en twee jaar gelede deur drie ministers ingewy is, gaar sedertdien stof op.

Die tussentuiste Tukwathela in amptelik op 22 Augustus 2022 deur die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, die minister van arbeid, werkskepping en nywerheidsbetrekkinge, Utoni Nujoma, asook die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Erastus Uutoni, ingewy.

Die tuiste het ten doel om die lot van swanger vroue te takel wat oor die jare in tente onder bome moes kamp om nader aan gesondheidsorgdienste te wees.

Die tuiste is egter nog nie in gebruik geneem nie en bosse, gras en struike het die tuin oorgeneem.

Die voormalige presidentsvrou Penehupifo Pohamba is die beskermvrou van die skuiling.

Tans word swanger vroue op Outapi in plakkershutte gehuisves, wat deur die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) gefinansier is.

Nadat die plaaslike media jare lank oor dié swanger vroue se lot berig het, is daar sedert 2013 meer as N$5 miljoen ingesamel om die tuiste te bou.

Die barmhartige Samaritane het onder meer die Ombalantu Tradisionele Owerheid, die Omusati-streekraad, die Outapi-dorpsraad, Standard Bank, die Wêreldgesondheidsorganisasie en Namport ingesluit.

Die projek het egter – ten spyte daarvan dat dit voltooi en ingewy is – stilgestaan glo as gevolg van bestuurskwessies.

EIENAARSKAPKWESSIE

By navraag vir kommentaar, het Omusati se gesondheidsdirekteur, Alfons Amoomo, gesê die skuiling val nie onder die vaandel van die ministerie van gesondheid nie en het navrae na Omusati se goewerneur, Erginus Endjala, verwys.

Hy het verduidelik die rede dat die skuiling nog nie in gebruik geneem is nie, is weens ’n bestuurskwessie, en gesê aangesien die ministerie nie vir ’n opsigter kan betaal nie, was daar ’n gekibbel oor wie dié koste moet dra.

“Die probleem is die bestuur van die sentrum en dan die eienaarskap – wie gaan vir daardie fasiliteit sorg? Want die minister van gesondheid sê nee, hulle is nie die bewaarder nie. Dan sê die dorpsraad ook nee, hulle het net die grond geskenk.

“Gevolglik is daar toe besluit dat die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling – deur die streekraad – die bewaarder moet wees,” het hy gesê.

BEPERKTE PLEK BESKIKBAAR

Endjala het gesê terwyl die eienaarskap- en bestuurskwessies getakel word, het die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kultuurorganisasie (Unesco) geld aan die raad geskenk, wat gebruik is om matrasse vir die skuiling aan te skaf.

Op die oomblik word swanger vroue in die DBN-sinkplaatstruktuur gehuisves, met diegene wat sewe tot nege maande swanger is wat ’n eenmalige fooi van N$20 moet betaal.

Met beperkte plek wat beskikbaar is, kampeer swanger vroue – veral dié van Angola en ander verafgeleë gebiede – egter in ’n oop veld naby die hospitaal.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

#N/A #REF! #N/A