Twee entstowwe teen malaria bring verdere hoop vir Afrika

Belangrike toevoeging in stryd teen die siekte
Tienduisende jong lewens kan jaarliks gered word met die breë implementering van die twee malaria-entstowwe RTS,S en R21, met 'n geskatte halfmiljoen kindersterftes wat oor 12 jaar voorkom kan word soos na alle Gavi-kwalifiserende lande uitgebrei word.
Henriette Lamprecht
Die Sentraal-Afrikaanse Republiek was vandeesweek die eerste Afrikaland wat dosisse van die R21/Matrix-M-entstof teen malaria ontvang het.

Die land gaan in totaal meer as 160 000 van die R21-entstowwe ontvang wat as deel van kinders se roetine-inentings toegedien sal word om die siekte te voorkom en kinders se lewens te red.

R21 is die tweede malaria-entstof wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) ondersteun word vir kinders wat in endemiese gebiede woon. Tesame met die RTS,S-entstof is daar nou voldoende voorraad om immunisering teen malaria ’n hupstoot te gee.

“Met twee produkte wat nou vir lande beskikbaar is, is die uitgebreide verskaffing van die entstowwe ’n belangrike mylpaal vir die kinders se gesondheid en oorlewing,” sê Unicef se direkteur vir verskaffing, Leila Pakkala.

“Vroeë kommer oor die aanbod wat aan die vraag voldoen, is agter die rug. Die prioriteit is nou dat die entstowwe elke kwesbare kind bereik,” het sy gesê.

Die R21- en RTS,S-entstowwe het bewys dat dit malaria in kinders voorkom. Die RTS,S-entstof is reeds aan meer as twee miljoen kinders in Ghana, Kenia en Malawi tydens ’n vier jaar lange loodsprojek gelewer, wat gelei het tot ’n afname van 13% in sterftes.

Malaria is een van die wêreld se dodelikste siektes, met maar as ’n half miljoen kinders onder vyf jaar wat jaarliks in Afrika aan die siekte sterf.

Die Sentraal-Afrikaanse Republiek het een van die hoogste malaria-voorkomssyfers ter wêreld. In 2022 is ’n beraamde meer as N$1,7 miljoen gevalle aangemeld, ’n gemiddeld van 4 747 gevalle per dag.

Die siekte het eis ook ongeveer 5 180 lewens per jaar of 14 sterftes per dag.

“Om twee veilige en doeltreffende entstowwe te hê, beteken ons het groter sekuriteit in voorraad en kan met meer selfvertroue in lande se behoeftes voorsien,” sê dr. Sania Nishtar, die uitvoerende hoof van Gavi, die Vaccine Alliance.

“Dit is wat die belangrikste is – dat lande waar ons entstowwe die meeste impak het toegang daartoe het en sodoende duisende lewens jaarliks red en verligting vir families, gemeenskappe en hele gesondheidstelsels bring,” sê Nishtar.

Die Sentraal-Afrikaanse Republiek, saam met Tsjad, Ivoorkus, Demokratiese Republiek die Kongo, Mosambiek, Nigerië, Suid-Soedan en Uganda, maak gereed om R21-besendings te ontvang.

Sowat 4,33 miljoen dosisse van RTS,S is reeds aan agt lande verskaf, insluitend Benin, Burkina Faso, Kameroen, Ghana, Kenia, Liberië, Malawi en Sierra Leone. Die lande gee die entstof as deel van hul roetine-inentingsprogramme aan kinders en nasionale planne om malaria te beheer. Burundi en Niger is volgende op die lys wat dosisse van die entstof sal ontvang.

Die verskeping en aflewering van die entstowwe wat deur die Vaccine Alliance gefinansier word, hang af van versoeke en die gereedheid van lande om die entstof deel van hul roetine-inentingsprogramme te maak.

Gavi, Unicef, WHO en vennote ondersteun regerings soos hulle voorberei om die entstowwe te ontvang en aan die algemene publiek bekend te stel. Die ondersteuning sluit in om lande te help om implementeringsplanne en kommunikasiestrategieë te ontwikkeling, gesondheidswerkers op te lei en inligting met gemeenskappe te deel en om voldoende kapasiteit vir die koueketting te verseker.

“Malaria-entstowwe as deel van die hulpmiddels wat beskikbaar is in ’n omvattende nasionale program vir die beheer van malaria sal vroeë kindersterftes aansienlik verminder en kan help om die stryd teen malaria ’n hupstoot te gee.

“Die groot aanvraag na malaria-entstowwe bied die geleentheid vir kinders om ook ander entstowwe te kry as deel van hul roetine-immuniseringsprogram wat hulle nodig het en wat gevolglik daartoe lei dat meer lewens gered word,” sê dr. Kate O'Brien, die direkteur van die WHO se departement vir immunisasie, entstowwe en biologie.

Die WHO beklemtoon dat die entstowwe teen malaria ’n belangrike toevoeging is in die stryd teen die siekte.

Die organisasie waarsku egter dat dit deeglike beplanning verg om die suksesvolle uitrol van die entstowwe te verseker en om dit te kombineer met ander ingrypings wat muskietnette wat met insekdoder behandel is, asook die doelgerigte bespuiting van huise insluit.

Die WHO stel die programmatiese gebruik van malaria-entstowwe aan vir die voorkoming van P. falciparum-malaria by kinders wat in malaria-endemiese gebiede woon, en prioritiseer gebiede van matige en hoë oordrag.

Die malaria-entstof moet voorsien word in ’n skedule van vier dosisse aan kinders vanaf ongeveer vyf maande oud. Inentingsprogramme kan kies om die eerste dosis op ’n later of effens vroeër ouderdom te gee, gebaseer op operasionele oorwegings.

’n Vyfde dosis, wat een jaar ná dosis vier gegee word, kan oorweeg word in gebiede waar daar ’n beduidende malariarisiko by kinders oorbly ’n jaar nadat hulle dosis vier ontvang het.

In gebiede met hoogs seisoenale malaria of gebiede met meerjarige malaria-oordrag met seisoenale pieke, kan lande dit oorweeg om die entstof te verskaf deur ’n ouderdomsgebaseerde toediening, seisoenale toediening of ’n kombinasie van hierdie benaderings te gebruik.

Lande moet inenting prioritiseer in gebiede met matige en hoë-oordrag, maar kan dit ook oorweeg om die entstof in omgewings met lae oordrag te verskaf.

MALARIA IN NAMIBIë

Volgens statistiek van die inligtingstelsel van Namibië se gesondheidsdistrikte is tussen Januarie en Maart vanjaar 6 147 gevalle van malaria in die land aangeteken.

Malaria is in Namibië endemies in tien uit die 14 streke, naamlik in Kavango-Oos, Kavango-Wes, Ohangwena, Zambezi, Omusati, Oshana, Kunene, Oshikoto, Omaheke en Otjozondjupa.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, is 630 mense in die hospitaal opgeneem, terwyl 15 in die bogenoemde tydperk aan die siekte gesterf het. Dit in vergelyking met die 287 pasiënte wat verlede jaar in die hospitaal opgeneem is en ses wat aan die siekte dood is.

Volgens die Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming (CDC) is die risiko van malaria regdeur die jaar in die betrokke streke teenwoordig, maar is die hoogste gedurende November tot Junie en wel in die noord- en noordoostelike streke, insluitend Omaheke. Daar is ’n lae tot geen risiko vir die siekte in die res van die streke nie.

Die CDC raai reisigers aan wat na bogenoemde risikogebiede reis om voorskrifmedikasie te gebruik om malaria te voorkom. Afhangende van die tipe medikasie, word aanbeveel dat dit etlike dae voor jy begin reis geneem word, asook tydens en ná die reis.

SIMPTOME

Die mees algemene vroeë simptome van malaria is koors, hoofpyn en kouekoors. Simptome begin gewoonlik binne 10 tot 15 dae nadat jy deur ’n besmette muskiet gebyt is.

Simptome kan vir sommige mense lig wees, veral vir diegene wat voorheen ’n malaria-infeksie gehad het. Omdat sommige malaria-simptome nie spesifiek is nie, is dit belangrik om vroeg getoets te word.

Sommige soorte malaria kan ernstige siektes en die dood veroorsaak. Babas, kinders onder vyf jaar, swanger vroue, reisigers en mense met MIV of vigs het ’n groter risiko.

Ernstige simptome sluit in: uiterste moegheid en moegheid; verswakte bewussyn; veelvuldige stuiptrekkings; moeilike asemhaling; donker of bloederige urine, geelsug (vergeling van die oë en vel); en abnormale bloeding.

Mense met ernstige simptome moet dadelik noodsorg kry. Om betyds behandeling vir ligte malaria te kry, kan keer dat die infeksie ernstig word. Malaria-infeksie tydens swangerskap kan ook voortydige bevallings of geboorte van ’n baba met ’n lae geboortegewig veroorsaak. – [email protected]

BLOKKIE

STATISTIEK

Die WHO sê die Afrikastreek dra ’n buitensporige groot deel van die wêreldwye malaria las.

In 2022 het 94% van malariagevalle (233 miljoen) en 95% (580 000) van malariasterftes in dié streek voorgekom.

Kinders onder vyf was verantwoordelik vir ongeveer 80% van alle malariasterftes in die streek.

In 2022 is ’n beraamde 349 miljoen malariagevalle en 608 000 sterftes in 85 lande in die wêreld aangeteken.

Kommentaar

Republikein 2024-09-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Real Valladolid 1 vs 2 Mallorca | Celta Vigo 0 vs 1 Atletico Madrid | Espanyol 1 vs 2 Villarreal | Las Palmas 1 vs 1 Real Betis | Barcelona 1 vs 0 Getafe | Girona 0 vs 0 Rayo Vallecano SerieA: AC Milan 3 vs 0 Lecce European Championships Qualifying: Plymouth Argyle 3 vs 1 Luton Town English Championship: Plymouth Argyle 3 vs 1 Luton Town #N/A #N/A #N/A