Twee nuwe variante in Botswana ontdek

Henriette Lamprecht
Wetenskaplikes in Botswana het bevestig twee nuwe subvariante van die Omicron-variant is by vier mense in die land geïdentifiseer.

Die voorlopige bevinding van die nuwe substamme staan bekend as die Omicron BA.4 en BA.5.

Volgens dr. Christopher Nyanga van dié land se ministerie vir gesondheid en welstand, word die vier gevalle tans gemonitor om meer inligting in te samel oor die potensiële impak op die verspreiding en erns van Covid-19.

Nyanga sê die vier gevalle is tussen die ouderdomme van 30 en 50 jaar en sluit twee inwoners van Botswana asook twee buitelanders in wat ’n onlangse reisgeskiedenis het. Die vier is volgens Nyanga ten volle ingeënt en ervaar net matige simptome. Dieselfde nuwe afkoms is ook in drie ander lande geïdentifiseer.

Die ministerie in samewerking met ander rolspelers, insluitend streek- en internasionale liggame is volgens Nyanga steeds besig om die eienskappe en karakter van dié Omicron-variant te bestuur in ’n poging om meer data en kennis oor sy gedrag in te win.

“Tot op hede is geen gevolgtrekkings nog gemaak oor of dit dodeliker en meer oordraagbaar as die bekende Omicron-variant is nie,” het hy gesê. In dieselfde asem gaan ondersoeke voort om te bepaal of Covid-19-entstowwe doeltreffend teen dié variant is.

“Hoewel dit algemeen is vir virusse om te muteer soos dit van een persoon na die ander versprei, is sommige mutasies verantwoordelik vir hoë infeksiekoerse en veroorsaak ernstige siekte. Dit sal onder meer wees as gevolg van veranderinge in die virus se optrede en karaktereienskappe,” het hy verduidelik.

Nyange sê wanneer dit gebeur sal die nuwe variant as een van kommer (VOC) uitgesonder word.

Volgens hom is die nuwe spesifieke veranderinge altyd onderworpe aan verdere ondersoeke en verifiëring met die wêreld se wetenskaplike gemeenskap.

Intussen wag Botswana se gesondheidsministerie vir verdere riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) oor hoe om die nuwe variant se oordrag te bestuur. Die ministerie het ’n beroep op inwoners gedoen om hulself teen Covid-19 te laat inent en ook vir skragingsdosisse (booster) te gaan.

“Dit is belangrik omdat in die geval waar nuwe variante van Covid-19 hul verskyning maak en ’n nuwe vlaag infeksies veroorsaak, die impak ernstiger kan wees vir die wat nie ingeënt is nie.”

Intussen het die WHO gister ook bevestig die liggaam is besig om die twee nuwe subvariante na te spoor. Dit monitor reeds BA.1, BA.2 (tans wêreldwyd die oorheersende variant), sowel as BA1.1 en BA.3.

BA.4 is nou buiten in Botswana ook in Suid-Afrika, Denemarke, Skotland en Engeland gevind, terwyl die BA.5 in Suid-Afrika en Botswana voorkom.

Plaaslik het die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste by navraag gesê geen van die twee nuwe subvariante is nog in Namibië geïdentifiseer nie. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!