Vakbonde skop vas teen beplande Psemas-hervorming

Wil begroting met N$1 miljard besnoei
Die sekretaris-generaal van die Namibiese Nasionale Werkersunie, het gesê staatswerkers moenie onder die gevolge van beplande hervormings ly omdat ander die skema misbruik nie.
Yandi Du Plessis
Ogone Tlhage - Die regering sal ontstoke vakbonde moet oortuig om beoogde kostebesparings te aanvaar wat hy wil implementeer om besparings te bewerkstellig in die staat se mediese fonds (Psemas).

Die regering beoog om N$1 miljard van die begrotingstoewysings wat aan die mediese fonds gemaak is vir die 2023-’24- en 2024-’25-boekjaar te bespaar.

Só het die minister van finansies, Ipumbu Shiimi, tydens die tertafellegging van die 2022-middeltermynbegroting gesê.

Die staat het herhaaldelik kommer uitgespreek dat lede van die mediese bedryf sowel as fondslede die mediese fonds misbruik, wat die tesourie tot N$900 miljoen per jaar kos deur bedrog en sameswering.

Shiimi het tydens ’n raadplegende vergadering in die aanloop tot die tertafellegging gesê die regering het gebiede geïdentifiseer waar hy koste kan afstaan, maar die insette van vakbonde wat staatsamptenare verteenwoordig, sou nodig wees.

Hy het bygevoeg gesprekke met die betrokke belanghebbendes is aan die gang, maar vorder stadig.

“Die hervorming is aan die gang, maar dit is effens stadig, want ons sal ons ander belanghebbendes moet oortuig dat dit is waar ons ’n paar besparings moet maak.”

‘OORTUIG ONS’

Job Muniaro, sekretaris-generaal van die Namibiese Nasionale Werkersunie (NUNW), het gesê staatswerkers moet nie onder die gevolge van beplande hervormings ly omdat ander die skema misbruik nie.

“Hoekom keer julle nie misbruik nie? Dis ’n werknemervoordeel, jy kan dit nie net verander nie. Jy moet dit met ons bespreek,” het hy gesê.

Muniaro het gesê as die regering bewus is hiervan, moet hy diegene wat die mediese fonds misbruik het aanspreeklik hou voordat hy probeer om voordele wat staatsamptenare tans geniet, te verminder.

“Hoekom gaan mense nie tronk toe nie, hoekom word hulle beskerm? As daar dokters is wat [die skema bedrieg], hoekom betaal hulle nie [daardie geld] terug nie?”

Muniaro het gesê dit sal onkundig wees van die regering om hervormings deur te voer sonder deeglike beraadslaging.

“Jy hervorm in die belang van die regering om werkers te straf wat nie sal baat nie. Ons moet die eerstes wees wat geraadpleeg word. Dit is ’n voordeel waarmee nie gepeuter moet word nie.”

FONDS KAN INEENSTORT

Volgens die voormalige minister van finansies, Calle Schlettwein, het die fonds byna ineengestort in die afwesigheid van beplande hervormings.

“As ons nie die stelsel vinnig regmaak nie, sal dit vou. Staatsamptenare sal na private mediese fondse gestuur word,” het hy gesê.

Psemas het voorsiening gemaak vir alle staatsamptenare – of dit nou ’n minister of skoonmaker is – om dieselfde voordele uit die gebruik van die skema te trek, het Schlettwein gesê en bygevoeg die ineenstorting daarvan sal beteken dat staatsamptenare meer sal betaal as wat hulle tans opdok.

“Psemas was so gestruktureer dat almal dieselfde voordele sou kry, maar ons het dit verbrou. Ons het alles in die boek gedoen wat nie toegelaat is nie. As ek in my persoonlike hoedanigheid praat, betaal ons omtrent ’n tiende van wat jy vir ’n verskaffer van ’n private mediese fonds sal betaal,” het hy gesê.

Aan die ander kant het die voormalige minister van gesondheid en maatskaplike dienste, Bernhard Haufiku, gesê die fonds se struktuur is onregverdig en net ’n paar Namibiërs baat daarby.

“Ons sal voortgaan om ongelykheid te bevorder as ons voortgaan om N$3 miljard se openbare fondse aan minder as 300 000 Namibiërs toe te wys, waarvan slegs 124 000 skrale finansiële bydraes maak deur maandelikse premies van gemiddeld N$250 per lid, terwyl die res van die bevolking sukkel om vir hul mediese sorg en behandeling te betaal,” het hy gesê.

FONDSMISBRUIK

Die finansministerie is lankal bewus van growwe misbruik van die mediese fonds.

In 2016 is berig dat ’n dokter in Rundu 391 voorskrifte uitgereik het vir Pegasys, ’n sterk medikasie vir die behandeling van hepatitis B en C. Sy totale Psemas-eis hiervoor was N$1 292 603,48, en N$1 185 603,02 is aan hom uitbetaal.

Toe ondersoekbeamptes die dosis met die behoefte aan die medikasie vergelyk het, is gevind dat hy meer Pegasys voorgeskryf het as wat op die hele Afrika-vasteland nodig was.

Celestone, ook ’n baie gewilde medikasie, is ’n steroïde wat gebruik word vir ’n aantal siektes, insluitend rumatiese afwykings soos rumatoïede artritis en sistemiese lupus erythematosus.

Die verslag het aangedui dat 66 894 voorskrifte vir hierdie medisyne uitgereik is, vergeleke met die getal voorskrifte vir die res van die SADC-gebied, wat in dieselfde tydperk altesaam 64 632 was.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!