’n Skermgreep uit die video wat ’n leë konsultasiekamer wys met geen dokter in sig nie. Foto verskaf
’n Skermgreep uit die video wat ’n leë konsultasiekamer wys met geen dokter in sig nie. Foto verskaf

Video wys geen dokters, baie pasiënte

Ure in ’n ry waarborg nie hulp
Die Katutura-gesondheidsentrum is die enigste 24 uur- primêre gesondsorggeriewe in die hartjie van Katutura met 'n bevolking van sowat 140 000 wat sowat 1 300 pasiënte daagliks bedien.
Nikanor Nangolo
Gefrustreerde inwoners in Windhoek wat van die dienste van die Katutura-gesondheidsentrum gebruik maak, beweer die sentrum het net twee of drie dokters om daagliks meer as 100 mense te bestuur, met die meeste wat sonder mediese aandag ná ure en selfs dae se wag, onverrigter sake huis toe gaan.

Die groeiende frustrasie het oorgespoel in die openbare domein, met ’n video wat op sosiale media geplaas is wat leë konsultasiekamers wys met geen dokter in sig nie.

Volgens verskeie getuienisse word net ’n paar pasiënte gesien, terwyl die meerderheid vir ure sonder enige hulp sit.

Na bewering strek die paar dokters aan diens se pouses vir middagetes dikwels tot 15:00, wat die agterstand net verder vererger.

Een van die pasiënte wat nie geholpe kon raak of enige bestuur by die kliniek kon bereik nie, het uiteindelik ’n video-opname van die situasie gemaak. Volgens haar is net een van die twee dokters op enige gegewe tyd beskikbaar.

“Soms loop al die dokters net. Dan word vir ons gesê om vir die volgende dokter te wag wat vir die volgende skof kom. Die dag van die video is ons die oggend kliniek toe.

“Ek was al die vorige dag daar, maar weens die lang rye is ek later huis toe sonder om gesien te word. Die volgende oggend was die rye steeds lank.

“Net twee dokters was beskikbaar en een moes ’n noodgeval by die pediatriese eenheid hanteer,” het sy aan Network Media Hub (NMH) vertel.

“Ons is gelos met ’n vrouedokter, ’n ouer dame, wat ons gehelp het. Later was daar nog ’n noodgeval in ’n sekere kamer 30 en al die dokters het weer verdwyn.

“Daar was letterlik niemand om ons te help nie. Ons het ure daar gesit, selfs deur middagete. Die vrouedokter het ’n bietjie probeer help, maar moes weer gaan.”

Volgens haar het die pasiënte aanhou wag; geen dokter het egter teruggekeer nie en geen hulp is verleen nie.

“Een van die dokters het later teruggekom en gesê sy moes met nog ’n noodgeval met ’n man in ’n rolstoel help. Toe is sy weer weg.

“Ek het die sekuriteitsbeampte gevra of daar ’n matrone is of iemand met wie ons kan praat wat ons kan help.

“Volgens hom was daar niemand beskikbaar nie, tensy ek na die matrone se kantoor in kamer 68 gaan. Dit was egter gesluit, omdat sy reeds vir die dag huis toe is,” het sy gesê.

“Die sekuriteitswag het vir ons gesê daar is niks wat hulle kan doen nie, ons moet maar net wag. Dit was 16:00 en ons moes wag tot 19:00, nog drie ure sonder enige waarborg dat ons wel gesien gaan word.”



PROBEER HULP SOEK

Nadat sy hulp by die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste probeer soek het en niemand beskikbaar was om te help nie, het sy besluit om die video op Facebook te plaas “sodat mense kan sien waardeur ons gaan. Ons is siek, maar word aangesê om vir die volgende skof te wag sonder om eers te weet wanneer dit begin”.

Sy ervaar erge pyn in haar laer buik en het vroeër ’n keisersnee gehad.

“Ek kan skaars staan en soms kan ek glad nie slaap nie. Ek het onlangs ’n nag by die Sentrale Hospitaal deurgebring maar is nie opgeneem nie. Hulle het my net oornag vir die pyn behandel,” het sy vertel. Volgens ’n ander pasiënt is die probleme by die kliniek geensins nuut nie.

“Dit duur al jare voort en dit is die enigste kliniek waarvan ons weet wat noodgevalle hanteer. Wanneer ons na ’n dokter verwys word, gaan ons gewoonlik Black Chain toe waar ons glo daar dokters is.

“Die rye is egter lank. In September verlede jaar is ek na ’n dokter verwys en is eers laat in die aand by die kliniek weg sonder om veel gehelp te word. Daar is nie genoeg dokters nie. Sommige gaan vir middagete en kom eers 15:00 of later terug.”



MINISTERIE REAGEER

Volgens die gesondheidsministerie se woordvoerder, Walters Kamaya, is die video ná 17:00 tydens die aandskof geneem toe minder dokters aan diens was en noodgevalle moes hanteer.

“Ons doen ons bes om ons pasiënte met die beperkte hulpbronne en ruimte te help. Ons het net ses beddens vir die noodgevallekamer wat die meeste van die tyd ten volle in gebruik is.

“Een dokter help met die noodgeval en die ander is aanvanklik by die buitepasiëntafdeling,” het Kamaya verduidelik.

Volgens hom is die ideaal om drie of meer dokters ná 17:00 aan diens te hê.

“Tans hanteer die Katutura-staatshospitaal nie instappasiënte nie, net verwysings. Alle pasiënte moet eers by die klinieke en sentrums gesien word voordat hulle na die hospitaal verwys word.

“Dit verhoog die las op die gesondheidsentrum wat die enigste inrigting is wat 24 uur per dag oop is,” het Kamaya gesê.

Die Katutura-gesondheidsentrum is die enigste 24 uur- primêre gesondsorggeriewe in die hartjie van Katutura met ’n bevolking van sowat 140 000 wat daagliks sowat 1 300 pasiënte bedien, het hy bygevoeg.

“Ons dokters is verdeel onder die nege klinieke in die Khomasstreek, wat beteken net twee dokters dek die nagskof.

“Slegs drie geriewe is oop vanaf 08:00 tot 19:00 en die res maak 17:00 toe. Dit maak die gesondheidsentrum die enigste inrigting wat saans primêre gesondheidsorgdienste aan inwoners verskaf,” het het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer