Vir 'n wyle in hul skoene
Die kronkelpad van kanker
Om jou spreekwoordelik in iemand se skoene te plaas, gee jou 'n unieke blik op dié persoon se vrese, vreugde en vrae. In Oktober stap Republikein ter gedenking van Borskankermaand saam in die skoene van Namibiërs wat op welke manier ook al deur dié siekte geraak is.
Haar ma was ’n statige pastoriemoeder vir wie jy altyd deur ’n ring kon trek. Gasvry en gereed om te bedien. Haar familie se grapjas en wat vir haar kleinste binnekring van enige onderwerp ’n skaterlaggrap kon maak en enigiemand kon naboots.
Rachel Bezuidenhout van Rehoboth was 48 jaar oud toe haar ma met kanker gediagnoseer is. Dié diagnose het die verhouding met haar dogter wat haar meestal na doktersbesoeke en behandelings vergesel het, verder verdiep.
Haar ma het eers ’n tipe veluitslag op haar gesig, nek, bors en arms gekry wat baie sensitief en erg rooi was, vertel Rachel.
Verlamming in haar arms het gevolg wat so swak was dat sy dit nie meer sonder hulp kon oplig nie. Ook haar bene het verswak, hoewel sy “nog ’n paar treëtjies kon gee”.
Ná vele privaat- en staatsdoktersbesoeke is sy uiteindelik met dermatositus gediagnoseer.
Die mediese verklaring was dat dit deur kanker veroorsaak word en ’n lang proses van toetse en behandelings het gevolg om die oorsprong te vind. Omdat sy opgeneem moes word en nie medies gehad het nie, was die Katutura-hospitaal die volgende stap.
“Dit kom nie so baie voor nie en dit sou ’n baie goeie geleentheid wees vir ’n mediese student vir hul studies wees. Ma wou natuurlik nie ’n proefkonyn (haar woorde) wees nie!”
Ná verskeie onsuksesvolle pogings en onder meer ’n skildklieroperasie, “het Moeder Natuur die kanker laat verskyn”.
“’n Biopsie is gedoen en die kliere in die bors was toe al die tyd die kanker se ‘woonstelletjie’.”
Haar ma wou nie ’n mastektomie hê nie en dit was ook baie moeilik om haar te oortuig, sê Rachel. Die gevolg was dat die kanker versprei het.
Dit was vir haar baie erg om haar ma so hulpeloos en amper bedlêend te sien, erken sy.
“Ewe skielik kon sy nêrens beweeg nie. Dit het ook ons lekker saamkuiers sleg beïnvloed.”
Hoewel sy haar ma se chauffeur was, was Rachel deel van ’n gedugte span (haar vier dogters en haar jongste suster) wat ondersteuning gebied het met van doktersbesoeke tot die nasorg wanneer die newe-effekte van die behandeling haar geslaan het.
“Ons kon haar deurdra.”
Sy wens sy was “meer gehoorsaam om my leefstyl te verander”, sê Rachel, maar gaan nou gereeld vir ’n papsmeer en borsondersoeke.
Rachel sou die kankerpad weer stap, dié keer saam met haar “sterk vegter Silvy met die mooiste humorsin”, haar dubbelganger, vinkel tot haar koljander, haar groot-hart-skaterlag-maat en “my hart se morsaf-punt”.
Wees net daar en beskikbaar vir die persoon wat teen kanker stry, sê Rachel.
“Luister soms net, gaan lê net so bietjie agter haar rug en probeer aanmoedig om op te staan. Moedig ‘selfcare’ aan en doen so nou en dan lawwe ‘girly’-goetjies saam.”
HULP KAN HELP
Die lesse wat uit sy haar ma en vriendin se borskankerstryd geleer het, is dat borste nie jou vroulikheid definieer nie. Met of daarsonder, jy is stééds vrou.
“Dis vir my nou baie belangrik om vinniger mediese hulp te soek wanneer ek agterkom iets het verander. Ek glo mediese hulp kán ’n verskil maak.”
Sy leen ook glad nie haar ore uit vir mense se slim straatstories nie.
“Ons verskil van persoon tot persoon. Wat vir jou nie gewerk het nie, kan vir my werk. Dis vir my beter om te probeer as om te wonder.”
TOE IS DIT TE LAAT
Kanker is nie ’n doodsvonnis nie en daar is hoop en solank daar hoop is, is daar lewe, sê Yvonne Christians wat die kankerpad saam met haar ma en tante gestap het.
Sy was 46 jaar oud toe haar ma met kanker gediagnoseer is en sou sterf voordat sy met behandeling kon begin.
“Dit was baie moeilik, want ek het glad nie die geleentheid gehad om die pad met haar te stap nie.”
Sy is ’n baie groot voorstander vir die bewusmaking van kanker, want daar ís hoop.
“Ek het gevoel sy het dit vir ons weggesteek en toe was alles te laat.”
Sy erken sy het gevoelens van teleurstelling, hartseer en woede ervaar en wou weet “hoekom”, omdat dit “anders kon wees”.
“Ek het vir myself besluit ‘staan op, want jy kan ’n verskil maak’ in jou en ander se lewens wat deur hierdie kankerproses gaan. Dit is nie ’n doodsvonnis nie; daar is hoop.”
Yvonne het egter ’n baie noue band met haar tante gehad, ’n baie gesonde en “positiewe ystervrou” wat op 67 met borskanker gediagnoseer is en twee jaar later gesterf het.
“Ek kon baie leer en sien waardeur ’n kankerpasiënt gaan.”
Sy moedig vroue aan om gereeld vir borsondersoeke te gaan, jouself ook te ondersoek, nie te rook nie en ’n gesonde leefstyl te handhaaf.
“Skakel alle negatiewe aspekte uit en fokus op die positiewe. Laat toe dat familie en vriende daar is vir jou en geniet jou lewe elke dag voluit. Alles is in jou hande. Dit sal nie help om op ’n hoop te gaan sit nie.”
Sy salueer al haar “ystervrouens en ‘survivors’” wat elke dag daar is vir mekaar, wat saam lag en huil en veral haar ondersteuningsgroepie.
“Beth, Daleen, Vera, Juliette, Dorothea, Annie en Ragel – ek salueer julle, ystervroue!”
OM ’n DOGTER TE VERLOOR
Dit is maar enkele maande nadat haar “dapper, baie sterk en lewenslustige dogter” gesterf het, maar vir Caroline Shangelau Hatupopi leef sy voort in die projekte wat hulle saam begin het en waarmee sy nou voortgaan.
Op die ouderdom van 14 word haar dogter Linda in 2018 met limfoom gediagnoseer, nadat sy sieker en sieker geword en later ’n opgeswelde maag gehad het. ’n Hospitaalbesoek lewer niks op nie en op ’n dag val sy flou by die skool, waarna sy in die Sentrale Hospitaal opgeneem word. Weer word niks gevind nie en weer en weer moet hul terugkeer vir toetse.
Later word ’n biopsie van ’n geswelde limfklier gedoen, wat bevestig dit is limfkanker. ’n Paar dae ná haar diagnose het sy met chemoterapie begin en later ook bestraling ontvang.
Aanvanklik was dit vir Caroline baie moeilik om Linda vir haar behandelings te neem, omdat sy nie werk nie en net ’n klein besigheid het.
Chemoterapie was twee, drie keer ’n week en hulle moes elke keer ’n taxi neem.
“Om haar dieet te verander, was moeilik. Dit was moeilik om dit te hanteer, maar met die Genade van God het ons oorleef.”
Caroline het aansoek vir kankersorg gedoen en het ses maande hulp ontvang.
Sy sonder die tyd wat haar dogter die eerste keer gediagnoseer is, uit as “baie pynlik”.
“Ek was oningelig en het nie genoeg inligting gehad nie. Ek het oor kanker begin oplees en veral oor haar tipe en het begin verstaan. So kon ek haar help verstaan.”
Dit het nie lank geduur voor hulle by hul “nuwe normaal” aangepas het nie, sê Caroline.
“Sy was die dapperste en sterkste en het altyd gesê ‘ja, ek het kanker, maar dis nie vir my die einde van die wêreld nie’. Dit het my baie geïnspireer, want ek kon nie opgee, terwyl ek haar dapperheid en vertroue sien nie.”
MOTIVEER ANDER
Nie lank ná haar diagnose nie, het Linda veldtogte vir kankerbewusmaking gedoen en ook ander tieners gemotiveer. Altyd met Caroline se onvoorwaardelike ondersteuning.
Linda het steeds aangehou skoolgaan, selfs al het haar dokter gemaan sy sou baie sterk chemoterapie ondergaan.
“Sy het daaraan geglo om tot die laaste dag ten volle te leef. Dit het my motiveer en energie gegee. Ons het nie net teruggesit en in ontkenning geleef nie. Sy het kanker gehad en ons het dit aanvaar en begin om ander kinders met kanker te help.”
Haar dogter het haar soveel geleer, selfs al is sy nie meer hier nie, sê Caroline.
“Ek gaan voort met dit wat sy begin het.”
Ná Linda se diagnose het hulle ’n baie sterk en hegte verhouding gebou en was soos beste vriende, vertel Caroline.
“Sy het my ‘sari’ en ‘sisi’ begin noem, enige naam wat jy ’n vriend sal noem. Nie ’n dag het verbygegaan waarin ek nie vir haar gesê het hoe lief ek haar het nie. Ek glo daar is ’n rede dat sy siek geword het, omdat ons so baie na aan mekaar gegroei het. Ek glo God het ons voorberei om baie te doen voordat sy weg is.”
In haar beperkte tyd op aarde het Linda baie gedoen en nie ’n minuut daarvan vermors nie, sê ’n trotse Caroline.
“Dit was soos ’n nuwe lewe tussen my en haar. Ons het die lewe geniet en nie gesit en huil en gevra ‘hoekom’ nie.”
Wanneer Linda in pyn was, het ma en dogter stories begin vertel. Caroline sou haar dogter se rug masseer of vir haar ’n lekker bad tap, ’n onthou wat sy altyd in haar hart sal koester.
Sy het by haar dogter geleer om dapper te wees, maak nie saak in watter situasie jy jouself bevind nie. Buiten haar sterk selfvertroue, was Linda ook baie sterk, selfs wanneer sy in pyn was.
“Sy sou net sê Mammie, ek is oukei.”
Linda is ná haar eerste diagnose kankervry verklaar, maar teen die einde van November 2021 was die siekte terug en dié keer is sy met leukemie gediagnoseer. Op 6 Januarie is sy in die hospitaal opgeneem waar sy ook later sou sterf.
Dit was Linda wat haar aangemoedig het om vir die Mej. Plusgrootte-kompetisie in te skryf.
“Sy het gesê met die wengeld kan ons ander kinders met kanker help, veral dié wat nie besoekers kry nie of nog kos wil hê.”
Laasgenoemde was ook die rede hoekom Linda altyd sou vra haar ma moes “meer kook” sodat sy dit met die ander kinders kon deel wie se ouers nie in Windhoek woon nie.
Caroline het Linda se wens vervul en is as finalis aangewys in die kompetisie met die wenner wat eersdaags aangekondig sal word.
Sy erken sy rou steeds oor haar eersgeborene, maar voel ook sy vier haar.
“Sy het soveel dinge agter gelaat wat ek sien en dan glimlag. Ek wil dit deel met ander kankerkinders in die hospitaal. Ek is nou hul ma. Om in ’n hospitaal te wees en geen besoekers te ontvang nie, is verskriklik. Ek is lief daarvoor om hulle te besoek en tyd saam met hulle deur te bring.”
Op die dag van haar dood op 18 was dit asof Linda geweet het sy gaan en sy het al die verpleegsters, dokters, vriende en familie gegroet.
“Sy was dapper, ’n baie geselserige kind wat die heeltyd geglimlag het.”
ELMARIE BURGER
Toe sy die oggend van 8 Augustus 2015 die krale om haar nek hang en “met die Here se Genade” ’n knop bo haar regterbors op haar borsbeen voel, het sy dadelik geweet dis nie normaal nie, vertel Elmarie Burger.
Elmarie, wat saam met haar lewensmaat in die Leonardville-omgewing op sy plaas Arib bly, is Windhoek toe vir ’n sonar. ’n Biopsie is gedoen en op 11 Augustus 2015 word sy diagnoseer met graad1 ER 8/8, PR6/8, HER2 2 ,pSLN 0/3- borskanker.
Tydens ’n operasie is ’n lampektomie gedoen en van haar limfkliere verwyder.
Die gewas is dadelik Nederland toe gestuur vir ’n MammaPrint, en die bevinding was dat Elmarie ’n lae risiko is om weer borskanker te kry.
Die Here was vir haar baie goed, sê Elmarie.
“Ek het ’n ongelooflike ondersteuningsnetwerk gehad en die mees fantastiese onkoloog, dr. Lizanne Langenhoven.
Sy het letterlik ure met my spandeer om my emosioneel ook te help.”
Elmarie het vir ses weke haar bestraling in die Kaap ontvang, met dr. Langenhoven wat in dieselfde tyd begin werk het waar sy haar behandeling ontvang het.
Omdat sy nog jonk was, moes sy vir vyf jaar ook hormoonbehandeling ontvang. Dit het beteken een pil per dag en ’n inspuiting elke drie maande in haar maag. Een van die newe-effekte is egter osteoporose wat Elmarie nie gespaar is nie en met haar terugkeer uit die Kaap het dit tyd gevat om te herstel.
“Kort voor lank kon ek weer touspring en lang ente stap, wat baie vir die pyn in my lyf gehelp het. Dit het regtig elke dag net beter gegaan.”
Sy was op ’n baie goeie plek in haar lewe toe sy in Oktober 2021 haar ginekoloog besoek vir haar jaarlikse ondersoek.
“Weens my geskiedenis, het hy nooit meer my borste ondersoek nie, want ek het gereeld vir prof. Justus Appfelstaedt gesien. Ongelukkig het ek twee jaar oorgeslaan. Weens die erge droogte, was daar net nie tyd om van die plaas af te kom nie, en 2020 tref Covid ons.”
Ná afloop van die ondersoek het die ginekoloog Elmarie vir ’n MRI-skandering gestuur, wat opgevolg is deur ’n sonar en ’n biopsie.
Presies ses jaar ná haar eerste diagnose word sy op 27 Oktober 2021 op die ouderdom van 50 met graad 3 ER 2/8 PR 2/8, HER2 neg Ki 50% gediagnoseer.
Maar sy val “sag”, al was sy alleen by die huis, vertel Elmarie.
“Ek het kalm my lewensmaat probeer bel, maar hy was ongelukkig buite opvangs. Ek bel toe my twee seuns. Die oudste sê ‘toemaar ma, ons sal daar wees’ en die jongste ‘Ma het hom reeds geveg, ma sal weer!’”
Sy kon net vir die Here dankie sê vir Sy genade en dat die ginekoloog daardie dag haar borste ook ondersoek het. Elmarie se kanker het nie versprei nie, maar was ’n heel ander tipe kanker as die vorige een.
Sy het dadelik met chemoterapie begin en haar lang bos donker hare het binne 12 dae begin uitval. Vir ses maande moes sy elke drie weke chemo kry.
Dit was ’n moeilike tyd, erken Elmarie, maar met Sy genade, kosbare ouers, haar lewensmaat, haar kinders, familie en die mees ongelooflike vriende wat haar bygestaan en op verskillende maniere ondersteun het, het sy dié geveg ook gewen!
Sy het daarna ’n bilaterale mastektomie in die Kaap ondergaan en terselfdertyd rekonstruksie ontvang.
“Dit was glad nie maklik nie, maar emosioneel, danksy dr. Langenhoven, was ek veel rustiger. Ek was nie so vreesbevange oor die onbekende nie en ek het min of meer geweet wat wag.”
Dit gaan regtig baie goed met haar, sê Elmarie.
“Ongelukkig is almal nie so gelukkig nie. My hart bloei veral vir persone wat weens omstandighede nie die behandeling kan bekostig nie, en ek wens ek kon help! Die Here het my ’n derde kans gegee; ek vertrou net op Hom, maar besef Sy wil geskied.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie