Vroue moet tuis kraam
Die gebrek aan gesondheidsgeriewe in die Guinas-kiesafdeling belemmer toegang tot dienste, met swanger vroue wat noodgedwonge tuis geboorte moet skenk.
In sommige gevalle moes vroue in voertuie kraam.
Tydens ‘n besoek van Network Media Hub (NMH) aan dié kiesafdeling in die Oshikotostreek het gemeenskapslede beweer hulle word agterweë gelaat met betrekking tot toegang tot gesondheidsdienste en -geriewe.
Op die hervestigingsplaas Ondera, sowat 45 kilometer van Oshivelo, het inwoners vertel hoe hulle Oshivelo toe moet stap of ‘n privaat voertuig ten duurste vir mediese sorg moet huur.
Die grootste deel van die rit is ’n stamperige grondpad wat ambulanse weens die sensitiewe toerusting aan boord nie kan gebruik nie.
Die ambulanse se rit begin eers op die B1-pad by die Tsintsabis-Oshivelo-T-aansluiting. Op die plaas is ’n struktuur wat voor onafhanklikwording gebou is en wat nou vir uitreikprogramme gebruik word.
Verpleegpersoneel word ten minste twee keer per maand en in gevalle soos die uitbreking van ‘n siekte na die plaas ontplooi.
Ondera se bestuurder, Jan Haneb, het namens die inwoners gesê die gemeenskap het ‘n dringende behoefte aan gesondheidsgeriewe. Die gebrek daaraan maak dat inwoners se gesondheid volgens hom skade ly.
“Ons het ‘n ernstige probleem wanneer dit by gesondheid kom. Die naaste geriewe vir ons is Oshivelo en dit kos N$50 per rit. Met die hoë vlak van werkloosheid in ons gemeenskap, vind mense dit moeilik om toegang tot gesondheidsgeriewe te kry,” het Haneb gesê.
“Ons het geriewe hier en dit is opgeknap, maar ons kry net twee keer per maand verpleegsters. Ons bejaardes is op behandeling vir chroniese siektes en dit is jammer om te sien hoe mense ly. Dit sal ‘n groot verskil maak as ons geriewe in ‘n kliniek omskep word. Een verpleegster sal ‘n verskil maak.”
Volgens Haneb is dit nie net die hervestigingsplaas se inwoners wat weens die gebrek aan toegang tot gesondheidsgeriewe geraak word nie, maar ook elkeen wat in die plaas se omgewing woon.
“Dit raak selfs vir jou as joernalis of ‘n minister op besoek. As jy siek word op plaas Ondera, gaan jy op ‘n stamperige grondpad Oshivelo toe moet jaag. Ons het dieselfde regte as elke Namibiër om toegang tot basiese gesondheid te hê.”
Haneb het ook verwys na die gemeenskap se gekombineerde skool wat deur honderde leerlinge bygewoon word en gesondheidsgeriewe as ‘n noodsaaklikheid ondersteun.
Soortgelyke uitdagings word ook op plaas Olavi en plaas Six in die Guinas-kiesafdeling ervaar.
MINISTER
Oshikoto se direkteur van gesondheid, Joshua Nghipangelwa, het by navraag die gebrek aan gesondheidsgeriewe in die kiesafdeling erken.
Al wat volgens hom vereis word, is dat die politieke leierskap en die gesondheidsdirektoraat met mekaar in gesprek tree. Dit kan egter weens die inwoners in die betrokke gemeenskappe ’n netelige situasie wees.
“Wat dit ‘n netelige kwessie maak, is dat die gemeenskap minder as 600 mense is en wat dit vir ons moeilik maak om ‘n kliniek op te rig,” het Nghipangelwa gesê.
“Ek wil net hê die politieke leierskap moet my ondersteun sodat ons iets op tradisionele tot kiesafdelingsvlak kan begin. So kan ‘n ordentlike lewensvatbaarheidstudie uitgevoer word, met die bevindings wat na die gesondheidsministerie vir oorweging gestuur word.
“Ek stem saam met jou, hulle is ook mense. Ons sal met die nuwe verkose raadslid in gesprek tree en kyk hoe kan die ministerie betrek word sodat hulle ook in die toekoms gehelp word.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie