FOTO FUIJIFILMS HEALTH
FOTO FUIJIFILMS HEALTH

Vyf staatshospitale met mekaar verbind

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Danksy die installering van die jongste tegnologie is vyf staatshospitale oraloor die land met mekaar verbind om afstanddiagnoses moontlik te maak.

Dis die grootste ontplooiing van sy soort in Namibië, met vyf hospitale wat nou met mekaar verbind is, ten spyte van die groot afstande wat hulle van mekaar skei.

Die Fujifilm Synapse RIS (Radiologie Inligtingstelsel) en Foto-argief en kommunikasiestelsel (PACS)-platforms bedien die Windhoek Sentrale en Katutura-staatshospitale in die hoofstad, die Oshakati- en Onandjokwe-staatshospitale, sowel as die Rundu- tussentydse hospitaal met mekaar.

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het in Mei die tender aan die mediese verspreider, Uni Medical Supplies, toegeken wat instrumenteel was in die beplanning en installering van die stelsel wat in Maart vanjaar amptelik in werking getree het.

Fujifilm se Synapse RIS/PACS-stelsel verseker die doeltreffende bestuur van inligting wat verband hou met radiologiese ondersoeke in die betrokke hospitale. Die RIS-platform help met die skedulering en om radiologie-afsprake aan te meld. Enige beelde wat vereis word, hetsy CT-skanderings of X-strale, word digitaal op die PACS-stelsel gestoor waartoe dokters toegang het en die pasiënt kan diagnoseer.

Dit beteken pasiënte in verafgeleë gebiede kan van ’n afstand gediagnoseer word. Danksy die stelsel is alle inligting en beelde wat dokters nodig het, onmiddellik digitaal beskikbaar wat beteken ’n dokter wat in Windhoek gebaseer is, kan ’n pasiënt in Rundu diagnoseer sonder dat hy daarheen hoef te reis. Dit verkort die tyd vir behandeling en takel ook die kwessie van die beskikbaarheid van gesondheidsorg vir pasiënte in verafgeleë gebiede.

Vier uit die vyf hospitale is nou ook toegerus met die jongste kunsmatige intelligensie (AI)-platform, REiLI, wat enige abnormaliteite in borste en ook die borskas opspoor. Deur die gebruik van AI, ondersoek REiLI pasiënte se radiologiese beelde (skanderings of X-strale) om enige abnormaliteite soos ’n massa of letsel uit te lig wat radioloë verder kan ondersoek. REiLI kan 33 verskillende abnormaliteite uitlig waaronder die teenwoordigheid van tuberkulose, ’n deurboorde long, longontsteking of ’n gebreekte rib. Dit verlig die tydlas wat dikwels deur personeel ervaar word om die beelde self te bestudeer, met meer pasiënte wat nou veral in die geval van noodgevalle na-ure behandel kan word.

Alle data word gestoor op bedieners in die gesondheidsministerie se datasentrum in Windhoek.

Die Synapse RIS- en PACS-platforms is reeds suksesvol in verskeie hospitale oraloor die wêreld geïmplementeer, insluitend in Japan, Amerika, Indië en Suid-Afrika.

Die besturende direkteur van Fujifilm Suid-Afrika, Taro Kawano, het beklemtoon die RIS/PACS-platform sal help om die algehele gesondheid en welstand van Namibiërs te verbeter.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer