'WHO is onontbeerlik' - Namibië

Wêreldwye kommer oor VSA se onttrekking
Terwyl wêreldwye gesondheidsowerhede die VSA aanspoor om sy onttrekking aan die WHO te herroep, verwag Namibië nie dat dié delikate situasie sy bilaterale programme met die VSA sal beïnvloed nie.
Mathias Haufiku
Ná die Verenigde State van Amerika (VSA) sy voornemens aangekondig het om van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) te onttrek, het Namibiese gesondheidsowerhede hul gewig agter die wêreldwye liggaam gegooi en gesê dit is “onontbeerlik in ’n hedendaagse wêreld”.

Die WHO het verlede week gesê hulle is spyt oor die skuif deur sy topskenker, terwyl die VSA glo dat die gesondheidsorganisasie daarin gefaal het om onafhanklik van "ongepaste politieke invloed van WHO-lidlande" op te tree. Die VSA meen ook die WHO het "onregverdige beswarende betalings" van dié land verwag wat nie in verhouding was teenoor die betalings wat van groter lande soos China verwag is nie.

"Ons hoop dat die VSA sal heroorweeg en ons hoop dat daar konstruktiewe dialoog vir almal se beswil, vir Amerikaners en mense regoor die wêreld, sal wees," het die WHO se woordvoerder, Tarik Jasarevic, in Genève gesê.

Namibië se minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het die werk van die WHO verdedig en gesê dat dit prysenswaardige werk gedoen het om lidlande te ondersteun in die bestuur van gesondheidsuitdagings deur tegniese ondersteuning, veral aan ontwikkelende lande, te bied.

"Die WHO het Afrika-lidlande ondersteun om formidabele uitbrekings soos ebola in Wes Afrika, apokke, cholera, die Marburg-virus en ander gesondheidsnoodgevalle te stuit. Hier in Namibië het die WHO die gesondheidsministerie tydens die plaaguitbreking in die vroeë negentigs en polio in die middel 2000's gehelp, om net ’n paar te noem," het Shangula gesê.



G'N VERRASSING

Alhoewel die onttrekking van die VSA nie ’n verrassing was nie, sê Shangula hy verwag nie die onttrekking sal die bestaande bilaterale programme tussen Namibië en die VSA beïnvloed nie.

"Namibië het bilaterale skenkingsooreekomste met die VSA in die gesondheidsektor vir MIV/vigs, tuberkulose en ander siektes vir die doeleindes van voorspraak, voorkoming en behandeling deur die Amerikaanse president se noodplan vir vigsverligting (Pepfar), Sentrums vir siektebeheer (CDC) en ander. Al ons gesondheidprogramme is finansieel deur die regering gesteun terwyl ander ontwikkelingsvennote se bydrae 30% van die finansierng is," het Shangula gesê.

Hy het egter toegegee dat die VSA se onttrekking van die WHO "sal lei tot verminderde finansiële ondersteuning aan die WHO wat 'n negatiewe impak op die bedrywighede van die organisasie sal hê".

WHO is egter onlangs op ’n missie om geld in te samel om sy eie programme te ondersteun, in plaas daarvan om oorafhanklik van lidlande te wees.

Gedurende die 75ste Wêreldgesondheidsbyeenkoms in 2022, het WHO-lidlande ’n geskiedkundige besluit geneem het om die WHO volhoubaar te finansier nadat hulle ingestem het tot ’n geleidelike toename in hul bydraes om minstens 50% van die WHO se kernbegroting teen die 2030-'31-begrotingsiklus te verteenwoordig.



WÊRELDWYE WELSTAND

Die WHO speel ’n kritieke rol in die beskerming van die gesondheid en sekuriteit van die wêreld se bevolking, Amerikaners inkluis, deur die oorsake van siektes vas te stel, sterker gesondheidstelsels te bou, asook om gesondheidsnoodgevalle, insluitend die uitbreking van siektes - gewoonlik in gevaarlike gebiede - op te spoor, dit te voorkom en daarop te reageer.

Met die deelname van die VSA en ander lidlande sê die WHO het hy oor die afgelope sewe jaar sy grootste hervormings in sy geskiedenis geïmplementeer om aanspreeklikheid, kostedoeltreffendheid en die impak op lande te transformeer.

"Hierdie werk gaan voort. Ons hoop die VSA sal heroorweeg en ons sien uit daarna om in ’n konstruktiewe gesprek te tree om die vennootskap tussen die VSA en die WHO te behou tot voordeel van die gesondheid en welstand van miljoene mense regoor die wêreld," het die WHO in ’n verklaring gesê.

Die WHO het ook sy vennootskap met die VSA oor die jare heen beklemtoon: "Die WHO en die VSA het talle lewens gered en Amerikaners en alle mense teen gesondheidsbedreigings beskerm. Saam het ons pokke uitgewis en saam het ons polio op die randjie van uitwissing gebring.

Die voorsitter van die kommissie van die Afrika-unie (AUC), Moussa Faki Mahamat, het sy misnoeë te kenne geggee oor die VSA se onttrekking aan die WHO. Die VSA was as lid van die WHO "van kritieke belang in die vorming van WHO-instrumente en norms in die sekuriteit van openbare gesondheid en welstand oor die afgelope sewe dekades," het hy gesê. Hy sê hy hoop die Amerikaanse regering sal sy besluit heroorweeg om van die WHO te onttrek.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer