‘Ons was bitter lief vir Amare’

Familie verwelkom seuntjie
Die seuntjie is uit die sorg van sy ouma aan sy pa se kant verwyder, nadat sy ma aanvanklik gesê het sy kan nie vir hom sorg nie.
Rita Kakelo
Die familie van wyle Amare Boois (1), wat na bewering 15 keer deur sy ma Vapeni Boois (36) in ’n tragiese voorval doodgesteek is, sê hulle sukkel om sy dood te verwerk.

’n Emosionele Ansua Hammerslaght, Amare se tannie aan sy pa se kant, het in ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) die seuntjie se finale weke onthou voordat hy uit haar en sy ouma se sorg verwyder is.

“Amare het mollige wange en die mooiste blou oë gehad. Ons was bitter lief vir hom en hy was diep in ons harte,” sê Hammerslaght.

Hy is 40 dae ná sy eerste verjaardag op 12 Januarie 2023 dood.

Hammerslaght het tydens haar onderhoud bewerings verwerp wat Vapeni tydens haar verhoor in die hoërhof voor regter Philanda Christiaan gemaak het dat sy (Vepani) verwerp gevoel het deur Hammerslaght en die seun se pa se familie wat haar glo ook nie ondersteun het nie.

Volgens Hammerslaght het hulle eers in Augustus 2022, toe hy agt maande oud was, van Amare se bestaan bewus geword.

“Lucia [Vapeni] het met die hulp van plaaslike polisie wat haar gehelp het om Amare se familie aan sy pa se kant op te spoor, by my ma se huis op Rehoboth opgedaag.

“Sy het vir my ma gesê sy kon nie vir Amare sorg nie en wou hê ons moet hom inneem. Ons het geen besware gehad nie, inteendeel, ons was verheug om hom in ons familie te verwelkom,” onthou sy.

Drie maande later was Vapeni egter weer voor hul deur, dié keer saam met beamptes van die eenheid vir geslagsgebaseerde geweld en wou sy Amare weer terug in haar sorg hê.

“My ma het hulle desperaat gesmeek om te verseker dat Vapeni in staat is om na hom om te sien en in sy behoeftes kan voorsien.

“Sy het by hulle gepleit, maar hulle het daarop aangedring dat Vapeni, as sy biologiese ma, die reg het om hom te vat. My broer sou ook om wettige toesig moes aansoek doen.

“Daardie dag in November 2022 het hulle AJ uit my ma se sorg geneem en net twee maande later het sy hom in Januarie vermoor,” sê Hammerslaght.

Haar oorlede suster Dessery Hammerslaght het na Keetsmanshoop en die Bethanie-omgewing gereis om Amare te identifiseer.

“Sy was sterk vir ons familie. Sy het die hofverrigtinge bygewoon, maar het ongelukkig in Maart gesterf. Nou rou ons oor die verlies van twee. Dit is oorweldigend en dit lê swaar op ons,” sê sy.



AMARE SE PA

Vapeni het vandeesweek skokkende beskuldigings teen Amare se pa in die hof gemaak en beweer dat hy haar in ’n stadium in hul verhouding verkrag het.

Hammerslaght. wat verkies om weens die sensitiwiteit van die saak nie Amare se pa se naam bekend te maak nie, het die bewerings ontken.

Sy het egter erken die paartjie het ’n stormagtige verhouding gehad, veral nadat Vapeni ontdek het hy was getroud.

“Sy het ’n moeilike tyd gehad om te aanvaar dat hy getroud was. Sy het selfs stem- en WhatsApp-boodskappe aan sy vrou gestuur en haar van sy ontrouheid vertel en dat hy ’n kind by haar het.

“Hy en sy vrou kon egter daarin slaag om te versoen en glo dit is wat haar wrok aangevuur het.”

Volgens Hammerslaght sukkel haar broer om die verlies van sy seun te verwerk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer