Die selfverklaarde profeet Sebardius Muronga. Foto verskaf
Die selfverklaarde profeet Sebardius Muronga. Foto verskaf

‘Profeet’ se borgtog verleng

Aanklagte van aanranding, rig van ’n vuurwapen
Sebardius Muronga was in 2022 ook in die nuus toe hy daarvan beskuldig is dat hy twee plekaanwysers by sy kerk swanger gemaak het.
Nikanor Nangolo
Rundu se selfverklaarde profeet Sebardius Muronga wat daarvan beskuldig word dat hy verlede jaar sy meisie aangerand en gedreig het, het in die landdroshof op die dorp verskyn waar sy borgtog tot 6 Maart verleng is om verhoordatums te geskeduleer.

Muronga word van aanranding, die rig van ’n vuurwapen en ook die besit van ’n vuurwapen sonder ’n lisensie aangekla. Hy het voor landdros Selma Shiiga verskyn.

Luidens hofdokumente het hy op 16 Junie verlede jaar by Tjinga Valley op Rundu sy voormalige meisie, Maria Simbumburu, aangerand en gedreig om haar dood te maak.

Hy het na bewering ’n vuurwapen op haar gerig, wat Simbumburu as ’n onmiddellike bedreiging vir haar lewe beskou het.



VADERSKAP

In 2022 het Muronga voor die opperhoof van die Mbunza Tradisionele Owerheid verskyn, nadat hy na bewering twee plekaanwysers van sy kerk swanger gemaak het.

Die twee vroue wat niggies is, het die tradisionele owerheid genader nadat hulle komplikasies met hul swangerskappe ervaar het en Muronga daarvan beskuldig het dat hy hulle geestelik teister.

Volgens die twee niggies het hulle erge hardlywigheid en opgeblasenheid ervaar wat hulle aan sy beweerde invloed toegeskryf het.

Muronga, wat aan sy volgelinge as Papa bekend is, het onder die soeklig van die tradisionele owerheid gekom, terwyl die Namibiese polisie ook by die vaderskapdispute betrokke geraak het omdat hy na bewering ontken het dat hy die pa van die twee niggies se ongebore babas is.

In ’n onderhoud in 2022 met Network Media Hub (NMH) het die twee vroue, Anna Sitoka Karufere (38) en Maria Nankali Kandjimi (36), beweer hulle is deur Muronga gebreinspoel en later swanger gemaak.



MANIPULERING

Karufere wat toe ses maande swanger was en Kandjimi wat die volgende maand in Februarie 2022 sou geboorte skend, het hul ervarings by die Grace Church of All Nations gedeel wat Muronga in Februarie 2021 in Rundu se Satotwa-woonbuurt gestig het.

Volgens Karufere het Muronga sy invloed oor hulle gebruik, gedikteer wat in hul daaglikse lewe moet gebeur en hulle gedwing om in al sy behoeftes te voorsien. Dit het ingesluit van die voorbereiding van sy maaltye tot die stryk van sy klere.

Volgens haar moes hulle ook in dieselfde kamer as die selfverklaarde profeet in sy huis in Sauyemwa slaap.

“Die profeet sou op die bed slaap, terwyl ons op ’n matras by sy voete geslaap het. Een aand terwyl ons half deur die slaap was, het hy ons na sy bed toe geroep.

“Hy het toe die ander plekaanwyser gevat en seks met haar op die matras gehad. Hy het later dieselfde met my probeer, maar ek het geweier,” het Karufere gesê.

Sy het beweer dat Muronga hulle tot seksuele dade gemanipuleer het, wat hulle “onbewus gelaat het van wat gebeur het totdat hulle die oggend met ongemak wakker geword het”.

Die vroue het verder beweer dat Muronga – met hul aansluiting by sy kerk – opdrag gegee het om enige verhoudings met ander mans te beëindig en hulle verbied het om tot 2024 te werk of verhoudings te hê.

“Ons is nie toegelaat om oproepe van ons families te ontvang nie, want hy het beweer hulle bring duiwels in ons lewens in.

“Hy het ons selfs nuwe SIM-kaarte laat kry sodat hy die enigste persoon was wat ons kon kontak. As ons oproepe van ander ontvang het, het hy ons geslaan en beweer dat dit dissipline van Bo was,” het Karufere verder beweer.

Muronga wou in 2022 toe hy by sy huis vir kommentaar genader is, niks sê nie.

“Die kwessie is steeds hangend en ek is nie in ’n posisie om met jou te praat nie,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer