AG se appèlaansoek teen Angolees misluk
Hooggeregshof lewer uitspraak
Die hooggeregshof het bevind dat die aanklaer-generaal nie genoeg bewyse het om 'n beslagleggingsbevel teen 'n Angolese burger te verkry nie.
Die hooggeregshof het verlede week ’n appèlaansoek van die aanklaer-generaal (AG), Martha Imalwa, van die hand gewys.
Imalwa het geappelleer teen die hoërhof se beslissing om haar aansoek om ’n beslagleggingsbevel af te keur ten opsigte van ’n Angolese burger, Alexes Paulo, se bates wat sy beweer opbrengste van onwettige bedrywighede is.
Imalwa beweer Paulo was betrokke by die onwettige handel in buitelandse valuta, bedrog, geldwassery en die oortreding van die wet op immigrasiebeheer.
Paulo het op 17 November 2015 sowat N$1,8 miljoen in die tweede respondent, Rhapsody cc, se rekening by Standard Bank gedeponeer. Die depositostrokie het die bron van die geld as “besigheid” getoon. Hy het verder ’n kwitansie van ’n buitelandse valuta-transaksie ter waarde van US$120 000, wat die vorige dag by Bank Windhoek aangegaan is, voorgelê wat toe gelykstaande was aan N$1 738 800.
Dit is hierdie deposito wat die aandag op die bedrywighede van die respondente geplaas het, waarna Imalwa die hoërhof op ’n dringende basis vir ’n bewaringsbevel (preservation of property order) genader het.
Die aansoek vir ’n bewaringsbevel is toegestaan ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca) en Paulo se vier bankrekeninge by Bank Windhoek Namibia en Standard Bank Namibia is gevries.
Imalwa het daarna aansoek gedoen vir ’n finale beslagleggingsbevel sodat die bates aan die staat verbeurd verklaar word, maar die aansoek is in Maart 2021 van die hand gewys.
Sy het beweer die bates is die opbrengs van onwettige bedrywighede, maar die hoërhof het bevind Imalwa het versuim om te bewys dat die respondente die beweerde misdrywe gepleeg het.
Imalwa het daarna die hooggeregshof genader om teen die hoërhof se uitspraak te appelleer.
HOOGGEREGSHOF-UITSPRAAK
Die hooggeregshof het bevind Imalwa kon nie bewys dat die respondente die valutabeheerregulasies oortree het nie en daar geen bewyse was dat Paulo ’n onwettige immigrant in Namibië was nie.
Volgens die uitspraak het die hof bevind Paulo het Amerikaanse dollar van Bank Windhoek, ’n gemagtigde handelaar, gekoop.
“Daar is verder geen bewyse dat die respondente Amerikaanse dollar aan hul kliënte verkoop het nie. Die bewyse is dat die respondente bloot hul kliënte gehelp het om dollars van die banke te bekom ingevolge die valutabeheerregulasies,” lui die uitspraak.
Imalwa het ook versuim om te bewys dat die bedrag wat in die tweede respondent se rekening gedeponeer is, nie van die respondente se kliënte was nie.
Sy het ook versuim om te bewys dat die beweerde ooreenkoms tussen die Bank of Namibia (BoN) en die Sentrale Bank van Angola – wat Paulo beweer die twee lande toegelaat het om hul onderskeie geldeenhede te ruil – nie bestaan het nie of indien wel, dat die bepalings daarvan die gedrag van die respondente verbied het.
“Batebeslaglegging is ’n ernstige saak en ’n hof kan nie ’n bate verbeurd verklaar op die bewyse wat gelewer is nie. Daarom word die appèl met koste van die hand gewys,” het regter Sylvestor Mainga in sy uitspraak gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie