Foto Argief
Foto Argief

Agtjarige in toesigstryd vasgevang

Ma in Suid-Afrika, pa in Namibië
Die ma staan die dringende aansoek teen waarin die pa 'n hofbevel aanvra wat toelaat dat die kind in sy sorg bly hangende die uitkoms van die hofsaak.
Kristien Kruger
’n Agtjarige seun wat by sy ma in Suid-Afrika woon het onlangs vir sy pa in Namibië kom kuier, waarna die pa die hoërhof in Windhoek genader het in ’n poging om sy seun by hom te hou.

Hoewel die seun se primêre woning ingevolge ’n skikkingsooreenkoms by sy ma is, beweer die pa omstandighede het verander en hy is nie in staat om die kind te laat teruggaan na sy ma toe nie.

Die ma staan die dringende aansoek teen waarin die pa ’n hofbevel aanvra wat toelaat dat die kind in sy sorg bly hangende die uitkoms van die hofsaak.

Die pa beweer die ma ly aan ernstige depressie, is werkloos en het onlangs haar nuwe man verlaat en weggetrek. Die ma voer weer aan dat sy haar huidige man moes los omdat hy haar na bewering mishandel het.

AGTERGROND

Die seun se ouers is in 2018 geskei en het ’n skikkingsooreenkoms onderteken waarvolgens albei ouerlike regte en verantwoordelikhede het, maar die ma is as die kind se primêre voog aangewys.

Die ma en seun het daarna Suid-Afrika toe getrek en die ma het weer met ’n ander man getrou by wie sy nog ֺ’n kind gehad het. Die kind is tans 18 maande oud.

Die pa beweer die ma se huidige man het vir hom ’n WhatsApp-stemboodskap gestuur waarin hy gesê het sy het uit die huis getrek en hulle kind saamgevat om by haar ouers in Kuruman te gaan bly.

Hy was glo bekommerd oor sy kind se veiligheid omdat die vrou na bewering in Maart vanjaar in ’n inrigting opgeneem is vir ernstige depressie. Hy het aangevoer die vrou misbruik haar voorgeskrewe medikasie en het glo gedreig om selfdood te pleeg.

'MISHANDELING'

Die vrou beweer egter sy moes haar huidige man los omdat hy haar glo mishandel het.

“Ek het basies op 4 Oktober uit die huis ontsnap as gevolg van die uiterste mishandeling deur my man, wat ’n baie aggressiewe en onstabiele persoon is. Hy sal my dikwels met geweld dreig as ek hom ooit sou los.

“Ek het doelbewus my ontsnapping beplan toe my seun sy pa in Namibië besoek het om hom te beskerm teen moontlike emosionele trauma,” stel sy in hofstukke.

Die vrou se huidige man het in ’n verklaring ontken dat hy haar ooit mishandel het en voer aan dat hy beeldmateriaal het van hoe sy hom glo aanrand voor die twee kinders.

“Sy mislei die hof deur woorde te gebruik soos ‘doelbewus my ontsnapping beplan’ met die doel om dit te laat klink asof sy gyselaar gehou is. Dit kan nie verder van die waarheid wees nie,” lui sy verklaring wat gister by die hof ingedien is.

DEPRESSIE

Die ma erken in hofstukke dat sy depressief is, maar ontken die bewerings dat sy haar medikasie misbruik, wil selfdood pleeg of dat sy aan ernstige depressie ly.

“Ek ontken enige bewering of insinuasie dat ek ongeskik is of nie in staat is om normaal te funksioneer nie.”

Sy het ook benadruk dat sy haarself in Oktober 2022 vir 12 dae by ’n fasiliteit ingeboek het en nie onder dwang na ’n inrigting geneem is nie.

BLY VIR NOU BY PA

Partye het Maandag in die hoërhof in Windhoek voor regter Orben Sibeya verskyn en die saak is uitgestel tot gister. Ingevolge ’n hofbevel sou die kind tot gister by sy pa in Windhoek bly.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!