• Tuisblad
  • Howe
  • Air Namibia: Oudwerkers betoog, eis betaling

Air Namibia: Oudwerkers betoog, eis betaling

Sommige glo selfdood gepleeg
Die likwidateurs het besluit om teen die onlangse hoërhofuitspraak in die hooggeregshof te appelleer.
Kristien Kruger
“Betaal ons geld en julle sal ons nie weer sien nie.”

Só het die leier van ’n groep oudwerknemers van Air Namibië, Renier Bougard, Donderdag tydens ’n vreedsame betoging voor die likwidateurs, David Bruni en Ian McLaren, se kantoor in Windhoek gesê.

Dit kom nadat die hoërhof in Windhoek twee maande gelede in die werkers se guns beslis het in ’n aansoek dat hul “totale koste aan die maatskappy” aan hulle betaal moet word. Dit sluit werknemers se bydrae tot mediese fondse, pensioen en die Maatskaplike Voorsorgfonds in, asook toelaes, die uitbetaling van opgehoopte verlofdae en pro rata-dertiende tjeks (bonus). Hulle het aangevoer dat dit die bedrag is waarop ooreengekom is.

Bruni, McLaren en Simon Steyn is beveel om die verskil tussen die bedrag wat reeds uitbetaal is en die herberekende bedrag aan die werknemers te betaal.

Die verskil is na bewering sowat N$2,5 miljoen

Die likwidateurs het wel besluit om teen regter Collins Parker se uitspraak te appelleer en die geld is dus nie aan die werknemers betaal nie.

“Dit is ’n vertragingstegniek en vir tyd en wyl is daar mense wat besig is om te ly,” het Bougard Donderdag gesê.

Volgens Bougard is tien van die werknemers sedert die likwidasie van Air Namibia oorlede, sommige aan selfdood. Hy meen dat die beweerde wanbetaling hulle lewensbestaan ernstig beïnvloed.

Bougard het selfs tydens die betoging voorgestel dat die regering die uitstaande bedrag aan die werknemers moet betaal.

“Hoekom kan die regering nie uit die begroting vat nie? Hulle het mos onbeperkte hulpbronne om ons geld te betaal en dan te wag vir die hofsaak en dan net die geld terug in die likwidasierekening te betaal. Hoekom kan hulle dit nie doen nie?”

Bougard en van die ander oudwerkers het tydens ’n onderhoud met Network Media Hub erken dat dit die likwidateurs se reg is om teen die uitspraak te appelleer, maar hulle is ontsteld oor die feit dat die likwidasieproses ná vier jaar nog nie afgehandel is nie.

Hulle is desperaat vir die geld waarop hulle voel hulle geregtig is. Hulle het dit duidelik gemaak dat hulle nie na meer geld soek nie, maar bloot dit wil kry waarop ooreengekom is.



UITBETALING

In Desember 2022 het die likwidateurs van Air Namibia glo altesaam N$103 miljoen aan werkers uitbetaal, maar die werkers het aangevoer dat hulle sowat N$105,5 miljoen moes ontvang.

Luidens Bougard se verklaring het die werknemersvakbond en die destydse bestuur van Air Namibia in Maart 2021 ooreengekom dat die vergoedingspakkette nie net op hul basiese inkomste en toelaes gebaseer sal word nie, maar op hul “totale koste aan die maatskappy”.

Bykomend hiertoe is werknemers glo belowe om betaling op grond van opgehoopte verlofdae en ’n dertiende tjek te ontvang. Skeidingspakkette is ook uitbetaal op grond van die aantal jare van indiensneming.

Die likwidateurs het tydens verrigtinge aangevoer dat hulle nie betrokke was by die ooreenkoms wat aangegaan is rakende die pakkette nie en dat die bestuur nie by magte was om so ’n ooreenkoms aan te gaan nie. Hulle beweer hulle is dus nie daartoe verbind nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 20° | 32° Oshakati: 22° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 21° | 32° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 24° | 34° Mariental: 24° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 21° | 34° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 23° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 15° | 23° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 17° | 34° Lilongwe: 23° | 34° Maputo: 21° | 29° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 18° | 28° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!