Mnre. Michael Amushelelo en Dimbulukeni Nauyoma. Foto Argief
Mnre. Michael Amushelelo en Dimbulukeni Nauyoma. Foto Argief

Aktiviste baklei steeds vir borg

Dien appèlaansoek by hoërhof in
Die twee aktiviste van die Namibia Economic Freedom Fighters en Affirmative Reposisioning, daag die landdroshof se weiering van hul borgtogaansoek in die hoërhof uit.
Kristien Kruger
Die aktiviste mnre. Michael Amushelelo van die Namibia Economic Freedom Fighters (NEFF) en Dimbulukeni Nauyoma van die Affirmative Reposisioning (AR) het ’n appèlaansoek by die hoërhof in Windhoek ingedien teen die landdroshof se besluit om hul aansoek om borgtog van die hand te wys.

Hoewel die beskuldigdes nie teenwoordig was nie, het hul regsverteenwoordigers en die staataanklaer Vrydag voor regter Christie Liebenberg verskyn.

Hulle is in hegtenis geneem vir hul betrokkenheid by optogte wat gelei het dat sakebedrywighede in China Town in die hoofstad twee maande gelede tot stilstand geruk is.

Amushelelo en Nauyoma staan tereg op die oortreding van artikel 18(2)(b) van die Wet op Oproerige Byeenkomste No. 17 van 1956, asook ’n klag van openbare geweld.

LANDDROS WEIER BORGTOG

Landdros Masule Kwizi, wat op 16 Mei hul formele borgtogaansoek van die hand gewys is, het in sy uitspraak gesê hy kon nie aan enige borgtogvoorwaardes dink wat die staat se vrees dat die beskuldigdes verdere misdrywe sou pleeg, kon bevredig nie.

“Die landdros het nie behoorlik aandag aan die saak geskenk toe hy bevind het die tweede applikant [Nauyoma] sal waarskynlik verdere misdrywe pleeg of dat geen borgtogvoorwaardes ingestel kon word om die moontlikheid vir verdere oortredings te beperk nie,” het Nauyoma se regsverteenwoordiger, mnr. Kadhila Amoomo, aangevoer.

APPÈL

Amushelelo se verteenwoordiger, mnr. Nambili Mhata, beweer die landdros se weiering van die aansoek om borgtog maak inbraak op sy reg tot vryheid.

“Die landdros het verskeie wesenlike foute in sy besluitnemingsproses begaan, soos die oënskynlike gebrek aan ernstige oorweging van die belangrikheid van die applikant se reg op persoonlike vryheid en sy reg om onskuldig geag te word totdat hy skuldig bevind word,” het Mhata gesê.

Amushelelo en Dimbulukeni is saam met ses ander op dieselfde klagte in hegtenis geneem, behalwe dat Amushelelo ook teregstaan op een klag van aanranding deur dreigemente. Die ander ses beskuldigdes is glo met ’n waarskuwing vrygelaat.

“Die feit dat die beskuldigdes wat dieselfde klagte en aantygings in die gesig gestaar het, verskillend hanteer is, is pertinent ter sprake in hierdie appèlaansoek,” meen Mhata.

Mhata het die hof gevra om borgtog van N$1 000 toe te staan.

Die staat het aangevoer dat hul appèlaansoek van die hand gewys moet word.

“Die applikante het versuim om te bewys dat hul kandidate vir borgtog is of dat die belang van geregtigheid nie benadeel sal word indien hulle op borgtog vrygelaat word nie,” meen die staatsaanklaer, mnr. Basson Lilungwe.

Die saak word voor regters Christie Liebeneberg en Dinah Usiku aangehoor.

Amushelelo en Nauyoma het intussen ’n tweede aansoek om borgtog, wat op nuwe feite gebaseer is, by die landdroshof ingedien.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!