Amerikaner se appél slaag

Hof verklaar dele van wet onwettig
Kevan Townsend en Jaco Kennedy het verskeie dele van die wet op korrektiewe dienste uitgedaag.
Iréne-Mari van der Walt
In ’n uitspraak vandeesweek in die hooggeregshof is verskeie dele van die wet op korrektiewe dienste onwettig verklaar.

Die moordbeskuldigde Kevan Townsend en die voormalige landdros wat tans teregstaan op klagte van verkragting en ontvoering, Jaco Kennedy, se aansoek het daarin geslaag om onder meer die woord “offender” van die wet te skrap. In adjunkhoofregter Petrus Damaseb se uitspraak het hy gesê die woord word gestigmatiseer.

“Die feit dat, soos die [hoër]hof bevind het, die wet rakende verhoorafwagtendes, ’n ander tegniese betekenis gee, verwyder nie die stigma wat aan die woord in die gewone grammatiese betekenis gekoppel word nie. Dit kom tot die kern van die aanname van onskuld wat deur die wet gewaarborg word. . . ” het Damaseb gesê.

Hy het in die uitspraak wat deur appélregter Elton Hoff en waarnemende appélregter Theo Frank onderteken is, ook beslis dat die weiering van fisieke kontak met geliefdes tydens besoeke – as ’n algemene reël – inbraak maak op dieselfde reg tot ’n aanname van onskuld vir verhoorafwagtende gevangenes.

Die hof het beslis dat elke geval individueel en volgens sy eie meriete oorweeg moet word.

Townsend se aansoek dat gevangenes nie met hul hande agter hul rûe vervoer moet word wanneer daar geen veiligheidstoestelle, soos veiligheidsgordels beskikbaar is nie, het ook geslaag. Townsend het aan die hof verduidelik as ’n gevangene se hande agter hom of haar rug geboei is, hulle nie kan keer indien die voertuig byvoorbeeld skielik rem nie.

Die aanhouding van gevangenes in alleenaanhouding vir tydperke van tot 30 dae sonder dat hulle ’n kans gegun word om hul kant te stel, kan ook volgens die uitspraak as arbitrêre aanhouding beskou word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!