Amerikaners hoor binnekort hul lot

Heckmair-moordverhoor
Die uitspraak in die twee Amerikaanse moordbeskuldigdes se verhoor sal in die volgende twee maande gelewer word.
Kristien Kruger
Twaalf jaar ná die moord op André Heckmair sal die twee Amerikaanse moordbeskuldigdes uiteindelik op 6 September hul lot hoor.

Marcus Thomas en Kevan Townsend het Vrydag in die hoërhof in Windhoek verskyn waartydens hulle regsverteenwoordigers en die staatsaanklaer hul slotbetoë gelewer het.

“Dit was die beskuldigdes wat die oorledene op daardie dag met selfoonboodskappe na Gusindastraat gelok het en hulle is verantwoordelik vir sy sluipmoord,” het staatsaanklaer Antonia Verhoef tydens Vrydag se verrigtinge gesê.

Verhoef het aangevoer die beskuldigdes het in Desember 2010 na Windhoek gereis met die doel om Heckmair te vermoor. Sy het daarop gewys dat Thomas gehelp het om Townsend se borgtog in New York te betaal en op dieselfde dag het hy verblyf vir twee mense in Windhoek bespreek.

Sy het verder daarop gewys dat hulle op die dag wat hulle in Windhoek geland het, na die Maerua Mall-inkopiesentrum gegaan en mense by die Cattle Baron-restaurant – wat Heckmair se ouers destyds besit is – oor hom uitgevra het.

Die beskuldigdes het daarna glo begin navrae doen om ’n vuurwapen te koop. Die verdediging het wel aangevoer daar is geen stawende bewyse gelewer wat daarop dui dat die beskuldigdes ooit ’n vuurwapen bekom het nie.

Die beskuldigdes het na bewering ook ’n knaldemper vanaf Finland na Namibië in ’n pakkie gestuur onder die voorwendsel dat dit ’n tafelpoot was.

Verhoef het gesê dit spreek boekdele oor die doel van hul besoek aan Windhoek.

“Hoekom sou hulle dit doen as hulle hier was om vakansie te hou of om familie en vriende te besoek? Daar is geen ander verduideliking nie.”

‘GEEN BEWYSE’

Thomas se regsverteenwoordiger, Salomon Kanyemba, het aangevoer die staat probeer vasstel of die beskuldigdes die moord beplan het, maar het daarop gewys dat hulle van moord aangekla word en nie van sameswering nie.

“Die staat wil hê hierdie hof moet hulle skuldig bevind op grond van omstandigheidsgetuienis. Daar is nie genoeg omstandigheidsgetuienis nie, asook geen direkte bewyse ten opsigte van die moordklag nie. Die hof kan hulle nie skuldig bevind op grond van ’n vermoede nie,” het hy aangevoer.

Mbanga Siyomuinji, Townsend se regsverteenwoordiger, het ook aangevoer die onus om die klagte te bewys, rus op die staat se skouers.

“Die staat het jammerlik misluk om genoeg bewyse te lewer vir die hof om beskuldigde nommer twee [Townsend] aan die moord te koppel. Hy moet kwytgeskeld word van al die klagte teen hom.”

AGTERGROND

Heckmair het beplan om vanaf 28 Desember 2010 tot 8 Januarie 2011 in Windhoek te wees, maar sy liggaam is op 7 Januarie in Gusindastraat, Klein Windhoek, in sy suster se voertuig gevind, met een skoot deur sy kop.

Hy was volgens sy familie net voor die skietvoorval, op pad na ’n middagete-afspraak “saam met twee Amerikaners” by die Stellenbosch Restaurant waar hy ook ’n bespreking vir drie mense gehad het.

Heckmair se meisie, Christine Brüwiler – wat ook Thomas se eksmeisie was – was saam met hom in Namibië en het die dag voor sy moord teruggevlieg Switserland toe.

Thomas en Townsend is ure ná die moord in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding. Hulle het ná die staat sy saak vanjaar afgesluit het, gekies om nie die getuienisbank in te neem om in hul eie verdediging te getuig nie. Hulle het ook geen getuies geroep nie en het ná ’n mislukte aansoek om kwytskelding, hul saak afgesluit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!