Amerikaners ‘toon geen berou’

Staat stel lewenslange vonnisse voor
Marcus Thomas en Kevan Townsend se regsverteenwoordigers het die hof versoek om die twee mans 'n minimum tronkstaf van 20 jaar op te lê met 13 jaar wat opgeskort is.
Kristien Kruger
Die staatsaanklaer het gister in die hoërhof in Windhoek aangevoer die twee Amerikaners, Marcus Thomas en Kevan Townsend – wat aan André Heckmair se moord skuldig bevind is – het geen opregte berou vir hulle dade getoon nie en moet lewenslange tronkstraf opgelê word.

“Eers toe die eerste beskuldigde [Marcus Thomas] in ’n hoek gedruk is nadat sy beoogde aansoek misluk het, het hy notas aan sy regsverteenwoodiger gegee waarin hy sy meegevoel teenoor die oorledene se gesin uitgespreek het. Dit was nie opreg nie.”

“Spyt is nie berou nie,” het die staatsaanklaer, Antonia Verhoef, bygevoeg in haar betoë ter ondersteuning van strawwer vonnisse.

Thomas het by monde van sy regsverteenwoordiger gesê hy besef dat Heckmair se dood ’n impak op sy gesin gehad het. Townsend het nie enigiets aan die gesin gesê nie.

Verhoef het egter daarop gewys dat nie Thomas of Townsend – toe die oorledene se ma die vorige dag getuig het – enige tekens van berou getoon het nie.

Regter Christie Liebenberg sal op 15 November uitspraak lewer ten opsigte van die vonnisoplegging.

Verhoef het voorgestel dat die hof beide tot lewenslange tronkstraf vonnis. Thomas en Townsend se regsverteenwoordigers het die minimum vonnis van 20 jaar tronktraf voorgestel met die opskorting van die 13 jaar wat hulle reeds in aanhouding is.

Verhoef het geargumenteer dat die hof nie outomaties die volle 13 jaar van die vonnis moet aftrek nie.

“Die hof moet die redes in ag neem waarom die verhoor so lank geduur het. Die beskuldigdes het bygedra tot die uitgerekte verhoor,” meen sy.

Townsend se regsverteenwoordiger, Mbanga Siyomuinji, het in reaksie hierop gesê Thomas was grootliks vir die vertragings verantwoordelik en nie sy kliënt nie.

Albei Siyomuinji en Thomas se regsverteenwoordiger, Salomon Kanyemba, het aangevoer dat lewenslange tronkstraf nie ’n gepaste vonnis is nie.

“Die voorstel van lewenslange tronkstraf is verregaande. Dit sal nie ’n gepaste vonnis in hierdie saak wees nie,” het Kanyemba gesê.

“Hoekom die swaarste vonnis voorstel vir eerste oortreders wat ’n versagtende faktor is? Hierdie saak regverdig nie ’n lewenslange vonnis nie,” het Siyomuinji gesê.

Hoewel Thomas en Townsend se verteenwoordigers aangevoer het die feit dat hulle reeds 13 jaar in ’n vreemde land aangehou word moet ’n versagtende faktor wees, het Verhoef die teendeel aangevoer.

Sy het gesê die feit dat hulle ’n misdaad in ’n vreemde land gepleeg het, moet as ’n verswarende faktor oorweeg word.

“Hulle is vreemdelinge wat die gasvryheid van hierdie land se burgers misbruik het,” het sy gesê en daarop gewys dat die beplanning van die moord reeds begin het voor die twee mans die land binnegekom het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!