Job
Job

Amupanda maak geldsake aan hof bekend

Yandi Du Plessis
Ellanie Smit – Slegs die hofstryd oor die verwydering van die veeartsenykordonheining (VCF) – ook bekend as die Rooilyn – sal na raming N$3,56 miljoen se regskoste beloop wat 54 maande se netto vergoeding vir hom is, sê Job Amupanda.

Volgens die Affirmative Repositioning (AR)-aktivis is sy besteebare inkomste slegs N$11 689 per maand – sou hy sy maksimum maandelikse inkomste van N$65 000 ontvang.

Amupanda het dit gesê in ’n sekondêre beëdigde verklaring vir sy aansoek om ’n beskermende kostebevel (protective costs order) in die voortgesette regsgeding waarin hy ’n hofbevel aangevra het om die VCF te laat verwyder en as onwettig en ongrondwetlik te laat verklaar.

Hy het die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein; die regering; prokureur-generaal Festus Mbandeka; en ’n amptenaar in die direktoraat van veeartsenydienste, Hango Nambinga, as beskuldigdes in die saak gelys.

Die Vleisraad van Namibië is egter as ’n vyfde verweerder bygevoeg nadat hy om verlof tot ingryping gevra het, twee kommersiële boere het as derde partye teen die saak aangesluit en die Namibië Landbou-unie (NLU) het ook as verweerders aangesluit.

Amupanda het intussen ’n aansoek om ’n beskermende kostebevel ingedien, maar die hof het beslis hy moet eers bewys lewer van sy finansiële hulpbronne.

Amupanda het in sy beëdigde verklaring gesê die salaris wat hy maandeliks huis toe neem is N$27 914 van die Universiteit van Namibië (Unam), waar hy op ’n permanente basis as ’n senior dosent aangestel is.

Hy ontvang ook glo tussen N$28 000 tot N$38 000 op ’n maandelikse basis – afhangende van aktiwiteite waarby hy betrokke is – van Stad Windhoek (CoW), waar hy as raadslid aangestel is.

“As sodanig het my totale inkomste op ’n maandelikse basis vanaf Desember 2020 gewissel tussen N$50 000 en N$65 000 van beide Unam en die CoW.”

Amupanda sê hy en sy vrou besit ook gesamentlik ’n huis in die Eros-woonbuurt en ’n Ford Ranger wat hy vir sy eie vervoerdoeleindes gebruik.

“Soos enige ander lid van die middelklas in die kapitalistiese samelewing, word hierdie eiendomme deur kommersiële banke gefinansier en sal dit vinnig teruggeneem word sodra ons nie die bankpaaiemente kan betaal nie.”

Amupanda het bygevoeg dat hy ook alleen en saam met ander diere in Ondangwa besit. Dit sluit in 15 bokke en skape, tien beeste, tien hoenders en ander diere teen ’n waarde wat nie maklik bepaal kan word nie, “deels vanweë diskriminerende en uitsluitingspraktyke soos dié wat ek in hierdie einste aansoek wil laat skrap”.

Hy het gesê die geraamde waarde van hierdie diere sal egter nie N$50 000 oorskry nie.

Amupanda het gesê vanaf 7 September het die register van maatskappye by die Owerheid vir Sake- en Intellektuele Eiendom (Bipa) sy bande met nege entiteite aangeteken.

Met die uitsondering van Twenty-First Century Radical Publishing CC, is al die ander entiteite egter óf dormant óf nie bedrywig in terme van aktiewe kommersiële en/of finansiële transaksies wat inkomste aan hul aandeelhouers verskaf nie, het Amupanda gesê.

“Sommige van hulle het óf nie bankrekeninge nie óf hul bankrekeninge is gesluit.”

Hy het gesê hy besit Twenty-First Century Radical Publishing saam met twee ander jongmense, en hulle bestuur ’n klein Afrosentriese boekwinkel in Windhoek, wat sover nie winsgewend was of inkomste vir die aandeelhouers ingebring het nie.

Amupanda het verder gesê sy onmiddellike familie-uitgawes beloop N$33 311 per maand, terwyl sogenaamde “swart belasting” N$8 500 beloop en aktivisme-uitgawes N$11 500.

“Die totale uitgawes is dus N$33 311 teenoor die totale inkomste wat tussen N$50 000 en N$65 000 wissel.”

Hy het daarop gewys dat ander uitgawes soos brandstof, begrafnisse en troubydraes, hulp aan familie en vriende, konstruksieprojekte en ander aktiwiteite nog nie gedek is nie.

“As hierdie by die prentjie gevoeg word en ’n mens daarna kyk sonder inagneming van hoe die Afrikane mekaar help, kan dit voorkom asof my finansies so benard is dat dit op sigself ’n indruk van insolvensie kan skep.”

Amupanda het opgemerk dat die saak in Mei 2021 aanhangig gemaak is en twee jaar later moet die meriete van die saak nog aangehoor word.

“Ek het ’n maandelikse bedrag van N$1 000 wat na my regsverteenwoordiger gaan.”

Hy het verder geraam dat die regskoste vir al die verweerders ongeveer N$178 000 per dag sou wees, wat vergelyk moet word met sy maksimum maandelikse inkomste van N$65 000.

Hy het ook daarop gewys dat kennisgewings van uitsondering ingedien is, asook pleite in die saak en ander regsaansoeke wat ook bydra tot die koste van die hofsaak.

“Ek skat as die saak tot verhoor voortgaan, sal dit waarskynlik minstens 20 hofdae neem, wat ongeveer N$3,56 miljoen se regskoste is.”

[email protected]

Kommentaar

Jan Swanepoel 1 Jaar Gelede21 September 2023

Hy het dit begin.

Rapporteer

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!