• Tuisblad
  • Howe
  • Amupanda sê minister het in Rooilyn-saak ingemeng
Job Amupanda en sy regsverteenwoordiger, Kadhila Amoomo. Foto Rita Kakelo
Job Amupanda en sy regsverteenwoordiger, Kadhila Amoomo. Foto Rita Kakelo

Amupanda sê minister het in Rooilyn-saak ingemeng

Nikanor Nangolo
“Dit is so erg. Terwyl die [Rooilyn]-saak voor hom is, het minister Calle Schlettwein, wat die eerste verweerder in die saak is, regter Shafimana Ueitele vrystelling gegee vir die betaling van belasting van sy twee plase.”

Só het die leier van die Affirmative Repositioning (AR), Job Amupanda, Dinsdag op sosiale media oor die minister van landbou, water en grondhervorming gesê.

Amupanda meen Schlettwein se optrede veroorsaak ernstige kommer oor onpartydigheid en geregtigheid in die voortgesette regsuitdaging van die veaartsenykordonheining, ofte wel die Rooilyn.

Amupanda het Dinsdag regeringsdokumente op sosiale media gedeel wat volgens hom die vrystelling bevestig het.

Luidens die dokumente is Ueitele, wat die hangende Rooilyn-saak aanhoor, vrystelling van die betaling van grondbelasting op twee plase toegestaan – Plaas 938 (Gedeelte 1 van Woseley), wat 1 732 hektaar beslaan, en Plaas 933, van 4 867 hektaar.

Dit het glo op 6 Augustus verlede jaar gebeur, kort voordat die saak se verhoor geskeduleer was om te begin.

Amupanda het ook kommer uitgespreek oor ander moontlike bande wat Ueitele met sleutelbeskuldigdes in die saak kan hê, soos die destydse Vleisraad van Namibië en die Namibië Landbou-unie.

“As dit is hoe ons regbank werk, is ek bevrees ons het nie ’n regbank nie. Alles maak ongelukkig nou sin,” het hy bygevoeg.

’n Dokument van die landbouministerie wat Network Media Hub (NMH) onder oë gehad het, bevestig dat Ueitele onder ’n groep eienaars is wat van die betaling van grondbelasting vrygestel is. Volgens die dokument het een plaas ’n belastingaanslag van N$1 850 gehad voor die vrystelling en die ander ’n bedrag van N$5 198.

Nóg Schlettwein nóg Ueitele het in die openbaar op die bewerings gereageer.



‘KLAGTE INGEDIEN’

Amupanda het glo ’n klagte teen Ueitele ingedien kort ná sy plasing op sosiale media.

“Ons het ons bekommernisse in ons voorlegging uiteengesit. Ons hoop dat die Regterlike Dienskommissie (JSC) ons klagte ontvang het, aangesien daar ’n spesifieke proses is wat gevolg moet word. Kom ons wag en hoor wat die JSC oor ons klag te sê het," het Amupanda gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer