Amushelelo se aansoek om appèl beur voort

Iréne-Mari van der Walt
Tydens die aktivis Michael Amushelelo se aansoek om appèl gister in die hoërhof in Windhoek, het sy regsverteenwoordiger, Kadhila Amoomo, gesê Amushelelo is tydens ’n protesoptog op Onafhanklikheidsdag vanjaar “in hegtenis geneem omdat hy gesing en gedans het”.

Amushelelo appelleer teen die landdroshof se beslissing om hom borgtog te weier.

Amoomo het gesteun op dele van die landdroshof se rekord van Amushelelo se verhoor saam met die parlementslid Inna Hengari en die jeugaktivis Dimbulukeni Nauyoma.

Volgens dié rekord het ’n polisiebeampte getuig dat Amushelelo se houding polisiebeamptes op die toneel uitgelok het.

Dié polisiebeampte het glo in die landdroshof getuig dat Amushelelo nie geweld onder lede van die protesgroep aangevuur het nie en niemand aangemoedig het om te betoog nie.

“Inteendeel het hy ’n geheuestokkie met video’s ingedien wat juis wys hy het die groep gevra om uiteen te gaan,” het Amoomo gesê.

Amoomo het ook gesteun op ’n uitspraak wat regters Christie Liebenberg en Boas Usiku gelewer het. Die uitspraak het borgtog aan Amushelelo en Nauyoma toegestaan nadat hulle in verband met die Chinatown-protesoptog in Mei 2022 in hegtenis geneem is.

Dié uitspraak het beslis dat Amushelelo en Nauyoma nie enige onwettige byeenkomste sal inisieer nie en ook nie betrokke sal raak by byeenkomste van dié aard nie.

Amoomo sê die feit dat Hengari en Nauyoma vry op borgtog is, is genoegsame rede om ook borgtog aan Amushelelo toe te staan.

Hy beweer ook dat die landdroshof se uitspraak verkeerd is. Die uitspraak sê dat Amushelelo in ’n verklaring gesê het die klagte teen hom is nie ernstig nie.

Amoomo het aan regters Naomi Shivute en Philanda Christiaan gesê dat die hofrekord slegs een keer die erns van die klag in ag neem – wanneer hy aan ’n getuie stel dat die klagte gelyke gewig moet dra vir al die beskuldigdes.

Amoomo sê Amushelelo het in sy verklaring gesê die staat het nie ’n sterk saak teen hom nie. Hy het hierdie gestaaf met die uitspraak waarin Nauyoma borgtog toegestaan is.

“Hier sê die landdros dat die staat nie ’n prima facie (voor die hand liggende) saak teen Nauyoma het nie,” het Amoomo gesê en verder beweer dat Amushelelo en Nauyoma te alle wesentlike tye tydens die protesaksie op Onafhanklikheidsdag bymekaar was.

Johannes Kalipi het namens die staat gesê Amushelelo is borgtog geweier aangesien hy reeds uit was op borgtog in verband met ’n vorige klag, terwyl Hengari en Nauyoma nie was nie.

Amoomo het hierop gereageer dat Nauyoma ook onder dieselfde voorwaardes as Amushelelo vry op borgtog was toe hulle in hegtenis geneem is.

Shivute het die saak tot 14 Augustus uitgestel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!