• Tuisblad
  • Howe
  • Amushelelo slaag nie in teenaansoek vir bates
Die aktivis Michael Amushelelo Foto Argief
Die aktivis Michael Amushelelo Foto Argief

Amushelelo slaag nie in teenaansoek vir bates

Saak uitgestel tot 16 Februarie
Die aanklaer-generaal het aansoek gedoen dat sommige van Michael Amushelelo se bates permanent aan die staat verbeurd verklaar moet word.
Kristien Kruger
Die aktivis en bedrogbeskuldigde Michael Amushelelo was onsuksesvol in sy poging om te verhoed dat sommige van sy eiendom permanent aan die staat verbeurd verklaar word.

Afgesien van die terugslag en mislukking van sy teenaansoek, is sy eiendom nog nie aan die staat verbeur nie.

In die saak waarin die aanklaer-generaal, Martha Imalwa, ’n aansoek gebring het dat sommige van Amushelelo se bates permanent aan die staat verbeurd verklaar word, is Amushelelo se teenaansoek Vrydag in die hoërhof in Windhoek met koste van die hand gewys.

Regter Thomas Masuku het die saak tot 16 Februarie uitgestel, waartydens die hof sal voortgaan met sy oorweging van Imalwa se aansoek.

AGTERGROND

In 2020 het Imalwa inligting ontvang dat Amushelelo na bewering by bedrog en geldwassery betrokke was.

Sy het die hoërhof genader en aansoek om ’n bewaringsbevel gedoen en daar is gevolglik tydelike op Amushelelo se eiendom beslag gelê.

Die aansoek om die bewaring van eiendom is in Desember 2020 in die afwesigheid van die partye goedgekeur en in Januarie 2021 ingestel. Agt van Amushelelo se voertuie is gevolglik op beslag gelê, insluitend ’n Range Rover, twee Mercedes-Benz-voertuie, twee BMW’s en twee Audi’s. Al die voertuie is gedurende die tydperk vanaf Januarie tot September 2019 gekoop.

Die hof het beslis dat sowat 13 van Amushelelo se bankrekeninge en dié van korporatiewe entiteite waarin hy ’n aandeel het, gevries moet word ingevolge die bepalings van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca).

Imalwa het daarna aansoek gedoen dat die betrokke eiendom permanent aan die staat verbeurd verklaar word.

Sisa Namandje, Amushelelo se regsverteenwoordiger, het ’n teenaansoek gebring en beweer dat die aansoek om die bewaring van eiendom wat op 4 Desember 2020 goedgekeur is, nie geldig is nie.

Hy het aangevoer dat dit nie volgens die wet in ’n ope hof goedgekeur is nie, maar eerder in kamers in die afwesigheid van die partye.

“Die bevel is ondoeltreffend en kan nie regsgeldigheid hê nie aangesien dit in stryd met die betrokke wette uitgereik is,” het hy beweer.

Imalwa en haar regsverteenwoordiger, Loide Angula, het wel aangevoer dat die hoërhof nie in staat is om sy eie bevel te hersien nie.

UITSPRAAK

Masuku het in sy uitspraak aangedui die hof het sy jurisdiksie in dié saak uitgeput en dat net die hooggeregshof die gesag het om die bevel te hersien.

“Hierdie hof het reeds ’n aangeleentheid tussen die partye hanteer en ’n besluit is geneem. Die hof het daardeur sy jurisdiksie uitgeput en mag nie die beslissing heroorweeg nie, selfs al is hy later van mening dat die besluit wat hy geneem het, verkeerd was.”

“Enige fout wat hierdie hof mag begaan, kan slegs deur die hooggeregshof reggestel word,” lui die uitspraak.

BEWERINGS

Imalwa beweer dat Amushelelo ’n bedrieglike skema, Project One Million, bestuur het waarin hy geld van beleggers aangevra en belowe het dat die geld gebruik sou word om in buitelandse valuta handel te dryf.

Amushelelo het na bewering nie die geld wat hy van beleggers ontvang het vir dié gebruik aangewend nie. Imalwa beweer dat hy die fondse wat hy van latere beleggers ontvang het, gebruik het om sy eerste beleggers terug te betaal.

In Imalwa se beëdigde verklaring sê sy ondersoeke het bevind dat beleggers sowat N$86,9 miljoen vanaf September 2018 tot Oktober 2019 in Amushelelo se bankrekeninge en entiteite wat deur hom beheer word, inbetaal het.

Slegs sowat N$64,8 miljoen is na bewering aan beleggers uitbetaal, terwyl Amushelelo glo aansienlike bedrae vir persoonlike verryking onttrek het.

Amushelelo ontken dat die besigheid wat hy bedryf het enige wet in Namibië oortree het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!