Arbeidsonrus by kookpunt
Ly meer as N$14 miljoen se verlies
Alle bedrywighede is onlangs by die Cheetah Cement-fabriek gestaak aangesien stakende werknemers na bewering nie by stakingsreëls gehou het nie.
Die hoërhof het gister beslis dat indien Cheetah Cement se stakende werknemers nie by die ooreengekome stakingsreëls hou nie, die polisie moet ingryp.
Dit volg ná Whale Rock Cement, wat die Cheetah Cement-fabriek in Otjiwarongo besit, die hoërhof in Windhoek met ’n dringende aansoek genader het oor hul vrees dat die arbeidsonrus binnekort gewelddadig sou raak indien die hof nie sou intree nie.
“Emosies op die perseel is gespanne. Ons [Whale Rock] voorsien dat dit tot konflik kan lei. Ons vrees dat iemand, of meer as een persoon, ernstig beseer kan word of selfs kan sterf, indien hierdie saak nie dringend aandag geniet nie,” het die bestuurder van Whale Rock, mnr. Po-pei (Kevin) Lee, in sy beëdigde verklaring gesê.
Die hof het gister ’n tussentydse interdik teen die stakende werknemers uitgereik wat hulle beveel om by die stakingsreëls te hou.
Regter Marlene Tommasi het die aansoek op grond van rule nisi (’n bevel wat in werking sal bly tensy die teendeel bewys kan word) toegestaan.
“Die respondent(e) moet grondige bewyse lewer, indien enige, voor of op 12 September 2022 waarom die bevel nie gepas is nie.
“Die hofbevel sal met onmiddellike effek as tussentydse bevele in werking tree, hangende die finale uitslag van hierdie aansoek,” lui die bevel.
Volgens Lee se verklaring was die doel van die aansoek nie om die staking te verbied nie, maar die oortreding van die stakingsreëls hok te slaan.
Buiten vir die werknemers is die Nasionale Mynwerkersunie (MUN), die arbeidskommissaris en die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie as respondente gelys.
STAKING
Whale Rock en sy werknemers, wat deur MUN verteenwoordig word, kon nie op salarisverhoging ooreenkom nie. Die partye het ooreengekom op gedetailleerde stakingsreëls en die staking het op 21 Julie begin.
Whale Rock het aangevoer dat die stakende werknemers dié reëls oortree.
“Ten spyte van bevestiging deur beide MUN en sy regspan dat die stakende werknemers opdrag gegee sal word om met hul onwettige optrede op te hou, het die stakende werknemers en hul verteenwoordigers dit duidelik gemaak dat hulle nie sal stop nie.”
Die stakende werknemers beweer dat Whale Rock ook nie by die reëls gehou het nie en dit het glo aanleiding tot hul optrede gegee.
“Die stakende werknemers en hul verteenwoordigers is onder die indruk dat die applikant [Whale Rock] die stakingsreëls oortree het deur nuwe werknemers in diens te neem. As sodanig het hulle besluit om die reg in eie hande te neem.”
HOFBEVEL
Volgens Tommasi se hofbevel word die stakende werknemers verbied om niestakende werknemers en kontrakteurs by die sementfabriek te intimideer, dreig, teister of te boelie.
Stakende werknemers word verder verbied om die aktiwiteite of beweging van individue op die perseel te beperk of te belemmer. Dit sluit in individue se voertuie wat die perseel betree of verlaat.
Die tussentydse interdik weerhou die stakende werknemers om enige in- of uitgang te blokkeer of te verhinder.
KOSTEVERLIES
Volgens Lee het die oortreding van die stakingsreëls veroorsaak dat die maatskappy sy bedrywighede moes staak.
Lee voer aan dat Whale Rock sedert die begin van die staking meer as N$14 miljoen verloor het.
Die aan- en afsit van die oond het sowat N$1,5 miljoen beloop en die feit dat hulle nie sement by hul kliente kan kry nie, het vanaf 23 tot 27 Julie die maatskappy sowat N$6 miljoen gekos.
“Hierdie bedrag styg daagliks teen ’n koers van N$1,2 miljoen.”
Volgens Lee se verklaring vervoer die maatskappy groot hoeveelhede steenkool vanaf Botswana na China, deur Walvisbaai en die vervoer van sowat 900 ton steenkool in Julie na Walvisbaai is verhinder en het die maatskappy sowat N$250 000 gekos.
Die vrag wat in Walvisbaai wag, kos die maatskappy ’n verdere N$6,2 miljoen. Bykomend hiertoe kan die maatskappy ook kliënte en markaandeel verloor.
“Hierdie skade, sou dit gebeur, sal byna onmoontlik wees om te kwantifiseer en sal waarskynlik onomkeerbaar wees.”
POLISIE
Volgens die hofbevel moet die polisie, met onmiddelike effek, verseker dat die stakende werknemers by die stakingsreëls hou.
Hulle word beveel om in te tree indien die stakende werknemers nie die hofbevel gehoorsaam nie.
Die polisie was tot dusver nie by die staking betrokke nie.
“Die polisie het tot dusver geweier om in te gryp en die werknemers by die ingang en uitgange na die terrein te verwyder. Die polisiebeamptes het ons meegedeel dat hulle dit as ’n interne aangeleentheid beskou, en hulle weet nie hoe om die situasie te hanteer nie,” lui Lee se verklaring.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie