Basterwette is 'ongeldig'

Uitspraak in twis oor kapteinskap
Die regter het in sy uitspraak gesê die voorvaderlike wette is al sedert Namibië se onafhanklikwording nietig.
Augetto Graig
Regter Orben Sibeya het op 11 Mei in die hoërhof uitspraak gelewer in die hofstryd om die Basterkapteinskap waarin hy in die verkose kaptein, Jacky Britz, se guns beslis het. Die regter het egter ook in sy uitspraak gesê die voorvaderlike wette waarvolgens die verkiesing verlede jaar gehou is - en waarop die Bastergemeente sedert 1872 steun – is ongeldig.

Sibeya sê hierdie wette is al sedert onafhanklikwording nietig, en het hooggeregshof se uitspraak in die 1996-saak van die Rehoboth Bastergemeente (RBG) teen die Namibiese regering aangehaal. In die betrokke uitspraak het die hooggeregshof uitdruklik gesê die voorvaderlike wette van die Bastergemeente moet volgens skedule agt van die Namibiese Grondwet herroep word, sê die regter.

Volgens Sibeya beteken dit dat die voorvaderlike wette glad nie meer van krag is nie en dat enige aksie wat op die wette gebaseer is, ook nietig verklaar word. Dit sou ook die verkiesing insluit. Nietemin het Sibeya gefokus op die aansoek wat gebring is deur Rynault van Wyk, ’n onsuksesvolle kandidaat in die kapteinsverkiesing, om die verkiesingsuitslae tersyde te stel. Hierdie aansoek is van die hand gewys en Van Wyk moet die regskoste dra. Die saak is van die hofrol geskrap.

“As die voorvaderlike wette nie van toepassing is nie, is die verkiesing ’n klug,” sê Van Wyk. “Dan is Britz ook nie kaptein nie. Uiteindelik geld dit vir albei, so daar was geen verkiesing nie en dit was ’n nuttelose oefening,” voeg hy by. Hy sê hy wik en weeg nog of hy teen die uitspraak moet appelleer.

“Die wette is al wat ons met die verlede verbind. Dit identifiseer ons as Basters, net soos al die ander taalgroepe hulle reëls het. Wat ons betref, bestaan die wette en kan dit nie herroep word nie,” sê hy. Van Wyk hou vol dat die voorvaderlike wette saam met Namibië se onafhanklikheid oorleef het. Volgens hom was dit ’n ander wet (die Rehoboth Selfregeringswet no. 56) van 1976 wat herroep is en hy sê hulle gaan dit ‘n “proefsaak” maak. “Dus het Rehoboth nie ’n kaptein nie en staan nog onder sy voorvaderlike wette,” sê Van Wyk.

Navrae wat aan kaptein Jacky Britz gerig is, was teen druktyd steeds onbeantwoord en pogings om hom om kommentaar te nader was onsuksesvol, behalwe vir ‘n kort boodskap waarin hy gesê het hy is uitstedig en sal met sy terugkoms laat weet.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!